Juweeltjies in die natuur se skatkis

2012-09-09 01:20

Asemrowende uitsigte.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

By Nambiti vergeet ek gou van die stad se gejaag en kort voor lank voel ek deel van die ongerepte natuur.

Die malariavrye reservaat van 11 000 ha se ligging is asemrowend met drie biome wat ’n opvallende biodiversiteit en verstommende landskap voortbring.

Die Sondagsrivier vloei deur die reservaat en moenie vergeet van die Groot Vyf, die rykdom aan soogdiere, asook die meer as 280 voëlspesies wat hier voorkom nie. Bokke is volop en gou sien ek ’n paar koedoes wat in die pad staan. Blouwildebeeste, rooibokke en sebras maak ook hul verskyning.

Ons parkeer die voertuig in die parkeerarea en vertrek saam met ons gids op ’n wildbesigtigingsvoertuig.

In hierdie skatkis is nege juwele, oftewel nege luukse lodges, weggesteek wat wissel tussen drie- en vyfster.

Elke lodge bied aan gaste ’n unieke ligging met asemrowende uitsigte oor die landskap.

Loop maar met jou ore gespits na jou suite, want sommige van die lodges is nie omhein nie. Die meeste van die tyd stap ’n gids saam, sommer net vir ingeval.

Ingeval wat? As ’n natuurmens het ek die antwoord: Niemand wil ’n roofdier vierkantig in die oë kyk of jou in die middel van ’n trop beneukte buffels bevind nie.

Ons gaan kyk hoe lyk die verskillende lodges. Elke lodge is smaakvol gemeubileer met sy eie unieke dekor, kenmerke en styl.

Ná ’n koue sonsondergangrit staan warmsjokolade met geroosterde klappermalvalekkers reg vir ons – voorwaar die regte medisyne om die koue te verdryf.

Aandete is reeds reg om bedien te word en ek smul aan die heerlikste disse. Die kookkuns is van die boonste rakke – van voorgereg tot nagereg.

In my suite verskaf die ondervloerverhitting ’n buffer teen die koue buite. Ná ’n warm skuimbad is dit tyd om in die bed te klouter.

’n Warmwatersak het die bed reeds lekker warm gemaak en Klaasvakie het nie op hom laat wag om my droomland toe te voer nie.

Vroegoggend vertrek ek op ’n wildbesigtigingsrit gepantser met mussie, serp, handskoene, kombers en, natuurlik, my warmwatersak.

Die oggendluggie byt-byt aan my ore en neus en ek trek my mussie af en skuif my serp hoër op. Net my oë moet maar die koue trotseer, want ek is baie nuuskierig en te bang ek mis iets.

Twee statige elandbulle staan langs die pad en kyk ons gesteurd aan toe ons om die draai kom.

Hier is nie net baie wild om te sien nie, die geskiedenis van die omgewing is ook baie interessant.

Die Slag van Elandslaagte, die Boere se eerste nederlaag teen die Britte in die Anglo-Boereoorlog, is op 21 Oktober 1899 binne die reservaat geveg en die oorspronklike hospitaal staan steeds binne die grense. Daar was ook die Slag van Isandlwana op 22 Januarie 1879 en ’n paar kilometer verder is die Slag van Rorke’s Drift op
22 en 23 Januarie 1879 geveg. Voorwaar ’n gebied met ’n ryk geskiedenis.

By een lodge begroet ’n groot olifantbul my. Ek staan op die houtdek langs die swembad wat uitkyk op ’n watergat. Oom Olifant les sy dors vandag met swembad­water. Hy suig water met sy groot slurp op en kyk stip na my en ek wonder of hy sy slurp gaan reguit maak en my natspuit.

Ek wag met opgehoue asem, maar hy druk sy slurp vinnig in sy bek, spuit die water daarin en stap dan verder.

’n Skemerkelkie word op die laatmiddagrit bedien terwyl die son stadig in die weste sak. Ek staan langs die voertuig en terwyl ek in my kamerasak grawe, hoor ek ’n geritsel agter my.

Ek draai baie stadig om en sien ’n witrenoster wat agter ’n bos uitloer. Ek staan doodstil en tot my verbasing verskyn daar nog een, en dan nog een en nog een.

Die vyf bulle is baie rustig en stap voor die voertuig verby. Eers toe al vyf hier vlak voor my staan, besef ek weer eens hoe geseënd ek is om nog sulke manjifieke diere te siene te kry.

Dit is voorwaar ’n eer om dié groot menere van naby te beskou – veral in dié tye waarin ons die hartseer van renosterstropery beleef.

Ná ’n heerlike nagrus wag ’n dag propvol opwindende aktiwiteite op my. Ek lê besoek af by die Le Seur-jagluiperdprojek wat ’n trekpleister vir elke ouderdom is.

Eers maak ek kennis met Zulu, ’n meerkatmannetjie wat almal se harte steel. Dan is dit tyd om die jagluiperdwelpies te ontmoet.

Die welpies is baie rats en lewendig. Hulle jaag mekaar speel-speel en spring op mekaar sonder dat hulle besef hulle is reeds besig om te leer hoe om eendag as volwasse jagluiperds weer in die natuur vrygelaat te word.

Met elke welpie wat hier gebore word, word daar beoog om hulle weer in die natuur vry te laat sodat ons nageslag ook hierdie elegante katte in die natuur te siene kan kry.

Luiperds is my gunsteling-diere en vandag gaan ek hopelik die geleentheid kry om met Vega, ’n luiperdwelpie, te speel.

Hy is as klein welpie alleen naby Underberg gevind. Hy was gelukkig, die Le Seur-jagluiperdprojek het hom aangeneem en hulle maak hom groot met die hoop om hom ook weer vry te laat.

Vandag is Vega meer as net ’n handvol en pure lewe. Ek stap by die hek in waar hy agter ’n stomp verdwyn. Hy dink ek sien hom nie en spring dan met ’n hoë sprong agter die stomp uit en gryp sy kussing wat op die grond lê.

Luiperds en jagluiperds is voorwaar fassinerende katte. Dit is lekker om te weet dat al hierdie katte ’n blink toekoms het en dat die langtermynplan is om hulle ’n kans te gee om weer wild te kan wees.

Gaan besoek gerus hierdie skatkis en jy sal vind dat dié juwele beslis van uitsonderlike gehalte is.


Twee witrenosters vlak langs die pad.

Goed om te weet:


* Verblyfbesprekings moet direk by die lodge waar jy wil bly, gedoen word. Besoek dus die webwerf by www.nambiti.com.
* Die Nambiti- private wildreservaat is ’n malariavrye gebied in KwaZulu-Natal.
* Nambiti is 25?km oos van Ladysmith geleë en is sowat vier ure vanaf Johannesburg en drie ure vanaf Durban.
* Daar is ’n landingstrook vir klein vliegtuie, asook twee landingsblaaie vir helikopters.
* Jy kan kies en keur tussen nege luukse lodges binne Nambiti: Nambiti Plains, Nambiti Hills, Esiweni, Elephant Rock, Umzolozolo, Lion’s Valley, Springbok, Woodlands en Nambiti Falls.
* Wat Nambiti uitsonderlik maak wat wildbesigtiging betref, is sy dra-kapasiteit. Dit is amper twee keer meer as dié van die meeste groot safari-bestemmings in Afrika. Dit beteken daar kan meer wild per hektaar aangehou word as in die meeste ander reservate.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 1-19°C Sunny. Mild.
Jhb: 0-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: -1-15°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 14-19°C Mostly sunny. Cool. PE: 10-16°C More sun than clouds. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!