Son, see en avontuur
2011-12-10 15:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek kan skaars my opgewondenheid in toom hou toe die vliegtuig op Sir Seewoosagur Ramgoolam internasionale lughawe op Mauritius land. My tropiese avontuur het begin!
Terwyl ek Mauritius reeds een keer vantevore besoek het, was dit vir ’n sake-konferensie en slegs een van my sewe dae op die eiland is nie agter geslote deure in die hoofstad Port Louis deurgebring nie.
Dié keer is ek vasbeslote om meer van die eiland te sien, die kultuur te ervaar, ernstige tyd op die pragtige strande deur te bring (alle aanduidings is dat die weer heerlik gaan wees tydens my besoek) en van die plaaslike kookkuns te toets. Min het ek geweet dat ek dié kookkuns van baie naby sou leer ken oor die volgende sewe dae.
As ’n gas van Island Light Holidays word ek by Plaisance (die meer algemene naam vir die plaaslike lughawe) ontmoet en na my hotel vervoer. Die Tamassa produced by LUX-strandoord is in Bel Ombre in die suidweste van Mauritius. My vlug het kort voor 20:00 geland en nadat ek my bagasie gekry het, is dit naby 21:00 voordat ons in die pad val. Omdat die reistyd van Suid-Afrika na Mauritius net vier ure is, is ek nie moeg nie maar ek besef skielik ek’s honger, en ek is dus gretig om by Tamassa uit te kom.
Terwyl ons die 45km van die lughawe na Bel Ombre aflê, kyk ek deur die venster omdat ek gelees het Tamassa word omring deur dramatiese berge en digte suikerrietlande, maar al wat ek sien, is ’n skaduagtige omgewing terwyl ons in die donker verbyry. “Môre sal die eiland homself vir jou wys,” dink ek by myself.
Ons verwelkoming is oorweldigend: ’n ontvangsgroep van die oord se personeel wag ons singend in terwyl die bus by die ingang stop. Ons kry geparfumeerde handdoekies om al die reissweet weg te vee voordat ons die sitkamer binnegelei word waar verfrissende drankies op ons wag.
Die aanmeld is gou afgehandel en ons word vinnig na Show, die hoofrestaurant, weggevoer waar die uitvoerende sjef, Vinod Juggoo, se span op ons wag by hul verskeie buffettafels om ons gekose ete te berei. En wat ’n keuse!
Daar’s ’n gesondheidkos-kroeg, ’n pizza-oond, ’n Oosterse tafel wat spesialiseer in Japanese, Suid-Asiese, Indiese en Lebanese kookkuns. ’n Europese tafel verskaf pasta en braai- en roostergeregte.
Uitgehonger, werk ek my pad deur twee porsies van ’n verskeidenheid geregte wat insluit die beste roerbraai-noedels wat ek tot nou toe nog geëet het.
Naas Show, kan gaste ook by die Playa eet, wat in Suid-Amerikaanse kookkuns spesialiseer. Vir dié wat nie in kos belangstel nie, is daar die B-Bar waar hulle die tyd met ’n drankie kan verwyl, die hoof swembad-area waar lewende vermaak elke aand aangebied word of die Jalsa, die oord-nagklub waar daar deurnag gedans word.
Gaste kan verblyf op ’n “alles ingesluit”-basis bespreek wat beteken dat alle maaltye, middag snoephappies, plaaslike drank en gekeurde ingevoerde wyne asook die mini-kroeg en tee en koffie in die kamers, ingesluit word.
Jalsa is soos gewoonlik vanaand al goed aan die gang en van my reisgenote speel met die idee om ’n vinnige draai daar te gooi, maar ná die heerlike aandete in die geselskap van Alain Bhoyroo, die algemene bestuurder, is ek na my suite.
Tamassa het 214 kamers wat in stelle van villas gebou is wat almal óf op die oseaan uitkyk, óf rondom een van die drie groot swembaddens gerangskik is. Die kamers is stylvol en gemaklik en opmerklik gestroop van die tradisionele oordaad wat jy gewoonlik aantref. Pragtige prente op die mure dra by tot die ontspannende atmosfeer.
My suite, wat op die strandfront geleë is met ’n terras wat oor die oseaan uitkyk, het ’n yslike skildery van orgidieë en fuschias. Die bed roep my terwyl ek my bagasie kry, wat reeds afgelewer is.
Ná ’n goeie nagrus is ek die volgende oggend vroeg op vir ’n wandeling op die strand en ’n verkenningstog van die oord voor ontbyt. Dit het in die nag gereën, maar is reeds warm toe ek begin stap.
Al die gemeenskaplike areas van die oord is saam gegroepeer soos ’n dorpie X tussen die see en suikerrietplantasies X wat al die pad tot teen die berg strek.
Mauritiërs het Tamassa ontwerp en daar is gehou by die tradisionele argitektuur, maar in ’n moderne styl. Die oord het terracotta gekleurde dakke en mure wat van die plaaslike vulkaniese klip gebou is. Binne het die ontwerper ’n kombinasie van Afrika-hardehout met vlekvrye staal en veselglas gebruik met moderne beligting vir ’n fantastiese effek. Die kleure is sterk, helder en tropies.
Dis kort ná 07:00 en die oord is reeds goed aan die gang. Die personeel is besig om stoele op die strand en om die swembaddens uit te pak, reg vir die dag se kwota son-aanbidders.
In die verte sien ek ’n paartjie wat krag-stap op die strand. By die watersportsentrum word toerusting gereed gekry vir die avontuurlikes onder ons wat wil waterski, windseil, snorkel of duik. Vir die luies (wat my insluit) is daar glasbodembote, kajakke en pedaalbote.
In die hoof-swembad word ’n groep wat vroeg opgestaan het, aan die fyner kunsies van water-aërobiese oefeninge bekendgestel deur ’n gespierde instrukteur, en op ’n oop stuk grasperk is nog ’n groep besig met Tai Chi. Dan besef ek, ek’s weer honger – dit moet die seelug wees!
Met ontbyt, wat onder ’n groot boom op die strand bedien word, geniet ons ’n verskeidenheid vars sappe, koffie, pasteitjies en vrugte gevolg deur ’n Engelse ontbyt. Elke nou en dan duik ’n waaghalsige voël laag oor ons af asof hy by ons wil aansluit, maar hulle word gou verjaag deur die personeel. Sonder dat jy die agterkom, gaan ’n uur verby en gou moet ons Tamassa verlaat.
John, ons Island Light Holidays-gids, is gereed om ons na LUX Le Morne te neem, wat soos die naam aandui, geleë is in die Le Morne-gebied sowat 15km van Bel Ombre af. Oppad verskaf John gou ’n geskiedenisles van die eiland.
Mauritius is in die Middeleeue deur Arabiere besoek en vroeg in die 16de eeu deur die Portuguese. Maar dit is eers in die vroeë 1600’s deur die Nederlanders gekolonialiseer en Mauritius genoem. Toe die Franse daarna die eiland kolonialiseer, het hulle dit hernoem na Île de France. Die Britte het die eiland van die Franse afgeneem en dit weer Mauritius genoem.
Dit was ’n reeks kolonialiste wat suikerriet op die eiland begin verbou het, en slawe van Afrika en Madagaskar ingevoer het om op die suikerplantasies te werk en ook die inheemse dodo uitgeroei het.
Nadat slawerny verbied is, is kontrak-arbeiders van Indië en Sjina ingebring en hierdie smeltkroes van mense is vandag nog te bespeur in al die tale, godsdienste, kookkuns en kulturele gebruike op Mauritius.
Geboei deur John se storie, gaan die tyd gou verby en kort voor lank is ons by LUX Le Morne se hekke.
Maar dis ’n storie vir ’n volgende keer.

Goed om te weet
* Vra ’n plaaslike inwoner hoe ver enige bestemming is, en die antwoord is elke keer “omtrent ’n uur”.
*
Die oord word op ’n alles ingeslote-basis bedryf (jy betaal slegs vir
sekere ingevoerde drankies en spiritualieë, gemotoriseerde sport en
spa-behandelings).
* Naas Senses, die tradisionele Mauritiaanse spa, is daar ook ’n ten volle toegeruste fiksheidsentrum en twee kinderklubs.
*
Tamassa se ligging bied toegang tot heelparty aktiwiteite by die oord
en weg daarvan ook, en is slegs 45km van die lughawe en 65km van die
hoofstad.