Zuma moet sweep klap oor eiebelang
2010-01-23 19:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die jaarlikse bosberaad van die kabinet het gekom en gegaan, maar as al die planne met dienslewering wil werk, moet pres. Jacob Zuma die sweep klap oor die ego’s wat bieker en eintlik viool speel terwyl die land brand.
Die spotprent hiernaas bied ’n ligte blik op ’n ernstige probleem, want die ANC raak intern al hoe meer soos ’n piesangrepubliek, met persoonlike opstootjies, eiebelang en die soeke na hoogs betalende en invloedryke posisies wat alte gereeld die nuus oorheers of die koers van die regerende party bepaal.
Voorbeelde is talryk. Verlede jaar het die minister van huisvesting, mnr. Tokyo Sexwale, in ’n kattegeveg met sy voorganger, me. Lindiwe Sisulu (nou minister van verdediging), betrokke geraak ná ’n paar tipies breedsprakige uitsprake van Sexwale oor die peil van staatsbehuising in die tyd toe Sisulu minister van behuising was.
Nadat nydighede ’n ruk lank heen en weer geslinger is, is die twee tot orde geroep. Dit was ’n vermaaklike en woordryke stryd tussen twee van die land se mees formidabele ego’s, maar het dit ’n snars verander aan die standaard van behuising? Nog nie.
Voorts is daar die stryd oor die nasionalisering van myne tussen mnre. Julius Malema en Jeremy Cronin. Dis weliswaar ’n nodige debatskwessie, maar die lae peil daarvan beteken dit ontaard in ’n moddergooiery wat Malema in eiebelang gebruik. Het dit die debat oor nasionalisering laat vorder? Nog nie.
Dan praat ’n mens nie eens van mnr. Fikile Mbalula, adjunkminister van polisie, se poging om mnr. Gwede Mantashe as sekretaris-generaal van die ANC te ontsetel nie; ’n poging waarmee einste Sexwale se onlangse verslag teen die SAKP (gerieflik aan die media gelek die afgelope week) baie sterk verband hou.
Die volgende ANC-konferensie is nog byna vier jaar in die toekoms, maar dis waaraan mense soos Mbalula en Sexwale te veel van hul tyd wy – posisionering in eiebelang.
Hierdie gedrag setel in twee huidige kenmerke van die ANC. Eerstens die geloof (soos verwoord deur Zuma) dat “die party sal regeer tot Jesus terugkeer”, wat die tipies nasionalistiese onvermoë om tussen staat en party te onderskei ten grondslag lê.
Tweedens, die presiese ideologielose populisme wat Zuma self teen oudpres. Thabo Mbeki gebruik het, en wat maklik omsit in die bevordering van eiebelang om topposisies te verkry.
In ’n sin maai Zuma dus die onkruid wat hy gesaai het. Nogtans sal hy hierdie neiging tot eiebelang moet hokslaan, anders sal al die kabinet se mooiste planne hulle daarteen te pletter loop.