Koninkryk van koraal in ’n warm oseaan

2012-09-01 15:47

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Warm Valium. Só het die Britse skrywer A.A. Gill die Maledive opgesom. Baie akkuraat, het Eppy Strydom gedink toe sy kop onderstebo in die warm seewater snorkel. Dis ’n slukkie medisyne vir die bewussyn wat jou vrylaat om hoër as die wolke te sweef.

Het jy ’n droombestemming vir wanneer jy eendag die lotery wen? Hier is ’n voorstel: Die Halaveli-oord op die Ari-ringeiland in die Republiek van die Maledive. Dis afsondering en bederf op ’n kosmiese skaal, met die stempel van die vyfster- Franse Constance-groep subtiel in die detail van jou vakansie-ervaring ingeweef.

Die groep ringeilande waaruit die land bestaan en wat soos ’n halssnoer van koraal in die warm Indiese Oseaan lê, is skuins onder Indië geleë. Die suidelikste stukkies sand, sowat 800 km verder, raak-raak aan die ewenaar.

Suid-Afrikaanse toeriste besluit gewoonlik om eerder op eilande soos Mauritius of die Seychelle uit te span omdat daar nie direkte vlugte van Suid-Afrika na Malé, die hoofstad van die Maledive, is nie.
Maar moenie dat die ekstra ure aan reistyd jou afskrik nie. As jy op soek is na ’n verlate, intieme eiland-ervaring is die Maledive met sy ongerepte koraalriwwe suiwer skedule 4-medisyne.

Ons groep van vier vertrek saam met Flight Centre na Malé ná ’n wagtyd van sowat ’n halfuur op Dubai se blink en besige lughawe. Vier uur later stryk ons neer op die eiland wat die lughawe huisves, digby die helderkleurige wolkekrabbers wat die Malé-eiland toepak. Die hoofstad met sy meer as 120?000 inwoners is geleë op ’n stukkie sand nie veel groter as 20 of 30 rugbyvelde nie. Die enigste ruimte vir uitbreiding is boontoe – in helder, primêre kleure.

In die plaaslike taal, Dhivehi, staan die Maledive bekend as Dhivehi Raajje, wat “eiland-koninkryk” beteken. Die res van die bevolking woon op sowat 200 van die eilande en ’n hele paar hotelgroepe huur meer as 80 van die res om hul eksklusiewe oorde te bedryf. Die land se hoogste punt bo seespieël is maar iets soos 2?m en die gevolge van klimaatsverandering is ’n wesenlike bedreiging vir dié kultuur wat twee millennia terugstrek.

Die plaaslike inwoners lyk baie soos Sri Lankane met donker velle en swart krulhare. Die vroue vou hul hare onder kopdoeke weg, want Islam is al meer as agt eeue lank die Maledive se nasionale godsdiens.

In die lughawe borrel die kwik van die hitte. Ons meld sweterig aan vir die laaste been van ons reis: ’n Vlug op een van die Maledive-lugtaxi’s, ’n rooi vliegtuigie wat lyk of dit op twee kano’s gemonteer is en wat op seewater dobber. Ons gespe ons vas en styg op met ’n streep watersproei agterna.

Ons bestemming is die Halaveli-oord, vyf tydsones vanaf Suid-Afrika. Dis die soort plek waarheen jy gaan om geld te verduister. Superweelderig. Ultra-eksklusief. En in teenstelling met Constance se Moofushi-oord waar jy ’n pakket koop wat alles insluit, word hier van elke slukkie en proeseltjie boekgehou en in Amerikaanse dollar verreken. Só slaag die oord daarin dat net die supersterre van kapitaal – meestal ryk Russiese oligarge – dit tot hier maak.

Dis werklik fabelagtig.

Die lugtaxi land op die turkoois soutwater en ons klim oor na ’n dhoni, ’n houtbootjie met ’n dak, waar twee van Halaveli se personeellede ons met yskoue, opgerolde wit waslappies verwelkom. Die waslappies, wat in sitroengras geweek is, word ’n kenmerk van die oord. Voor en ná enige inspanning, of selfs net met ’n verskyning in ’n openbare ruimte, word jy ’n waslappie aangebied wat jou siel uit die sauna van jou lyf trek.
Terwyl ons nader vaar, vervul die uitsig op die oord my met welbehae. Palmbome met heldergeel blare wat onder die jonger, groenes uitsteek, leun vanuit die eilandsand.

Die sand is fyn soos poeier in die kleur van ivoor. Hoogwater, besef ek weldra, is wanneer die branders so 30?cm hoog rys voordat dit breek. Vanaf ’n pofkussing langs die see of ’n strandstoel langs die swembad trek die eindelose oseaan elke denkbare stukkie stres uit jou gemoed. Benewens die 28 strandvillas en die spandabelrige presidensiële villa, troon ’n trein van 57 watervillas op betonstelte bo die water uit.

’n Mens bereik die villas met ’n houtpaadjie wat meters ver die see in strek. Die pragtige Jing-restaurant, wat nie elke dag oopmaak nie, en die Spa de Constance, wat ’n haar- en skoonheidsalon insluit, is ook hier vlak bo seespieël geleë.

Micky, die meisie wat ons op die eiland rondwys, neem ons in ’n gholfkarretjie op die houtpaadjie na ons watervillas. Jy kan enige tyd so ’n karretjie ontbied om jou rond te ry, maar ek geniet die kort stappie tussen die kamer en die eiland – dis per slot van sake die grootste inspanning wat ek by Halaveli doen.

Micky vertel die tennisspeler Roger Federer het ’n rukkie ná Wimbledon vir twee weke hier kom uitspan en ’n paar balle op die eiland se tennisbaan gemoker. Daar is ook ’n hipermoderne gimnasium vir diegene wat wil spiere pomp.

Die watervillas is iets om te aanskou. Vanuit die gang deur die voordeur skuif houtdeure na weerskante toe oop. Aan die een kant is die badkamer met ’n losstaande, ovaalvormige bad, ’n groot stort met verstelbare houtblindings wat uitkyk op die see onder en langs jou en ruim instap-hangkaste aan weerskante van die twee wasbakke vir jou en jou metgesel. Aan die ander kant is die sitkamer, wat soomloos oorslaan na die slaapkamer en uitloop op ’n houtdek waar die water van jou eie persoonlike plonspoel ’n klein horison voor die uitgestrekte oseaan vorm. Die plafon in die slaapkamer lyk soos ’n omgekeerde skuit, wat die gevoel van ruimte beklemtoon.

Die versiering binne die kamer is elegant en skoon in room- en poeierblou, afgerond in houtmeubels en -vloere. Oorkant die bed is ’n 42”-platskerm-TV met ’n wye keuse van rolprente, musiek en TV-stasies in verskillende tale, asook internettoegang. Onder die skerm en die blad waarop die koffiegeriewe pryk, is die mini-kroeg wat bestaan uit drie yskaste: Een met happies soos sjokoladestafies, nougat, neute en skyfies; een met gaskoeldrank, vrugtesap en bier; en een met drie of vier Franse wyne. ’n Paar bottels hardehout staan op ’n rak binne die laaste kas saam met die pryslys wat begin by $7 (sowat R56) vir ’n Snickers-sjokoladestafie.
Deur die loop van ons verblyf staar ek soms na die stafie, streel dit ’n keer of wat en maak dan maar vir my ’n soet espresso in die koffiemasjien. Die moerkoffie is in verskillende sterktes en daar is genoeg om die nagkantoor van ’n dagblad deur ’n aand te kry.

Die verskillende soorte tee, in sakkies van fyn geweefde materiaal, word ook rojaal uitgepak.

Aandete is ’n langsame okkasie wat met skemerkelkies begin en drie of vier ure later met ’n nagereg voltrek word. Die diens is voortreflik met ongeveer twee personeellede vir elke gas sodat persoonlike aandag sommer van twee kante tegelyk kom. Die personeellede is van sowat 50 nasionaliteite sodat moedertaal-diens in baie gevalle moontlik is.

Renato, Halaveli se algemene bestuurder, onthaal ons die eerste aand in die Jing-restaurant. Soos by die villas speel die visse skuins onder ons in skole rond en breek soms die water met ’n uitbundige boog.

Met my uitpakslag vroeër die dag het ek ontdek ek het die (boonste) helfte van my bikini by die huis gelos. Ek vra Renato of daar ’n winkel op die eiland is wat swemklere verkoop. Ja, sê hy, maar dit is baie duur. En omdat die Maledive ’n Moslem-land is, word enige vorm van naaktheid – selfs in die plonspoel by jou villa – nie net afgekeur nie, dis verbode. Of soos die groot Fransman sê: “Illegal.”

Uit nuuskierigheid kyk ek die volgende oggend na die swemklere in die winkel. Die eiland-chic modes ís duur – sowat $360 (R2?960) vir ’n bikini. Bygesê, ’n bikini van Armani. ’n “Tank-top” sal moet deug vir my water-ekskursies, besluit ek, want daar’s geen manier dat ek die snorkel en skubaduik gaan misloop nie.

Ons vaar met ’n dhoni na een van die ander eilande op die ring om seeskilpadjies te siene te kry. Mario, die personeellid wat ’n video-opname van die ekskursie maak, is ’n grapjas met ’n malle gesig wat ons almal laat skater, selfs die vier Chinese aan boord. ’n Paar van die ingewydes dra duikpakke en “gear” en die res van ons is uitgevat in paddavoete en snorkelbrille. Mario spring eerste in die water met die onderwater-kamera. Die lens is so groot soos ’n straatlig.

Dis my eerste snorkel-ervaring en ek voel soos ’n ruimtevaarder wat ’n ander planeet betree. Met my kop onder water is dit doodstil, behalwe vir my egalige asemhaling wat soos ’n Pink Floyd-ritmeseksie klink. Die sonlig penetreer die water en verlig die koraal wat soos ’n anderwêreldse woud voor my opdoem. Visse in kleure en vorms wat ek nog net in The Little Mermaid gesien het, vleg deur die onderwater-bos. Ek strek my hande voor my uit en sien hoe die sonlig daaroor speel.

Ek swem deur ’n skool visse wat reg voor my verdeel sodat dit voel of ek deur ’n spook swem. Jy sien hulle, maar jy voel hulle nie, so netjies pypkan hulle jou.

Dan wys Natalie, ons snorkel-instrukteur, na onder en jou werklik, ’n groterige seeskilpad klim deur die water in stadige aksie. Hy bly naby die koraal en verdwyn dan na die bodem waar dit al donkerder word.

Die onderwater-ervaring laat my eufories voel, asof ek besef: “Dit is hoekom ek nog leef. Ek moes eers hierdie wêreld sien.”

Een van die vele hoogtepunte aan die kosfront is die aandete in die wynkelder op die eiland. Die binnekant van die kelder is uitgevat in kurkproppe wat in die lengte deurgesny en aan die mure vasgegom is. Ons merk ook ’n paar Suid-Afrikaanse name op. Eerste op die uitvoerende sjef, Glen, se spyskaart is ’n Malediviese geelvintuna tartare wat Cedric, die Franse sommelier, met Movia, ’n vonkelwyn uit Slovenië, paar. Nes die vonkelwyn bruis Cedric met ’n passie vir die wingerd. Hy kantel die bottel in water en kap die nek sekuur met ’n groot lem af om van ’n soort aanpaksel ontslae te raak. Ná ’n pikante seekossop volg die hoofgereg van kreef en “palm
heart”-kerrie gepaar met ’n St. Aubin premier cru. Vir nagereg volg “koskosneut in drie teksture”, wat uit ’n stukkie koek, ’n roombolletjie en ’n sorbet bestaan en my reguit na eilandhemel neem.

Buiten seeskilpaaie se doppe, was tuna eeue lank die eilandvolk se ruilmiddel. Vandag nog is tuna ’n stapelvoedsel in die Maledive. Een middagete bestel ek dus ’n voorgereg van tuna- en salm-sashimi (rou vis wat in skywe bedien word) wat by nabetragting as ’n hoofgereg sou deug so rojaal is die porsies.

Die garnale en glasnoedels, my keuse vir hoofgereg, is egter manjifiek: Yskoud met ’n effense byt danksy fyngekapte brandrissies. In die warm weer, met my kaal voete onder die tafel in die koue poeiersand wat die vloer van die restaurant vorm, is dit heerlik verfrissend.

Renato vertel ons die watervillas is baie gewild onder mense wat die oord die eerste keer besoek. Wanneer hulle ’n tweede keer kom, kies die meeste ’n strandvilla. Dié villas, sommige vir paartjies en ander vir gesinne, het dieselfde geriewe, maar word omhein deur lae muurtjies en groot, tropiese struike en bied dus ’n bie­tjie meer privaatheid as die watervillas met hul oop voorkante. Die badkamer van die strandvillas het nie mure nie en staan so te sê in die tuin.

Die laaste aand van ons verblyf val saam met ’n afskeidspartytjie vir een van die bestuurders. Ná aandete sit ons en ’n paar van die personeellede op die pofkussings langs die donker see en gesels. Uiteindelik vind ek iemand wat tydens die tsoenami in 2004 op ’n eiland in die Maledive was.

Sonny, van Indië, vertel sy ma was ’n bol bekommernis toe sy hom uiteindelik oor die telefoon in die hande kry. As werkers was hulle onbewus van die tragedie wat in Thailand en Sri Lanka aan die ontvou was. Wonder bo wonder het die tsoenami die Maledive “oorgeslaan”. Die water het net sowat 10?cm diep oor sy eiland gestroom, sê hy.

Teen vyfuur die oggend, toe ek uiteindelik gaan inkruip, breek die eerste lig oor ’n silwer oseaan.



’n Lugtaxi en ’n dhoni dobber op die water voor die duiksentrum. | Foto’s: Eppy Strydom


Constance Halaveli-oord
www.halaveli.constancehotels.com

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-24°C High level clouds. Mild. Pta: 12-26°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 9-21°C Sunny. Mild. Bfn: 8-25°C Mostly sunny. Mild.
Dbn: 17-28°C More sun than clouds. Warm. PE: 16-23°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!