Vredesheim vra nou eerlike dade
2010-01-30 16:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit moet soms eers nag word om die sterre op hul helderste te kan sien. Die FW de Klerk-stigting se beraad op die Vredesheim-landgoed, waar openlik en reguit oor die stand van Afrikaans gepraat is, is ’n welkome ligstraal nadat die sogenaamde taaldebat die laaste paar maande die onderskeie rolspelers weerskante van die diskoers se nekhare laat kriewel het.
Ontleed ’n mens die Vredesheim-gespreksgenote se kommentaar en voorstelle, is dit opmerklik dat daar tog een belangrike verskuiwing in denke blyk te wees: meertaligheid as ankerpunt. Of dit nou gegiet word in die vorm van parallelmedium-onderrig, tolk-opsie of tweetaligheid.
Die res van die taalinventaris, wat deur die gespreksgenote opgestel is, is maar taamlik generies. Niks nuuts, niks vreemds.
Die haastige gebabbel op Vredesheim sal egter nou in tasbare dade omgesit moet word. Daar behoort nie plek te wees vir taalkonkelaars of taalfopdossers met verskuilde en geheime agendas nie. Die oop gesprek oor Afrikaans behoort presies dít te wees – OOP. En hóú dit oop.
Hier kan die woorde van die gevierde Britse Baptiste-priester Charles Spurgeon gerus onthou word. Spurgeon sê vissermanne wat nie vis kan vang nie en saaiers wat nie kan saai nie, moet van die waters en akkers wegbly.
So moet taalmanne wat hink en pink maar vervang word. Nuwe pasaangeërs is nodig. Eerlike onderhandelaars met ewe eerlike motiewe.
Want elkeen van ons Afrikaanses – of ons langs die swembad in Rondebosch of in die kombuis in Ravensmead werskaf – dink, luister, droom en kommunikeer in ons eie, sonderlinge taal.
Ons taal is veel meer as die woorde wat by ons mond uitkom. Dis ’n uiting van ons kultuur, ervarings, ons waardes en norme.
Nes g’n voorgeskrewe waarde of reëls dus aan Afrikaans geheg kan word nie, kan die voortbestaan en florering daarvan ook nie afhang van die pogings van ’n redelik klein en homogene groep om die taal te “bewaar” nie.
Wyl die afgelope sowat 15 jaar al om die hawerklap openbare twis oor die sogenaamde “behoud van Afrikaans” uitbreek – waar “taalbulle” daarvan beskuldig word dat hulle die “taalstryd” voer ter wille van wit eksklusiwiteit – is daar ’n falanks Suid-Afrikaners wat dag ná dag, dikwels salig onbewus van én ongeïnteresseerd in dié “stryd”, voortgaan om te dink, droom, bid, skep en hoop in Afrikaans.
En dis meestal in alternatiewe ruimtes – ver verwyderd van stugge binnekamers, rektorskantore en raadsale – waar die taal floreer.