Só onderskat ANC kiesers
2012-02-04 14:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die ANC moenie verbaas wees oor die teenstand by openbare verhore oor die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting nie.
’n Ton versiersuiker gaan nie verbloem waarmee die regerende party besig is nie.
Gewone mense is ook nie so naïef soos die ANC hoop nie.
Een spreker by die verhore in Gugulethu (terloops, een van die min ANC-gesinde woonbuurte in die Wes-Kaap) het reguit vir ANC-LP’s gesê: “Ons vertrou julle nie, julle jok vir ons.” ’n Ander spreker het mnr. Raseriti Tau, die ANC-LP aan die stuur van die verhore, Dinsdag daarvan beskuldig dat die ANC kom luister na gewone mense se bydraes oor die wet en daarna omdraai en in elk geval doen wat hulle wil, ongeag die openbare teenstand.
Uiteraard is nie almal teen die voorgenome wet gekant nie, maar daar is genoeg teenstand en die ANC moet die besware ter harte neem.
Die Gugulethu-voorbeelde kan beskou word as ’n barometer van hoe die ANC toenemend uit voeling raak met sy ondersteuners. Gewone mense wat in ellende leef en nie politieke vriende in hoë plekke het om aan hulle tenders uit te deel nie, vertrou die ANC-regering al hoe minder.
Hulle sien die blink, peperduur horlosies aan die vet katte se dik polse. Hulle hoor van korrupte staatsamptenare oor die televisie- en radionuus en diegene wat ’n koerant kan bekostig, lees daarvan.
Dit is danksy ’n vry media dat dié inligting kiesers bereik.
Kiesers sien in die voorgenome wet ’n bedreiging vir mediavryheid en fluitjieblasers. Die dae toe die NP-regering apartheid in stand gehou het deur die vry vloei van inligting te verhinder en die pers te muilband is nog vars in die geheue.
Hulle is met reg bekommerd dat korrupte ANC-amptenare en politici die wet gaan gebruik om hul skelmstreke toe te smeer, selfs al ís daar swaar strawwe vir amptenare wat die wet daarvoor misbruik.
Net so hou die ANC hom doof vir die koor wat die afgelope week by die Persvryheidskommissie se verhore in Johannesburg gewaarsku het teen sy planne om die gedrukte media te reguleer.
Van adv. Pansy Tlakula, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, tot adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, meen selfregulering is die beste.
“Mediahuise oor die hele Afrika heen het toegemaak omdat hulle deur die staat gereguleer is en die staat nie gehou het van wat hulle skryf nie,” het Tlakula gesê.
Die ANC wil hê koerante en tydskrifte moet verantwoording doen aan ’n mediatribunaal wat deur die parlement aangestel word. Maar die ANC sal sy meerderheid in die parlement gebruik om ANC-kaders in die tribunaal aan te stel.
Die gedrukte media sal dus nie aan ’n “onafhanklike” media-tribunaal verantwoording doen soos mnr. Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, aanvoer nie, maar aan ’n ANC-regering wat nie hou van wat hy in die gedrukte media lees nie.