Staatsrede
2010-02-13 15:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Onmenslikheid sou deel van elke persoonlikheid moes wees wat nie ten minste ’n mate van meelewing of deernis met pres. Jacob Zuma gehad het met die lewering van sy staatsrede nie.
Hy beleef ’n persoonlike laagtepunt, en enigeen wat hom in die Nasionale Vergadering dopgehou het, kon daardie tragiese waarheid sien.
Sy opponente en sy ondersteuners weet die jag is oop op hom.
Vertrouelinge draai teen hom, en die twee dae verlof wat hy verlede week gehad het, was doodgewoon om tot verhaal te kom, asook om al die ou ANC-kamerade te woord te staan wat hom die kop wou was.
ANC-LP’s het sterk bewoorde e-posse aan die president gestuur en die gevoel dat hy die land in die steek gelaat het, word agter die fasade van ANC-eenheid gedeel en sterk verwoord.
Dit gaan sleg met die president.
’n Mens se simpatie is egter beperk, en word spesifiek daardeur ingeperk dat die president die argitek van sy eie ondergang is. Sy persoonlike gedrag, ’n swak toespraak en powere lewering van daardie toespraak dra by tot ’n indruk dat hy nie in beheer is van homself nie.
’n Staatshoof beklee ’n hoë amp met die hoogste verantwoordelikheid en verwagtinge. Hieraan het Zuma en sy toespraak nie voldoen nie.
Verlede week het ons kommentaar op sy persoonlike gedrag gelewer, en die gebrekkige lewering van sy toespraak is vir elkeen sigbaar. Kom ons kyk dus na die inhoud van die staatsrede.
Die rol van die staatsrede is die staatshoof se bestekopname van die politieke klimaat in die land, die stel van die jaar se regeringsmikpunte en die mate waartoe die vorige staatsrede se mikpunte bereik is.
Die mooi versoenende aanvang van vanjaar se staatsrede kon nie die gebrek aan inhoud wegsteek nie. Daar is bykans geen meetbare uitkomste nie, en die bestekopname van verlede jaar se werkskeppingsbeloftes was hoogs ongeloofwaardig, selfs kreatief.
Dit is die allergrootste onsin vir die presidensie om te beweer die besonderhede sal eers oor die volgende ses maande in die departementele begrotingsposte duidelik word. Natuurlik sal dit – maar die rol van die staatsrede is om solank die belangrikste meetbare merkers in die grond te slaan.
Dit het nie gebeur nie, en daarom het die staatsrede misluk.
As die staatshoof homself uit sy huidige politieke gat wil grawe, moet hy die politiek minder as ’n teater bedryf.
Hy moet toon dat hy planmatig in beheer is van die regering wat hy veronderstel is om te lei.