Moedertaal almal se reg
2012-01-21 13:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die stryd om veeltaligheid in Suid-Afrika is nie net Afrikaanssprekendes se stryd nie.
Mnr. Cerneels Lourens, die prokureur van Brits wat die regering deur ’n hofbevel gedwing het om teen 15 Maart ’n Taalwet op ons wetboeke te hê, het die afgelope week in die parlement gesê hy baklei nie net vir Afrikaans nie. Hy baklei ook namens ander landsburgers vir die behoud en ontwikkeling van Afrikatale.
“Die reg om ons moedertaal te praat is nie net my stryd nie. Dis óns stryd. Ek het ’n reg om Afrikaans op ’n hoër vlak te kan praat. Nie net by die huis, of by ’n partytjie of ’n kunstefees nie.”
Net só, het Lourens aangevoer, het sprekers van Afrikatale ’n reg om inligting van die regering in sy of haar moedertaal te ontvang. Om in jou moedertaal onderrig te word is bemagtigend. Om jou moedertaal te kan praat is bevrydend.
Pres. Jacob Zuma is ’n sprekende voorbeeld.
Zuma word gereeld gekritiseer vir sy oninspirerende toesprake.
Dit word dikwels gesê die president kan nie besiel soos sy voorganger oudpres. Thabo Mbeki, of selfs die geskorste ANC-jeugleier, mnr. Julius Malema, nie.
Wát gesê word, is uiteraard belangrik, dog, die beste boodskap onder die son is gedoem as dit nie oortuigend aangebied word nie.
Diegene wat Zuma al voor sy tuisskare in KwaZulu-Natal beleef het, of in die parlement wanneer hy op ’n vraag van ’n IVP-LP reageer, weet Zuma is ’n ander mens wanneer hy in Zoeloe praat.
Die metamorfose wanneer die man van Nkandla sy stem dik maak in sy moedertaal, is duiselingwekkend.
Dit is ’n vonk in ’n kruitvat. Skielik is daar ’n sinergie tussen sy liggaamstaal, stemtoon en gesigsuitdrukkings.
Die luisteraars hang aan sy lippe.
Die boodskap gaan nie verlore nie, want hy handhaaf homself, pleks van ’n Engelse toespraak onsamehangend voor te lees.
Mens sal hoop dat Zuma uit eie ervaring groot erns sal hê met die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale, wat tans voor die parlement dien. Dié wet sal eindelik bepaal hoe en in watter amptelike tale die nasionale regering en openbare ondernemings met ons kommunikeer.
Kampvegters vir Afrikaans beskuldig die ANC gereeld dat hy die taal verwaarloos.
Maar die ANC verwaarloos ál tien ons inheemse landstale. Net so het sprekers van Afrikatale waarskynlik ’n groot aandeel in die agteruitgang van hul moedertaal omdat hulle Engels vooropstel.
Die wetgewende proses wat nou in die parlement ontvou, is die ideale geleentheid vir alle Suid-Afrikaners om by die stryd en behoud van hul tale betrokke te raak.