Kringe in 'n fynbos-reservaat
2013-01-28 01:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit gebeur nie elke dag dat sy met ’n grootvoet kennis maak nie. Ook nie om die dawerende brul van ’n mannetjiesleeu diep binne haar bors te voel weergalm nie. Dit gebeur nie elke aand dat sy diep-diep in die bos in ’n Khoi-San-hutjie rustig aan die slaap raak met die diereryk op haar voorstoep nie, skryf Rozanne de Jager.
By die Gondwana-wildreservaat net buite Mosselbaai wag ’n baie spesiale naweek op my. Nie net besoek ek ’n private wildreservaat van 11 000 ha nie, maar ook die enigste fynbosreservaat ter wêreld waar die Groot Vyf vrylik rondbeweeg.
Dit voel amper asof ek heilige grond betree.
Ek arriveer op ’n effens bewolkte Vrydagmiddag. My motorsleutels word dadelik afgeneem en ek word versoek om al my besittings saam met my te neem. Vir die res van die naweek sien ek glad nie weer my motor nie.
Die bestuurder verwelkom my met verfrissende ystee en ek word na my hut geneem.
Die Kwena Lodge bestaan uit 14 alleenstaande eenhede.
Die Khoi-San-geïnspireerde hutte met ’n moderne kinkel het almal besonderse uitsigte oor die fynbosnatuurskoon en die Langeberg.
Daar is ’n luikvenster teen die plafon vir sterrekyk, en ’n kleipot-vuurherd om jou warm te hou ná ’n aandwildrit.
Die eenhede is ideaal vir paartjies, maar as jy ’n gesinswegbreek beplan, sal die luukse Bush Villas in al jou behoeftes voorsien, waarvan ’n private sjef sekerlik die hoogtepunt is.
Ek kry ’n paar minute om gemaklike, warm klere aan te trek vir my eerste wildrit. Maar eers word high tea by die hooflodge bedien. Dit is ’n visuele fees van handgemaakte lekkernye en daar is lekker sterk koffie ook. Suid-Afrikaners sal tog liewer ’n beker boeretroos bo ’n koppie flou tee verkies!
Ons veldgids, Forget Ndlovu, kom stel hom aan al die gaste voor. Sy energieke persoonlikheid is aansteeklik en ek weet sommer ’n lekker geselsery kom nog.
Ons is ’n klein gevolg van ses en wag elk sy beurt af vir ’n kombers en ’n poncho wat Forget vaardig om jou vasbind. Beskut teen die koue aandlug maak ek myself op die wildkykvoertuig gemaklik. Forget gesels te lekker met ons en is die ene staaltjies en grappies soos ons die fynbosvlaktes binnery.
Toegevou in ons poncho’s rits ons in Gondwana rond. Ons kom sommer dadelik op ’n trop bergsebras af. ’n Hele paar boksoorte volg, en so ’n halfuur later gewaar Forget die eerste olifant. Sy ervare oog sien die diere al kilometers ver. Vir eers bly ons tjoepstil, en ry nader sodat ek my kan vergaap aan die ou grootvoet se verrimpelde vel, net meters van die voertuig af. Forget skakel die voertuig af en ons sit in stilte en kyk na die bosreus. Nuuskierig skoffel hy nader en skuur teen een van die voorligte. Ek wil-wil paniekerig raak, maar Forget se rustige gesigsuitdrukking stel my gerus en ná ’n paar minute verloor die olifant belangstelling in al die pieringoë wat na hom staar.
Ons ry oor vlaktes, op en af en heen en weer. Dit is toe dat ons die leeumannetjie gewaar. Forget ry in ’n boog verby hom en ons wag hom ’n paar meter verder in.
Dit begin met ’n binnemondse geroggel, ’n bietjie harder gegrom en toe ’n volstrekte gebrul wat uit sy massiewe lyf vibreer. Ek was nog nooit terselfdertyd so vreesbevange en opgewonde nie.
Ek probeer die gebeure geruisloos op video opneem en is te bang om selfs ’n spier te verroer. Toe is my beeld heeltemal uit fokus, wat ek natuurlik eers agterna sien en myself oor wil skop. Ten minste klink die gebrul nie uit fokus nie.
Ná al die opwinding stop ons vir ’n skemerkelkie – gelukkig ver van waar ons Koning Leeu gewaar het.
Dit is reeds donker toe ons terugkeer en Forget gaan laai ons elkeen voor ons hutte af en kom haal ons weer net voor aandete. Jy wil nie graag in ’n grootvoet vasloop in die aand nie . . . Ja, hulle beweeg graag deur die kamp en suip by die watergate wat ’n paar meter verder geleë is.
Ons eet heerlike springbok in ’n rooiwynsous terwyl almal hul ervaring van die wildrit herleef.
Ek gaan slaap vroeg, want die volgende oggend word ons al vyfuur uit die vere gejaag vir ’n wildrit. Ek drink weer van die lekker sterk koffie, net om my lyf ’n bietjie aan die gang te kry, word weer in ’n poncho en ’n kombers toegedraai en weg is ons!
Daar waai ’n ysige briesie teen my gesig en die trane loop skoon oor my wange. Maar dit was absoluut die moeite werd, want namate dit lig word, val die mooiste kleure oor Gondwana. Ek voel nederig en klein ten aanskoue van die wonders van die pragtige natuurskoon.
Ons kom op twee leeuwyfies af wat lui-lui in die grondpad aangestap kom. Met ’n sagte plofgeluid maak een haar net daar in die pad tuis. Forget ry nader?.?.?. Haar gesig is ’n studie en sy tuur die vlaktes in.
Die oggendson begin darem nou al lekker warm op my rug bak, en sommer gou stop ons vir koffie en koekies voor ons na die kamp terugkeer.
Spek het nog nooit so lekker gesmaak nie. Ek eet soos ’n honger leeu en keer terug na my hut vir ’n paar uur van niksdoen. Ek haal ’n paar uur se verlore slaap in, stort lekker warm en sit en lees op my stoep tot middagete.
’n Uitspattige bord eetgoed word voorgesit. Ná middagete is dit weer rustyd. Dit voel asof ek in dieselfde roetine as die diere is, eet en slaap! Maar ek kla nie.
My laaste wildrit is ’n bietjie meer uitdagend. Ons ry diep die vallei in, die betroubare voertuig beur voort, deur water, oor steiltes, modder, klip en sand. Telkemale wil-wil die voertuig lyk of hy gaan vassit, maar ons kundige veldgids kry ons elke keer deur elke drif.
Ons sien kameelperde wat hul lang wimpers vir ons fladder, troppe bokke wat oor die grasvlaktes galop, en nog olifante. Forget neem ons tot 10 meter van so ’n reus af. Dié grootvoet is ’n bietjie nuuskieriger as die vorige, en terwyl ek doodstil agterop die voertuig sit, loop hy om en skuur sy slurp hier by my skoot verby. Die hare op sy slurp is so hard soos skropborselhare, maar voor ek paniekbevange raak, verloor hy darem belangstelling en kies weer koers die bos in.
Hoewel dit ’n naweek van min doen was, voel ek moeg ná aandete. Die adrenalien van die dag se wildrit pomp nog wild deur my are.
Daar is een woord wat my naweek by Gondwana kan opsom: spesiaal.
Ek kry my motorsleutels terug en vat dit maar teësinnig. Soos wat ek weg ry, bly my gedagtes by die besonderse plek, en anders as ons veldgids se naam is ’n besoek hier onvergeetlik.
Die Gondwana-wildreservaat het die koste van Rozanne de Jager se besoek gedra.