Staking nou ’n groter magstryd
2010-08-28 12:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit lyk al hoe meer asof die huidige staking in die staatsdiens kan ontaard in die soort magstryd wat die regerende alliansie tussen die ANC en sy linkse vennote in die SAKP en Cosatu kan breek.
In Suid-Afrika het ons al geleer om met wilde politieke uitsprake saam te leef, binne en buite die regerende alliansie. Telkens ná so ’n botsing vind daar weer ’n toenadering plaas, maar nooit is die binding weer so heg as wat dit voor die botsing was nie.
Miskien is dit weer hierdie keer so, maar mens kry die gevoel die hakke word hierdie keer dieper ingeslaan, die beledigings is skeller en die verskil in sowel belange as ideologie is dieper.
Sekerlik sal daar diegene wees wat in die ideologiese botsings van gister en eergister verstok en verstar geraak het, en sal meen enige regering wat sy kommuniste afskud, is per definisie ’n beter regering. Is kommuniste dan nie ’n godlose groep nie?
Diesulkes moet dalk onthou taal is lukraak, ’n woord is maar net ’n klank waaraan die gemeenskap ’n konvensionele betekenis gee, en daardie konvensie kan verander na gelang van omstandighede.
Enigeen wat “kommunis” (of “liberalis”!) vandag nog as skelwoord vir boosheid sien, moet werklik wakker skrik.
Binne die regerende alliansie is dit dikwels die vakbonde en die kommuniste wat hul stem dik maak teen die nasionalisties-gedrewe rassisme van ’n Julius Malema en die selfverryking wat vir baie mense reeds met die ANC sinoniem geword het.
Soveel van die beste breine in die regering en die staatsdiens kom uit die vakbonde en die SAKP dat mens wonder hoeveel oordeel en kundigheid sal daarsonder in die ANC en (weens die kanker van kaderontplooiing) die boonste vlakke van die staatsdiens oorbly as die alliansie skeur.
Met al bogenoemde in ag geneem, is dit des te verstommender hoe Cosatu en die SAKP betreffende die huidige staking optree.
Terwyl arm mense in staatshospitale sterf en kinders in te veel skole nie onderrig kry nie, stook die SAKP en Cosatu die vure van die boefagtige stakers op skreiende wyse.
Van die voorste ekonome in die land is in Cosatu en die SAKP te vinde, so hulle weet hoe hoog bo die inflasiekoers hul eise is en hoe die regering toekomstige generasies in skuld sal dompel as hulle daartoe toestem.
Die regering is korrek om vas te staan, en die staking is deel van ’n ingewikkelde magspel wat groot gevolge vir ons almal kan inhou.
- Rapport