SA sport verdien beter
2012-01-21 13:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Krieket Suid-Afrika se administrateurs het in hul getuienis voor regter Chris Nicholson, wat die ondersoek na wanbestuur in Krieket Suid-Afrika se geldsake lei, veel meer geopenbaar as bloot die moontlike onregmatige verryking van amptenare deur die uitbetaling van bonusse wat nie openbaar gemaak of verklaar is nie.
Die ondersoek, wat verlede jaar in November begin het en waarskynlik nog ’n hele paar weke sal voortduur, het ’n laksheid en onverskilligheid onder bestuursleiers in die nasionale liggaam van die spel na vore gebring wat herinner aan die skandaal wat Atletiek Suid-Afrika in 2010 in duie laat stort het.
As dit nie was dat dié ondersoek erns het om beweringe van wanbestuur in die KSA se geldsake bloot te lê nie, sou regter Nicholson die getuienis van ’n disfunksionele KSA selfs amusant kon vind.
Dis goed en reg dat voormalige en dienende KSA-amptenare die geleentheid gebruik om eerlik te getuig. Maar, soos adv.?Norman Arendse se ontboeseming van sy stram verhouding in sy termyn as krieketpresident met KSA se uitvoerende hoof, mnr. Gerald Mojala, is die geleentheid ook gebruik om ou byltjies te slyp en die man te speel eerder as die bal.
Sport is nie net ’n nasionale bate nie; dit is ook groot geld. Daarom is dit skokkend, soos destyds met ASA, dat topamptenare poste beklee vir eie aansien en gewin; sonder om ’n verskil te maak as bestuursleiers.
Suid-Afrikaanse sport – rugby en sokker inkluis – is op provinsiale en nasionale vlak groter deursigtigheid en aanspreeklikheid aan die publiek verskuldig.
Sportliggame is nie die koninkryke van individue nie, al word dit so toegeëien.