Asem uit...

2012-10-13 17:10

Aan die onderpunt van Suid-Afrika se Wildekus, sowat 40 minute se ry oos van Oos-Londen, lê die Prana Lodge Private Strand-oord & Spa – een van die asem­rowendste bestemmings wat ek al namens Rondrits besoek het. Dié intieme boetiek­hotel, wat vroeër vanjaar deur ’n groep onafhanklike reisskrywers as een van ’n handjievol moet-beleef-plekke in Afrika gekies is, spog met sewe volkome private suites in ’n inheemse woud langs die see.
Prana beteken “lewenskrag” of “asem” in Sanskrit – dieselfde krag wat die Chinese “chi” noem en wetenskaplikes as “bio-elektrisiteit” verstaan. Die naam is nie toevallig nie. Trouens, Prana Lodge sou waarskynlik nie bestaan het as Gail Davidson, wat die eiendom saam met haar man, Tim, besit, nié ’n paar jaar terug ’n massiewe gesondheidskok beleef het nie.

Ná twee beroertes en opehart-chirurgie moes sy eenvoudig haar leefstyl verander. Sy het die stresvolle lewe in die Goudstad gegroet en op hul landgoed van 17ha in Chintsa-Oos gaan aansterk waar sy bewus geword het van die helende energie wat uit die plek straal. Hier het sy volkome herstel en saam met Tim besluit om ’n retreat van vyfstergehalte te vestig (die enigste aan die Wildekus) waar mense weer in voeling met hulself en die Groot Asem kan kom.

Tim het die lodge en die suites geteken, geïnspireer deur hul reise in die Ooste, en dit saam met werkers van die omgewing help bou. Talle van die bouers en hul familielede werk vandag ná intensiewe opleiding as kelners, butlers, skoonmakers of tuiniers op die eiendom.

Die spa word beman deur Penkae, Titi en Num, drie masseerders uit Thailand, vir wie die Davidsons kaalvoet oor die klippe geloop het om wettige verblyf te verseker. Ek tref my reismaat, Mary-Ann, in ’n aura van saligheid aan nadat Titi haar met vlugtige olies bygekom het.

Self bespreek ek ’n Thai-massering met ’n warm aftreksel van die kruie wat Penkae op die landgoed kweek. Num lei my na ’n groot vertrek waar ek op ’n dun matras op die bamboesvloer gaan lê en begin deur my ledemate in allerlei posisies te hou.

Wanneer hy die meridiane van my lyf oopmaak soos iemand wat ou, droë blare uit ’n geut skep, verloor ek my houvas op tyd. Al waarvan ek bewus is, is my asemhaling en die warm kruiedoek wat hy meesterlik op presies die regte plekke druk.

Dit voel ure later toe hy uiteindelik langs my kop kom sit en my liggies op die kroon en agter die ore krap. Toe ek al op die woudpaadjie langs na my suite terugsweef, skeel dit my min dat ek ’n Springbok-toets misgeloop het. Ja, Prana Lodge laat jou jou prioriteite heroorweeg.

Later die aand stap ons uitge-space na die klein restaurant, waar ons eers ’n aperitief (lusmakertjie) voor die kaggel in die oopplan-sitkamer geniet.

Ek is verstom om ander gaste om die tafels te sien. ’n Mens is nie van hulle of die ander suites bewus terwyl jy in jou suite uitspan nie. Die kos van die uitvoerende sjef, Jaycee Ferreira, en sy span is fynproewer-verruklik en die porsies byna te groot om klaar te maak. Dis ’n samekoms van Afrika, Asië en Frankryk. Vir romantiese siele met iets om te vier word etes op ’n houtdek met ’n uitsig oor die see voorgesit. Die span in die kombuis weet danksy e-pos voor jou besoek wat jou voorkeure en allergieë is.

Niks kan ’n mens egter voorberei op die ou-geld-weelderigheid van die suites nie. As deel van die Oosterse aanslag is elk van die sewe suites in die kleure van ’n spesifieke chakra (die energiesentrums in ’n liggaam) uitgevat. Ons gaan tuis in die turkoois suite met ’n plonspoel in die binnehof en ’n tegno-kaggel wat met gas en antrasiet werk. Kunswerke en Persiese tapyte uit die Davidsons se versameling vorm fokuspunte en die balke van die hoë plafon is behandel met whispering white. Dit skep ’n strelende atmosfeer wat my herinner aan lyfroom ná ’n warm dag in die son.

Die badkamer is die kleur van die binnekant van ’n neut en só groot dat ’n mens ’n naweek lank daarheen kan wegbreek. Ook hier lê ’n dik Persiese tapyt soos ’n aanloopbaan na die bad toe. Die stort met sy vensters waardeur jy die blouapies in die tuin kan sien speel, is groot genoeg vir ’n Ventertjie. En die seep en sjampoe kom uit die luukse Mohini-reeks met sy geure van lemoen en sandelhout. Laataand skink ons ’n sjerrie uit die kristalkraffie en staar vanuit die binnehof na die melkweg waar ’n paar sterre in die stilte val.

’n Mens bereik die see op ’n netjiese paadjie van donker planke. Dis ’n rustige wandeling onderdeur inheemse plante wat die almagtige gedruis van die see uitdoof. Aan die einde van die paadjie kom ’n mens uit op ’n klein houtdek en ’n toweragtige uitsig. Die duineheuwel val byna loodreg, sowat twee of drie verdiepings ondertoe, na die strand. Die strand is pure Wildekus – wyd en verlate (hoewel ek geen seekoeie, soos die joernalis Neels Jackson beeste op die strand noem, gewaar nie).

Deur die loop van ons naweek sien ek net sowat agt mense op die 21km lange strand. Die golwe bruis van Oos-Kaapse vreugde en ná ’n dip in die hoogwater voel my lyf wemelend en wakker.
Dit voel onmoontlik om Prana Lodge agter te laat. Iets het binne my verander in die kort tydjie daar.

Terwyl ons op die kronkelpaadjies terugry na die snelweg, waar ’n koei ons twee dae vantevore verveeld aangekyk het, maal ’n Plato-aanhaling uit Zen & the Art of Motorcycle Maintenance in my kop: “And what is good, Phaedrus, and what is not good? Need we ask anyone to tell us these things?”


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-15°C Rain late. More clouds than sun. Cool. Pta: 3-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-10°C Sunny. Cool.
Dbn: 13-19°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Showery. More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!