Afrika uit ’n trein

2012-07-07 15:29

Iemand ruk aan die badkamerdeur. Ek kyk deur die venster en sien ’n paar kameelperde wat kopomhoog aan doringtakke vreet. Die trein verloor spoed en kom tot stilstand. Wat gaan nou aan?

Met die tweede oggend se wasbakbad-roetine klaar, skuif ek die deur oop. ’n Jong man groet my in die treingang en vra: “Sopa-sopa?”

Seep is nou nie juis iets wat ek graag uitleen nie, maar dis Desember en tussen Zambië se Kapiri Mposhi en Tanzanië se Dar es Salaam sal nog ’n seepgewaste lyf nie skade doen nie. Afrika-direktheid is immers wonderlik en ek druk die koekie Palmolive in sy hand.

Terug in die kompartement vertel vriend Cobus Olivier daar’s olifante op die spoor en die trein wag dat die trop oorstap. Dis dié aardse soort eenvoud waarvan ek hou. Ek dink terug aan hoe ons op die Tazara Railway se International Passenger Train beland het.

Tazara staan vir Tanzanian and Zambian Railway en dit neem twee nagte om deur van die mees afgeleë dele van ons kontinent te ry. In die 1950’s het die Chinese aan die spoorlyn help bou.

Alhoewel die dorp Kapiri Mposhi groot op die kaart gemerk is, is dit ’n klein dorpie. Dis geleë waar die hoofpad van Lusaka vurk na Kitwe in die noorde en Tanzanië in die ooste.

Ons tydsberekening hier maak dat ons byna die Tazara se tweede en laaste vertrek vir die week misloop. Dis 13:50 en volgens die brosjure vertrek die trein om 13:43. Cobus druk my agter ’n tou mense voor ’n kaartjiekantoor in. Hy storm die stasiegebou se reuse- stel trappe af. Ek neem aan dit het iets met ons geld en die treinkaar-tjies te doen. Blitsvinnig is hy terug en ons geldruiltransaksie afgehandel.

Die vrou by die treindeur wil ons name én vanne op ons paspoorte sien. As ongetroudes word ons in aparte kompartemente op hierdie Afrika-trein gesit. Vroue hier, manne dáár.

In die tweedeklaskompartement, waar ses mense kan slaap, sit reeds vyf groot vroue, gelaai met bagasie.

Ek groet en skuif versigtig verby die dames om ’n sitgaatjie te kry. So tien minute later verskyn Cobus skielik in die deur. Hy het sy vriendskapsvaardighede ingespan en met sy trok se kondukteur gesels oor my moontlike oorskuif na sy kompartement.

Ek groet die vroue en skuif-skommel met rugsak weer op die rug na die kompartement waar ons twee darem saam kan reis.

In ons kompartement sit ’n ou man. Hierdie ntate (vader) is ’n Tanzaniër oppad na Dar es Salaam.

By Mkushi se treinstasie besef ons dat ’n arriverende trein ’n groot gebeurtenis is. ’n Jong meisie kom aan met ’n skottel kleinerige mango’s op haar kop. Ntate praat met haar en sy hou haar skottel na my uit.

“Ja,” beduie ek, “gee my maar so vyf mangotjies.” Ek gee haar ’n 500 kwacha-munt – sowat R1. Ntate neem die hele skottel by haar deur die venster en keer sowat twintig mango’s op ons tafeltjie uit.

’n Ent verder kom ’n kind, bietjie hoër as twee bakstene, na die trein aangewaggel. Agter hom kom sy ma al skommelend aangehardloop om te keer dat hy die treinspoor haal.

Die hoop om alleen in tweedeklas te reis was ’n illusie en ons maak plek vir nog vyf reisigers. Hier is ek nou vrou-alleen tussen vyf mans waarvan ek een, Cobus, net-net ken. Ons deel van die mango’s uit wat ek vroeër gekoop het.

Ek wonder hoe dit in egte koloniale dae op hierdie trein sou wees toe ons aandete met die invul van ’n vormpie bespreek. Geregte soos vis, sosaties, schnitzels, pap en vleis kan bestel word.

Restaurantreuke waai vroegaand in die gang af en die atmosfeer is gesellig. Die biefstuk en hoendersosaties met rys is wel nie wat ons bestel het nie, maar nogtans val ons lustig weg aan die smaaklike kos. Daar is ’n kroeg in die eetwa, maar ons vra toestemming by ons kelnerin om ons bottel rooiwyn oop te maak.

Terug in ons kompartement lê ntate reeds in sy bed. Cobus haal sy gasstofie uit en terwyl ek die pot en hy die stoof vashou, begin koffiewater prut. Ntate se oë rek toe Cobus vir hom ’n soet koppie koffie aangee.

Ons speel ’n paar potte Uno en mense wat ons gelag en wedywering hoor, sluit by ons aan. ’n Suid-Koreaan, Jee-yung Choi, speel ook saam.

Rammel-gesus raak ek onrustig aan die slaap. Dan klop iemand skielik aan ons kompartementdeur. Ntate sit orent en knip die deur oop. Ek’s verlig om te hoor dis Jee-yung. Hy wil weer Uno speel. Ntate beduie dat ons reeds slaap en stuur hom saggies weg.

Zambië lê agter en ons bereik Nakonde, die grensdorp. Ons gaan nou Tanzanië binne. Ntate groet en klim af. Hy gaan ’n sak rys op Nakonde verkoop.

Die trein se fluit weerklink teen oorhangkranse. Ons begin die Skeurvallei binnegaan en ek voel die trein teen die afdraandes rem.

Tunduma, die Tanzaniese grensdorp, is sowat ’n uur van Nakonde. Die grensbeampte wil nie Cobus se enkel Amerikaanse dollars neem nie. Gelukkig is daar ’n geldwisselaar op die trein en ons ruil Tanzaniese sjielings en betaal die beampte.

Toe ons weer by ’n stasie stilhou, gee vroue hul babas deur die vensters na binne in derdeklas aan. So ook sakke vol goed en nóg kinders. Ek verwonder my hieroor, want so sit hulle deur die nag regop en slaap, kinders op die skote.

Die landskap- en plantegroeiveranderings wat vanaf die Koperbelt tot in Dar es Salaam gesien word, maak hierdie reis ’n unieke ervaring.

Sommige plekke het soveel kremetartbome dat dit soos ’n plantasie lyk. Oop velde is plek-plek met rysplantasies gelap. ’n Boer leun rustig op sy graaf in ’n mielieland toe die trein verbyraas. Hy het ’n lang wit rok aan en tulband om sy kop. Hier vanuit die treinvenster lyk Afrika se eenvoudige leefstyl baie aanloklik.

Laataand begin die trein spoed verloor en gaan doodstil staan. Dis nagdonker buite. Iemand vertel in die gang die Tazara het net sy gewone enjinprobleem op die gewone plek. Twee ure later beweeg die trein weer die donker nag in.

Op die volgende oggend se rit deur die Mikumi-nasionale park is daar kort-kort diere soos wildebeeste, vlakvarke en Thompson’s Gazelle te sien. Dis hier, terwyl die spons louwarm water oor my lyf gooi, wat ek kameelperde uit die waskamervenster van die Tazara sien.

Die wêreld hier voel anders. Mense is vriendelik en daar is ’n gevoel van respek vir mekaar. Die Tazara kom ses ure laat op die Dar es Salaam-stasie aan.

Met modderdorpies, kremetartbome, wild en die Skeurvallei langs die spoor gee ons nie om vir dié soort Afrika-gedrag nie.

Die 38 uur op die Tazara van Kapiri Mposhi tot in Dar es Salaam het groot kopskuiwe binne my losgemaak. Mens voel aan die wit man, mzungu in Chichewa, is meer as welkom.

Afrika het sy hand hier na mý gereik. Dít was lekker.



Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-16°C Showers early. More sun than clouds. Cool. Pta: 8-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-12°C Sunny. Cool.
Dbn: 11-21°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!