Vakbonde gooi skoliere vir wolwe
2012-01-07 13:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Net twee uit elke vyf leerlinge wat 12 jaar gelede met skool begin het, het verlede jaar hul nasionale senior sertifikaat-eksamen geslaag en skaars een uit elke tien van dié groep het eindelik goed genoeg geslaag om universiteit toe te kan gaan.
Dié statistieke plaas die nasionale slaagsyfer van net oor die 70% in gans ’n ander lig.
Wie weet waar die ander 60% van leerlinge is wat in 2000 die eerste keer skool toe is en nooit hul skoolopleiding voltooi het nie. Hulle is vandag waarskynlik deel van die land se werkloosheidstatistieke.
Voorts is diegene wat pas matriek geslaag het en nie verder studeer nie, se kanse op heeltydse werk ook skraal. Een werwingsmaatskappy reken net 17% van hulle sal binne 12 maande ’n werk kry en net 40% binne die volgende vyf jaar.
Die kruks van die saak is hopeloos te min leerlinge voltooi hul skoolloopbaan. Diegene wat wel matriek slaag, slaag nie in sleutelvakke soos wiskunde en wetenskap nie en kan hulle nie bekwaam in die skaars vaardighede waaraan die land ’n nypende tekort het nie.
Ons regering weet dit lankal en mnr. Trevor Manuel se nasionale beplanningskommissie het dit vroeër vanjaar weer erken: Ons onderwysstelsel laat veral arm, swart mense in die steek. In die kommissie se ontwikkelingsplan word geraam sowat 80% van ons skole onderpresteer.
Verskeie voorstelle word aan die hand gedoen, maar wat die kommissie nié sê nie, is dat die meerderheid van die swak staatskole se onderwysers lede van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) is.
Sadou verteenwoordig sowat 260 000 onderwysers en is een van die grootste vakbonde in Cosatu – ’n ANC-alliansievennoot.
Dit is Sadou wat dit bykans onmoontlik maak om skoolhoofde en onderwysers af te dank wat hul plig versuim.
En dan wil die regering aansporingsbonusse vir die onderwysers by voormalige model C-skole wat wél presteer, strenger reguleer.
Dit deug nie.
Al die planne wat die regering opstel en miljarde rande wat in onderwys gepomp word – meer as in enige ander land in Afrika – sal geen vrug dra nie totdat daar die politieke wil is om die vakbonde in die onderwys te beheer. Hulle het ons onderwysstelsel in ’n wurggreep en die ANC is om politieke redes nie bereid om enigiets daaraan te doen nie.
Intussen word duisende skoolverlaters jaar ná jaar vir die wolwe gegooi omdat die ANC bang is om ’n alliansie-vennoot van hom te vervreem.
Zuma het verlede jaar in ’n onderhoud aan Media24 gesê onderwysers se reg om aan vakbonde te behoort moet gebalanseer word met leerlinge se reg op behoorlike onderrig.
Hy het dié vraagstuk as ’n “tandkry-probleem” in ’n “jong demokrasie” beskryf.
Dié balanseertoertjie ruïneer duisende jong mense se kans op ’n goeie lewe.