Breedekloof is meer as 'n wynroete
2011-12-10 15:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Breedekloof is bekend vir sy majestueuese berge, asemrowende fynbos en sprankelende riviere en is die ideale plek om X na dié jaar se gewoel X van nader te leer ken.
Die gebied is in 1716 deur Pieter Du Toit ontdek en is ’n gewilde vakansiebestemming.
Boonop lewer die gebied ook van Suid-Afrika se beste witwyne uit die vrugbare grond. As jy dus lus is vir heelwat pret, oorweeg ’n besoek aan die Breedekloof vir jou somervakansie.
Deel van die ondervinding is om tot daar te reis, en die mees avontuurlike roete is om die N1 te verlaat en in Wellington se rigting te ry waar jy die asemrowende Bainskloofpas oorsteek, wat jou tot in die Breedekloof bring.
Daar aangekom wag aktiwiteite wat in elke smaak sal val. Of jy nou avontuurlustig of rustig is, die Breedekloof beloof ’n ongelooflike uitstappie aan besoekers. Die omgewing en natuurskoon bied staproetes in seker een van die mooiste gebiede van Suid-Afrika.
Die Molenaars-, Elandsjacht- en Smalblaarriviere bied aan forelhengelaars van die beste hengelgebiede in die land.
Vir bergfiets-entoesiaste is daar verskeie roetes om van te kies of gaan perdry deur die wingerde. Vir diegene wat net wil ontspan, is ’n boek langs ’n stroompie net die beste manier om die natuurskoon eerstehands in te drink.
Die Breedekloof is ook bekend vir ’n groot verskeidenheid inheemse voëlspesies en is daarom baie gewild onder voëlkykers.
Verblyf behoort nie hoofbrekens te veroorsaak nie en wissel van kampeer- en woonwa-terreine langs riviere tot selfhelp-chalets, B&Bs en weelderige gastehuise.
’n Gedeelte van die Breedekloof is bekend as Goudini X ’n Khoi-San woord wat “geurige heuning” beteken. Die gewilde Goudini Spa, met sy reuse glyplank en helende waters, is ideaal vir gesellige mense. As jy iets stiller verkies, kan jy in ’n afgeleë berghut bly en die lewe se eenvoudige genot herontdek.
Die opstal, Jason’s Hill, en die Bergsigwynmakerye het restaurante wat ontbyt en middagete bedien, terwyl Boshimela, met hul speelterrein vir kinders en tafels onder die eikebome, perfek is vir families. Een van die gewildste plekke vir aandete is Tin House-restaurant, geleë langs die Sutherland House-gastehuis in Rawsonville.
Die streek is in die eerste plek ’n wynroete wat spog met 27 wynmakerye van die Rawsonville-, Slanghoek-, Goudini- en Breederivier-gebiede wat wissel van boetiek-wynmakerye wat deur families bedryf word X soos Kirabo X tot groter produsent-gedrewe wynmakerye soos Du Toitskloof wat vir ’n rekord vyfde keer as Suid-Afrika se Beste Waarde Wynmaker van die Jaar aangewys is.
Breedekloof is veral bekend vir sy heerlike soetwyne en is tereg trots op sy Soetes, wat steeds tussen die bestes in die land beskou word. Die Badsberg Badslese 2009, ’n mengsel van 90% Chenin Blanc en 10% Hanepoot, is inderwaarheid as Suid-Afrika se Beste Witwyn bekroon deur die invloedryke John Platter Suid-Afrikaanse Wyngids 2012.
Die wynmakers gebruik egter ook hul talente om wêreldklas wit- en rooiwyne te produseer, insluitend sjampanje-styl wyne wat absoluut perfek is vir ’n somervakansie. Verskeie ander Breedekloof wynmakerye het in 2011 uitgeblink, insluitend Du Preez, Mountain Ridge en Slanghoek wat goud by Veritas 2011 gewen het. En hierdie is net ’n paar van die uitstekende opsies om die Kerskous mee te vul.
Wanneer jy die streek besoek, loer gerus in by die Breedekloof Wyn- en Toerisme Inligtingskantoor net buite Rawsonville.
Dis nie net dié plek om jou kaarte en ander brokkies nuttige inligting te kry nie, maar is ook ’n wynproelokaal wat sewe dae ’n week oop is.

Die Molenaarsrivier, een van die riviere wat deur Rawsonville vloei. | Foto: Foto24
Goed om te weet
* Aanbevole roete: Die Breedekloof is sowat ’n uur se ry van Kaapstad, langs die bekende Roete 62 (wynroete). Neem die N1 vanaf Kaapstad in die rigting van Paarl en Worcester, deur die Hugenote-tonnel.
Na die tonnel se uitgang begin die pragtige Breedekloof. Draai regs na Rawsonville op die R101 of alternatiewelik kan jy deur die Du Toitskloofpas ry.
* Verblyfopsies: Die Breedekloof het ’n groot verskeidenheid verblyfopsies in B&B, selfsorg en selfs kampeer- en karavaan-fasiliteite. Baie hiervan is op die wynplase geleë, in die berge of langs die Breederivier.
* Die Breedekloof is omgewingsbewus en was die eerste bewaringsinisiatief wat in die Wes-Kaap gevorm is. Die Breedekloof het vennootskappe met organisasies soos Cape Nature, LandCare en Biodiversity Wine Initiative gestig.
* Aangesien die Wes-Kaap reën in die winter kry, is die beste tyd van die jaar om dié gebied te besoek, tussen September en April.