Hotel Izulu, plek van vrede en rus
2011-12-10 15:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit is ’n sonnige Sondagmiddag toe ek voor die Hotel Izulu parkeer. Die
vyf-ster boetiek- hotel is in Ballito aan die noord-kus van
KwaZulu-Natal geleë en is bekend vir sy luuksheid en rustigheid.
Wat my onmiddellik opval, is die vriendelike en gasvrye personeel asook die huislike atmosfeer wat my knus omvou. Hier kan ek my siel en gedagtes verseker tot bedaring bring. Dit alles dra by tot ’n onvergeetlike ervaring van ontspanning, rus en vrede.
Ek slaap in die Zebra-suite X een van van die vier gemoedstemming suites van die hotel. Die dekorstukke in die kamer is noukeurig gekies en gee ’n gevoel van die wildlewe in Afrika en beeld die natuurskoon van dié provinsie uit sonder die normale oordadige Afrika-tema.
Ek maak my tuis onder ’n wit sonsambreel en bestel ystee. Die swembad se water blink aanloklik in die middagson en daag my uit om aan sy koggelgeluid gehoor te gee.
En ek besluit om maar my in my swembroek te begewe en die koeltes van die water oor my te laat spoel.
Verfris gaan lê ek op een van die hangmatte en verkyk my aan die prentjies wat die wolke bo my verf.
Ek moes vir ’n rukkie ingedut het, want die son het al water getrek. Ek word versigtig deur een van die kelnerinne wakker gemaak en sy vra my of ek die aand by die hotel se Gigi’s Brasserie aandete gaan geniet.
Maar voor ek aan aandete kan dink, roep die groot ovaalbad in my kamer my en ek lê soos ’n regte lady of leisure in die borrels.
Ek is vooraf gesê dat Gigi’s bekend is vir sy uitstekende kookkuns, maar die restaurant in sy geheel laat my stom.
Gigi’s bied ’n palet van gesofistikeerde swart, wit en silwer wat deur pienk spatsels onderbreek word om ’n prettige, ontspanne atmosfeer te skep.
Die fokuspunt van die vertrek is ’n kristalkandelaar wat lig werp op die pragtig Oscar Wilde-plakpapiermuur met inspirerende, gebosseleerde bewoording.
Gigi’s Brasserie kyk uit op welige, goed versorgde tuine en die vollengte vensters laat die lig in die kamer inspoel. Dit help met die vermindering van elektrisiteit om die restaurant te belig en is ’n ander aspek van die vyf-ster hotel se eko-bewustheid.
Die kos word soos kunswerke voorgesit en ek smul my vingers af aan die heerlike beesfilet met roket-, okkerneut- en gorgonzola-slaai en gebraaide aartappels.
Die spyskaart bied ook ’n groot verskeidenheid, onder andere die hotel se gourmet burgers, Noorweegse salm, parpadelle groentepasta en seekosdisse. Vegetariërs word nie agterweë gelaat nie en daar is ’n groot verskeidenheid disse.
Vir die onder ons wat ’n informele maar intieme ete wil geniet, kan vooraf by The Chef’s Table bespreek. Die unieke “eetkamer” word in die kombuis gedek en die hoofsjef berei disse met groot sukses voor aan gaste wat hulself werklik verdiep in die kombuis-atmosfeer en interaksie met die sjefs, terwyl hulle ook nuwe vaardighede aanleer.
Die ses-sitplek Chef’s Table is versier in wit met ’n pragtige kristalkandelaar bo ’n hoë-glans eetkamertafel en spog met twee groot vensters in die kombuis vir optimale beligting. Dié konsep van ’n eetkamer in die kombuis saam met vriende is ’n wonderlike nuwe ervaring.
Die volgende oggend, na ’n heerlike ontbyt by die Poolside Terrace, gaan ek op ’n toer na die Impilo-skoonheidspa.
Ek word van kroontjie tot toontjie bederf en voel hoe my stywe, oorwerkte spiere ontspan. Die spa bied ’n uitgebreide spyskaart van behandelings wat voldag- en halfdagsessies insluit.
Dit is ook baie gewild vir paartjies of vriendinne wat vir ’n dag wil ontspan en detoksifiseer en bied ’n oase van vrede en rus. Die spa beslaan die hele boonste verdieping en spog met drie ten volle toegeruste, ruim behandelingskamers.
Al die behandelings word deur ’n ten volle opgeleide en ervare terapeut gedoen. Dit is ook ideaal om vir die dag te bespreek en sommer die aand in luuksheid te oornag en aan die heerlike disse wat die hotel se kombuisspan optower, te smul.
Die Hotel Izulu is die ideale plek om die warmte van die Indiese Oseaan en die ongelooflike nabygeleë strande, Groot Vyf-wildreservate en die skouspelagtige natuurskoon asook die geskiedenis en kultuur van die Zulu-koninkryk te geniet.
Dit alles terwyl jy in wêreldklas luuksheid vertroetel en bederf word. Die hotel is op die plek waar Suid-Afrika se ikoniese eerste Mej Wêreld, Penny Coelen-Rey, se huis gestaan het, gebou. En al is jy nie iemand vir die limelight, soos ons Penny nie, sal jy nog steeds ’n onvergeetlike tyd by die Hotel Izulu ervaar.
Want die Hotel Izulu is die ideale bestemming vir ’n ieder en elk. Met die vreedsame milieu wat die hotel bied, is dit perfek om enige KwaZulu-Natal vakansie-avontuur te begin of af te sluit.
Goed om te weet
* Die Hotel Izulu is in Ballito geleë, sowat ’n uur se ry van die King Shaka internasionale lughawe.
* Die GPS-koördinate is: 29° 31´50.00 S en 31° 12´21.43 O
* Met die nuutste oudio-visuele tegnologie is die Hotel Izulu die ideale konferensiesentrum.
* Die Hotel Izulu bied ’n banketsaal wat sowat 150 gaste kan akkommodeer, asook kleiner konferensie-groepe wat U-styl, of klaskamerstyl, verkies.
* Dit is die ideale bestemming om ’n romantiese troue te hou en die wittebroodsuite sal enige paartjie se verblyf onvergeetlik maak. Die hotel sal ook help om fotograwe en foto-geleenthede uit te wys en sal ook ’n pakket wat toegespits is op indivuele voorkeure, saamstel.