Stakers moet reg op lewe respekteer
2010-08-21 18:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die optrede van sommige stakende onderwysers en gesondheidswerkers is niks anders as misdadig nie.
Kyk, staatsdienswerkers het ’n demokratiese reg om aan wettige, vreedsame stakings deel te neem as hulle voel hul griewe word nie by die onderhandelingstafel opgelos nie.
Stakers het egter geen reg om ander mense op gewelddadige wyse van húl regte te ontneem nie. Daar is veral twee regte hier ter sprake: siek mense se reg op lewensreddende sorg en kinders se reg op opvoeding.
Om te verseker dat ons siekes en kinders hierdie basiese regte in ’n veilige omgewing kan geniet, moet onderwysers en mediese personeel wat nié wil staak nie, gelos word om hul werk te doen. Skole en hospitale se gebeurlikheidsplanne mag nie ontwrig word nie.
’n Mens moet egter ’n hart van klip hê om nie te simpatiseer met hardwerkende onderwysers en verpleegsters wat ná lang jare diens steeds karige salarisse verdien nie. Dit is skandalig.
En dit is ongetwyfeld so dat die regering in sy onderhandelinge met vakbonde allermins ’n morele gesagsposisie het. Die vermorsing van belastingbetalers se geld op weeldemotors vir ministers en burgemeesters, duur hotelle, partytjies en miljoene rande vir sokkerkaartjies spreek van ’n kripvreter-kultuur op alle vlakke van regering. Dit, tesame met die groot kloof tussen ryk en arm in hierdie land, kan net die harte van stakers verhard.
Maar deur hul gewelddadigheid en minagting vir die regte van die weerloses onder ons verloor die stakers die simpatie van die breë publiek – en loop hulle die gevaar dat stakings hardhandig onderdruk kan word.
Die staatsdiensvakbonde se eis vir verhogings van 8,6% en ’n behuisingsubsidie van R1 000 is nie onredelik nie. Maar die harde werklikheid is dat die regering beswaarlik meer as sy teenaanbod van 7% en ’n behuisingsubsidie van R700 kan bekostig. Daar is klaarblyklik net nie meer geld nie. En 7% is in ooreenstemming met verhogings in dele van die private sektor vanjaar – en selfs hoër as in baie dele van die private sektor.
’n Oplossing moet gevind word. Dit is in die beste belang van die hele land dat die regering en die stakers so gou moontlik ’n manier vind om die kloof tussen hulle te oorbrug.
Dienslewering kan verder in duie stort onder langdurige druk van hierdie aard. En die matriekeksamen is om die draai. Verlede jaar se slaagsyfer van 60,7% gaan beslis nie verbeter as sake só aangaan nie.
Anargistiese optrede deur vakbonde is egter geen oplossing nie. Dit kan net ons samelewing verdeel en die land ekonomies en polities onstabiel maak.