Liefde met die eerste oogopslag

2011-11-26 15:22

Llamas kom volop by die Machu Picchu-ruïnes voor. | Foto: Carla Lewis

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

 ’n Besoek aan Peru is soos ’n vakansieromanse met ’n eksotiese Suid-Amerikaanse minnaar wat jou onmiddelik betower met sy passievolle buie, kleurvolle persoonlikheid en wulpse bewegings. Net soos ’n vakansieromanse wat tot ’n einde kom, het ek nog vir weke met ’n groot glimlag op my bakkies rondgeloop ná my terugkeer.

Dit was liefde met die eerste oogopslag in Lima, die hoofstad van Peru, toe die taxi die lughawe verlaat en inplons in die tipiese georganiseerde chaos van ’n Suid-Amerikaanse stad.

Dis 22:00 die aand, maar almal is op straat besig om sokker te speel, uit te eet en op straathoeke te kuier.

Jy word dadelik oorrompel deur ’n land met hart en siel, iets wat somtyds verlore gaan in die georganiseerde maar meer steriele landskap van Eerstewêreldlande.
Die oggend daarna het dit in ’n volle, hals-oorkop verliefdheid verander toe ons die kleurvolle strate van Lima invaar.

Lima is ’n kusstad wat in ’n semi-woestynarea geleë is, en meeste van die tyd in ’n waas van mis omring word. Die inwoners van Lima laat hulle egter nie hierdeur onderkry nie. Die grou weer word teëgewerk deur huise, geboue en selfs staatsgeboue in helder kleure te verf.

Die imposante Post-Colombiaanse Palacio Municipal de Lima, die burgersentrum van Peru, word opgevrolik met sonskyngeel en die Casa de Osambela, ’n indrukwekkende herehuis, kry ’n Indigo-pers baadjie. Selfs die Cerro San Cristóbal, ’n informele nedersetting wat bo-op ’n heuwel gebou is, lyk soos ’n Smartie-boks met pondokkies wat in alle kleure en skakerings van die reënboog geverf is.

Lima is ook ’n Suid-Amerikaanse kosbestemming en vir middagete word ons voorgestel aan ceviche, wat ’n mens net as die Rolls Royce-weergawe van sashimi kan beskryf.

Vars, rou vis word gemarineer in ’n lemmetjiesap- en brandrissiesous en daarna met koljander garneer. Dan is daar ook tientalle aartappelgeregte, stapelvoedsel van Peruane, wat gebraai, gerooster, fyngemaak, diepgebraai en in slaaie voorgesit word. Die Peruaanse avokado-pere proe soos suiwer botter.

Avontuurlustige smulpape kan die geroosterde cuy, oftewel marmot, probeer, mits hulle nie omgee om iets te eet wat soos Snippie die hamster of ’n marmot uit hul kindertyd lyk nie.
 
Toe ons in Cuzco, poort na die Inka-ruïnes en die Urubamba-vallei land, tuur ek steeds met sterre in my oë na Peru, sy mense, landskap en diere. Net buite Cuzco is daar die Awana Kancha-alpakkaplaas wat met dié diere teel. Alpakkas is familie van kamele en llamas met sagte, vriendelike geaardhede. Die gids by die plaas maan ons dat hulle somtyds spoeg, maar die alpakkas by die plaas was meer geïnteresseerd in die kruiebossies wat ons toergroep as snoephappies uitgedeel het. ’n Krap agter hul oortjies ontlok ’n lae, neurie-agtige geluid wat alpakkas gewoonlik maak wanneer hulle gelukkig is.

Die Suri-subspesie, waarmee daar ook by Awana Kancha geboer word, lyk soos die Bob Marley-weergawe van Alpacas met hul lang Rasta-lokke.

Daarna besoek ons die Pisac Inka-ruïnes wat uitkyk oor die heilige Urubamba-vallei en uit die 1400’s dateer.

Alhoewel die ruïnes nie so gewild is soos Machu Picchu nie, is dit steeds ’n besoek werd. Ons toergroep is die enigste toeriste by die ruïnes en ’n mens kry hier die geleentheid om die amper gewyde atmosfeer wat by die Inka-ruïnes en nedersettings heers, in te drink sonder die vertrapping wat ek later by Machu Picchu teëkom. Die uitsigte oor die Urubamba- vallei is jou eie om by te talm.

Wat die ruïnes egter so merkwaardig maak, is die terasse wat die Inkas gebou het vir landbou, ’n praktyk wat vandag nog in gebruik is. Die terasse het hulle toegelaat om meer grondgebied te benut teen die steil heuwels om hul gewasse te verbou.
Die aand slaap ons oor in die Urubamba-vallei. Die volgende oggend toe ek my kamer se gordyne ooptrek, staar ek vas in die Andes-bergreeks. Dié bergreeks laat die Drakensberge soos molshope lyk en troon uit oor die Urubamba-vallei, hul pieke met spatsels sneeu bedek. Dit gee nuwe mening aan die woorde: “Ek slaan my oë op na die berge.” Hier moet jy omtrent jou nek rek om die boonste pieke te bekyk.

Die Urubamba-vallei is een van Suid-Amerika se gewildste avontuurbestemmings en hier kan jy, benewens Alpakkas vryf, deelneem aan avontuur-aktiwiteite soos witwaterritte, perdry, voetslaan in die Andes en vele meer. Ek, aan die ander kant, besluit egter om by te dra tot die Peruaanse ekonomie en die markte van Ollantaytambo te besoek. Laasgenoemde is ’n fraai dorpie gebou op en in die ruïnes van ’n Inka-stad waarin die Quetchwa-mense, nasate van die Inkas, steeds woon. Baie argeoloë reken dit is die oudste dorpie in die Amerikas wat steeds bewoon word.

Dié dorpie met die tongknopende naam is rondom ’n stadsplein gebou en daar is talle nou stegies om te verken. Dit is ook die ideale plek om ’n plaaslike drankie, chicha, te probeer. Chicha is gefermenteerde mielies en is soortgelyk aan ons plaaslike umqombothi. Chicha val egter nie in almal se smaak nie en die bleek, wit brousel proe eintlik maar soos dun gefermenteerde pap. Tog is dit ’n ondervinding om in die plaaslike chicha-brouers se sitkamer (wat ook sommer die kombuis, leefarea en slaapkamer is) te sit, jou te verkyk aan hul voorvader-altare (sommige kompleet met hul voorvaders se kopbene) terwyl marmotte rondom jou voete piep.

Gabby Puma Sallo, ons toergids, is self ’n nasaat van die Inkas en het in die Andes-gebergtes grootgeword in ’n tradisionele Quetchwa-gemeenskap. Sy vertel dit is nie vreemd om jou huis met ’n hele swetterjoel marmotte te deel nie. “Die kinders sal een dag met die marmotte speel en die volgende dag sal hulle voorgesit word om gebraai te word. Marmot is egter ’n delikatesse en word net met spesiale geleent- hede, soos verjaarsdae en troues, bedien.”

As die idee van chicha en krioelende marmotte jou laat gril, kan jy egter uitspan by een van Ollantaytambo se vele straatkafeetjies en kroegies en teug aan ’n Cuzqueña, hul plaaslike bier, of ’n Pisco-sours terwyl jy uitkyk oor die Ollaytaytambo-ruïnes.

Pisco-sours is die amptelike nasionale drankie van Peru wat bestaan uit Pisco, ’n tipe Peruaanse brandewyn, lemmetjiesap, eierwit, suikerstroop en bitters.

“Wees egter versigtig om te drink teen ’n hoë ligging bo seespieël,” waarsku Puma Sallo.

“Teen ongeveer 3 000 meter bo seespieël is dit goedkoop en maklik om dronk te word.”

Ná een Cuzqueña begryp ek haar waarskuwing. Een bier voel inderdaad amper soos drie, en teen ongeveer R25 vir ’n Cuzqueña is dit sowaar ’n winskopie. Vir die ander lede van ons toergroep, veral dié wat van laagliggende areas kom, was die hoogte nie so ’n groot seëning nie.

Slim straatentrepreneurs het ’n gaping in die mark gesien en verkoop mini-suurstofmaskers aan diegene wat sukkel met die dun lug.

Op ’n stadium het dit geklink asof ons toerbus gevul was met ’n spul Darth Vaders.

Ollantaytambo is ook een van die gewilde wegspringplekke na Aguas Calientes, die basisdorp van Machu Picchu. Die enigste manier om die dorpie te bereik is per trein wat deur die valleie van die Andes en later die reënwoud kronkel. Die treinrit self is ’n belewenis en sekerlik een van die mooiste treinritte ter wêreld.

Aguas Calientes, aan die ander kant, is egter ’n noodsaaklike euwel wat jy nie kan vermy wanneer jy Machu Picchu besoek nie. Almal wat die Inka-stad besoek, moet deur die dorpie beweeg.

Ten spyte van die dorpie se pragtige ligging, diep in die middel van die Peruaanse reënwoud met stroomversnellings wat verbyvloei, is dit soos ’n informele nedersetting vir toeriste. Die strate is gevul met neonligte, drinkgate, kitsch snuisterye wat heel waarskynlik uit China kom X basies al die slegte dinge wat met toerisme gepaardgaan. Dit is amper asof iemand die rugsakreisigers-mekka, die Koh San-straat van Bangkok, gevat het en dit in die reënwoud neergeplak het.

Die dorpie kry sy naam van die plaaslike warmwaterbron, Aguas Calientes, wat “warm water” in Spaans beteken.

Hou egter ook maar verby die warmwaterbron. Die troebel water het ’n sterk swaelreuk en met talle krioelende lywe, louwarm water en dronk rugsakreisigers, kan dit nie juis ’n baie higiëniese plek wees nie. Helfte van ons toergroep wat die warmwaterbron die vorige aand besoek het, het vroeg die volgende oggend immers ’n Imodium saam met hul koppie koffie weggesluk....

Ons staan die volgende oggend reeds 04:30 op om die eerste busse na Machu Picchu te haal. Die plan is om die sonsopkoms oor die sogenaamde kroon van die Inka-ryk te sien.

Machu Picchu is een van die min Inka-stede wat die Spanjaarde nooit gevind en geplunder het nie.

Die ruïnes by Machu Picchu is grootliks ongeskend deur die Westerse wêreld, ten spyte van ongenaakbare ontwikkelaars wat elke nou en dan ’n plan het soos om ’n kabelkar na die ruïnes te bou. Dit blyk asof dollars die stad se ondergang kan beteken. Toerisme na die antieke stad is ’n dubbellem-swaard.

Dit is die gewildste toerisme-aantrekking in Peru en bring miljoene dollars na die land se staatskoffers, maar die derduisende toeriste wat jaarliks die stad besoek, bedreig ook die Machu Picchu se voortbestaan.

Die oggend met ons besoek is dit koud, mistig en reënerig toe ons by die uitkykpunt kom. Waar ’n mens die Inka-stad in volle glorie moet sien, is net ’n wit waas van mis.
Machu Picchu is egter huiwerig om al sy glorie met een slag te onthul, iets wat dit nog meer spesiaal maak as om alles op een slag te sien.

Soos die mis verdwyn kan jy eers net die buitelyne van Huayna Picchu, die berg wat agter Machu Picchu lê, uitmaak en soos die son die res van die mis wegbrand, begin jy die deeltjies herken wat jy al op National Geographic en Travel Channel-dokkies gesien het totdat die stad in sy volle glorie voor jou lê. Dit is amper soos om ’n Kersgeskenk oop te maak.

Terwyl die argitektuur en ingenieursvernuf van Machu Picchu merkwaardig is, meen ek dit is die stad se ligging wat dit die stad van mites en legendes maak, en ’n plek in die nuwe Sewe Wonders van die Wêreld verseker het. Die stad word omring deur reënwoud, massiewe groen berge en die plaaslike llama-bevolking maak dit ook nogal spesiaal. Wees net versigtig as jy jou vrugte uit jou piekniekmandjie haal X ’n llama wat volspoed op jou afgepeil kom om jou appel te annekseer, kan nogal vreesaanjaend wees.

Die volgende aand keer ons terug na Cuzco en kom laataand by ons hotel, Die Tupac Yupanqui Palace, aan.

Die mure van die hotel bestaan uit Inka-fondasies en was voorheen ’n herehuis waar Spaanse adellikes gewoon het. Persoonlik dink ek dit lyk soos daardie hotelle in een of ander Latyns-Amerikaanse land wat ’n mens in die rolprente sien X die soort waar CIA-agente wegkruip, coups beplan word en dwelmtransaksies beklink word. Van buite lyk die plek nie na veel nie maar as jy eers binne is, is daar ’n binneplein met ’n spuitfontein en eksotiese plante in terracotta-potte. My kamer het helderblou houtdeure wat oopmaak op ’n helderblou houtbalkon en kyk uit op ’n nou keisteen-stegie.

Cuzco was die kroon van die Inka-ryk voordat die Spanjaarde gewere, pokke en die Katolieke geloof na die stad gebring het.

Die Spaanse conquistadors, onder leiding van Francisco Pizarro, het die stad in 1534 oorgeneem, al die Inka-tempels wat hulle kon van hul goud gestroop, vernietig en kerke en ander religieuse geboue bo-op die Inkas se fondasies gebou. Van hul eskapades laat Jan van Riebeeck en sy makkers soos ware filantrope lyk.

Baie van die Inkas se geboue was egter onvernietigbaar, juis as gevolg van die uitstekende steenwerk soos klippe wat gesny is om perfek soos legkaartstukke inmekaar in te pas. Groot aardbewings, een in die 17de eeu en een in die 1950’s, het feitlik niks skade aan die steenwerk gedoen nie.

Die steenwerk is orals te sien in Cuzco waarvan daar uitstekende voorbeelde by die kerk van Santo Domingo, of Qorikancha, is.

Die kerk was voorheen die belangrikste tempel in Cuzco en het bekend gestaan as Inti Cancha, wat Tempel van die Son beteken.

Puma Sallo vertel dat die hele tempel bedek was met goud wat die Spanjaarde later vir altare in hul Katolieke kerke in Cuzco gebruik het. Baie daarvan is ook teruggestuur Spanje toe. Die tempel is afgebreek en die gebou in ’n kerk verander.

Ten spyte van die geskiedenis van bloed, diefstal en plundery van meeste van die kerke en ander geboue in Cuzco, kan ’n mens nie help om die stad te bewonder nie. ’n Mens kan veral ure by die Plaza de Armas, ’n stadsplein, bestee en jou verkyk aan die Santo Domingo-katedraal en die Kerk van la Compañía wat in Barok- en Gotiese style gebou is.

’n Besoek aan die Santo Domingo-katedraal mag nie gemis word nie, al is dit net om ’n skildery van die Cuzco-kunsskool se “Laaste Maaltyd” te sien.

Peru het my bekoor met sy trotse herkoms wat steeds seëvier, ten spyte van al die geplundery, hul eie inheemse geloof wat verbaster is met die Katolieke geloof en Europese kunsstyle wat op hulle afgedwing is.

Hulle het steeds maniere gevind om hul kultuur op die mees onverwagste plekke in te sluip. Nêrens is dit meer duidelik as in die “Laaste Maaltyd,” by die Santo Domingo-katedraal nie.

Pleks van die brood wat in die tradisionele Europese meesters se weergawe voorkom, smul Jesus en sy 12 dissipels in die Peruaanse weergawe aan marmot en aartappels.

Goed om te weet


* Peru se amptelike taal is Spaans en min mense is Engels magtig. Dit sal jou ver bring deur ’n paar belangrike frases in Spaans te leer voor jou besoek.

* Kom só daar: SAL vlieg na Lima via Sao Paulo in Brasilië en Buenos Aires in Argentinië. Daar is busdienste vanaf Lima na Cuzco, maar die maklikste manier is om te vlieg. TACA is een van die lugdienste wat daaglikse vlugte aanbied. Besoek www.taca vir meer inligting.

* Kaartjies vir Machu Picchu kan nie by die ingang gekoop word nie. Onafhanklike reisigers kan hul kaartjies aanlyn by www.machupicchu.gob.pe koop. Die reël is vanjaar deur die Peruaanse toerisme-owerheid in plek gestel om die aantal mense wat daagliks die ou Inka-stad besoek, te beperk. Die kaartjies het teen druktyd 126 soles (ongeveer R383) gekos. Hou ook in gedagte dat jy ’n treinkaartjie na Agua Calientes moet koop. Die goedkoopstes kos ongeveer R500 retoer, asook ’n buskaartjie van Aguas Calientes na Macchu Picchu wat ongeveer R120 retoer kos. Besoek www.perurail.com om ’n treinkaartjie te bespreek.

* Peru is redelik bekostigbaar, al was die Peruaanse sol teen druktyd ongeveer R3 vir 1 sol. Die pryse is soortgelyk aan Suid-Afrikaanse pryse. Pryse in Aguas Calientes is hoër as in die res van die land.

Reis met Contiki

Contiki-toere, wat spesialiseer in reisplanne vir 18-35-jariges het vanjaar ’n reeks Suid-Amerikaanse reisplanne by hul portefeulje gevoeg.

Hul reisplanne sluit antieke stede soos Machu Picchu in, staptogte in die Amasone-reënwoud, partytjies in Rio de Janeiro, uitstappies na die Iguassu-valle, tango in Buenos Aires en vele meer in.

Contiki het hul reisplanne so ontwerp sodat daar vir kleiner groepe voorsiening gemaak word, reistyd verminder word deur te vlieg na sommige bestemmings, sodat daar meer tyd vir kyk, kuier en besoeke aan toeristeaantreklikhede is.

Die verblyf tydens die toer was uitmuntend, jy kry regtig ’n gevoel vir die land omdat daar in plaaslike gastehuise en klein hotelletjies oorgebly word. Die toerbestuurders en gidse is ook plaaslike inwoners, of bly al vir jare in Suid-Amerika en jy word verras deur ’n plaaslike juweeltjie, waarvan ander reisigers nie weet nie.

Reisigers kan ook kies uit ’n groot verskeidenheid toere, wat van agt dae strek, vir diegene wat nie baie tyd op hul hande het nie tot die 24 dae-Adventurer.



Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weather
Lottery
Cpt: 10-21°C Sunny. Mild. Pta: 7-18°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 4-15°C Mostly sunny. Quite Cool. Bloem: 1-18°C Sunny. Cool.
Dbn: 12-24°C Sunny. Mild. PE: 13-22°C Morning clouds. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

FORD

Bantam 1.3i PU MY09
2010
R 94,990.00

CHEVROLET

SONIC 1.6 LS AT
2012
R 186,995.00

AUDI

A4 1.8T
2005
R 185,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.