Oos-Vrystaat: Hart in die Hoogland
2012-11-24 23:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die dorpie Clarens in die Rooiberge van die Oos-Vrystaatse hooglande vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar.
Die dorpie is terselfdertyd sjiek en statig; modieus en onverstoorbaar. Jappie-families uit die stad en kunstenaar-tipes wat deur die strate drentel, skep ’n kleurvolle kontras met die paar soliede, aardse sandsteenhuise wat vierkant langs die boomryke strate geplant staan.
Vanaf die R712-roete tussen Bethlehem en die Golden Gate Nasionale Park draai jy op teen ’n bult met ’n wye tweerigtingstraat, totdat jy om die groot Presidentsplein op die plato sirkel. Soos “Clarens”, dui die naam van die plein op die invloed van pres. Paul Kruger van die destydse ZAR op die dorpstigters van 1912. Tydens die Tweede Basotho-oorlog (1865-1866), ook genoem die Seqiti-oorlog, het Kruger en sy Transvaalse kommando die Basotho in die Slag van Naauwpoortnek verslaan. Daarteenoor was “Clarens” die dorpie in Switserland waar die prez in 1904 oorlede is. Deesdae speel wit en swart kinders in die speelparkie voor een van die talle kunswinkeltjies, onbewus van die oorloë van hul oupas se oupas se oupas.
’n Goeie plek van waar jy die Hooglandroete kan verken, is Bethlehem, sowat 40 km noord van Clarens.
Ek het tuisgegaan by die Frontier Inn & Casino op die rand van die dorp. Dié driester-Peermont-Metcourt-hotel het ’n aparte ingang vanaf die parkeerterrein waar motors FS-, GP-, MP- en NW-registrasienommers dra. Met oor die R31 miljoen wat die afgelope jaar uitbetaal is, is die casino se gewildheid te verstane. Die progressiewe AmaJackpot, wat op ’n bingo-roulette-grondslag werk, het iemand verlede maand meer as R100?000 ryker gemaak en staan tans op R26 068.
Die 21 kamers is knus en netjies ingerig met lugverkoeling, ’n bad en stort in dieen suite-badkamer en skottel-TV. Benewens gratis Wi-Fi in die voorportaal, kan jy ’n koord by ontvangs kry as jy toegang tot die internet in jou kamer wil hê. Die diens van die personeel is vinnig en vriendelik.
Ek was verbaas dat die getingel van die casino nie hoorbaar is in die herberg nie. Dalk is dit danksy die dik tapyt waarop ’n mens gang-af stap, of die glasdeure wat die dobbelplek afskort. Die Spur (die enigste restaurant in die gebou) en die winkeltjie met versnaperinge soos toebroodjies en koeldrank is ook nie lawaaierig nie.
Die gang eindig in The Coachman’s Saloon, ’n ruim kuierplek met groot TV-skerms en ’n tamaai houtkroeg, van waar kroegpersoneel klante in drie rigtings bedien. Benewens houtsneewerk teen die dak, is daar ou foto’s van perde teen die mure en hoefysters en stalname teen die kroeg. Lené, die bemarkingsbestuurder van die Frontier Inn & Casino, sê die kuierplek raak uitbundig tydens sportwedstryde. Vir gees is dit die plek om te wees.
Ná skemer laat ek Bethlehem agter en ry rustig na die Friends Restaurant & Pub in Clarens. Die kroeggedeelte wemel van mense – van studente tot pensioentrekkers – wat op die maat van die plaaslike orkes Slipstream kom kuier het. Soos gewoonlik in die Oos-Vrystaat vergaap ek my aan die studente se witter-as-Clover-velle, rooskleurige wange en lang krulhare. En die meisies s’n ook. Dis natuurlik waar Francois Steyn se haredos vandaan kom, dink ek.
Ek maak myself tuis by ’n tafel voor die kaggel in die klein restaurant, waar ek weldra my baadjie kan uittrek. Kelvin, die eienaar, sê hy’s baie trots op sy biefstuk, en ek bestel dit sonder enige bykosse. Aan die tafel langs my sit agt mense van in die 60 en eet eisbein, wat lyk soos klein babatjies. Wanneer my biefstuk bedien word, weet ek ek het reg gekies. Dis sappig, sag en verruklik.
Die volgende oggend vertel Anthony, die hoofbestuurder van die Frontier Inn & Casino, dat die boere in die Oos-Vrystaat 65% van die land se koring produseer. As dit goed gaan met die boere, gaan dit goed met die dorp, sê hy. Later lees ek Bethlehem beteken “dorp van brood” en is so genoem omdat koring so goed in die vallei groei. In ooreenstemming met die Bybelse Betlehem is die rivier wat verby die dorp vloei “Jordaan” gedoop.
Ek vat die R712 verby Clarens tot vlak voor die Golden Gate Nasionale Park. Die landskap is pure Pierneef: sandsteenberge, geel landerye, sipreslanings en bollende wit wolke.
Die horisontale lae kleure van die massiewe sandsteengebergte, wat deur die eeue heen deur wind en water verweer is om indrukwekkende rotsformasies te vorm, is uniek aan die gebied en word Clarens-sandsteen genoem.
Een kilometer voor Golden Gate trek ek in by die Kiara-landgoed. Ek hou regs tot by Bergwoning Adventures, waar Masha, ’n blommekind uit Oos-Europa, my deur die vrywaringsvorms vir die kwadfietse neem. Sy woon al drie jaar lank hier en wil niks weet van weggaan nie, nie eens na Clarens toe nie. Ek kan verstaan hoekom: Die berge wat die plek omvou, is asemrowend mooi.

Ek gesels met twee gaste van Pretoria, Keketso en Bufihle, wat ’n week lank op die landgoed kom uitspan het, voordat Solly, ons gids, ons by die vierwiele laat aantree. Hy ry vooruit op ’n veldmotorfiets. Ons vat dit stadig uit by die eiendom en kruis die teerpad na die oorkantste oop stuk hoogland sodat ons gille in die berge verdwyn.
Dit is ’n puik kwadroete: ’n Tweespoorpad deur grasveld, styl afdraandes deur yskoue waterstrome en pragtige uitsigte vanuit die bors van die berge.
Elke keer wanneer Keketso gil, weet ek hier kom ’n kwaai afdraande, gevolg deur modder wat spat wanneer die amfibiese monstertjie deur ’n bergstroom jaag. Op ’n kol parkeer ons om foto’s te neem. In die stilte hoor ons die bergwater teen die kranse afloop. Die son breek plek-plek deur die wolke en gooi kolle goud op die landskap.
Ná die avontuur besoek ek Die Koffiepot, ’n klein kombuis op die werf wat met allerhande oudhede versier is. Masha sê dis die beste koffie in die geweste, maar dis die malvalekker in warm sjokolade wat my verlei. Ek bestel die dag se spesiale dis: hoenderpastei, slaptjips en slaai. Die tjips lyk of dit nie ’n druppel olie gesien het nie, maar is steeds heerlik krakerig buite en sag binne. Die klein hoenderpastei het ’n sousie van soetrissie binne-in.
Die perdry later die dag is baie rustig en vredevol. Ek en Victor, my gids, ry bykans dieselfde roete teen die oorkantste heuwels uit. Die aktiwiteite word so geskeduleer dat die vierwiele en perde nie op dieselfde tyd in die veld is nie. Waar die kwad-aktiwiteit bruis van adrenalien, is die perdry kalmerend en byna doodstil.
Waarskynlik ook omdat ek steeds ’n bietjie kleitrap om van ’n trippel na ’n galop oor te skakel.
Die aand, terug in die dorp van brood, besoek ek die Kuba-restaurant-en-kroeg, wat die inwoners “Koeba” noem. So twee derdes van die plek is elegant uitgedos in ligtehout-tafels en glaskandelare, terwyl die ander derde, buite sig, ’n lewendiger kroeg-atmosfeer het waar jy sport kan kyk. Buiten ’n Kubaanse vlag en ’n skildery van die Argentyn Che Guevara, is daar nie veel van die kommunistiese eiland te bespeur nie. Nie dat ek dit mis nie, want die kos is absoluut manjifiek. My voorgereg van volstruis-carpaccio (rou vleis in papierdun skyfies gesny) slaan my voete onder my uit. Die agt stukkies vleis is in rosies opgerol en word bedien met soet kersietamaties en roketblare, bedrup met balsemasyn. Daar is ook ontpitte swart olywe en parmasaankaas om sout by die soet-suur te voeg.
Dis moeilik om die berge agter te laat en terug te keer na die stad. ’n Naweek is amper te kort om die vreedsame landskappe in te neem. Een ding is gewis: Die Oos-Vrystaat staan vir geen streek in die land terug nie en bied boonop uitstekende waarde vir geld.

Foto's: Eppy Strydom