Ongerepte wildernis bied ruimte en rus

2012-05-26 15:57

Hier in die noorde van Botswana, in die Chobe-bosreservaat wat grens aan die westelike kant met die Chobe Nasionale Park, kan ek heeldag net sit en die vreemde in staar.

Dit is voorwaar ’n panoramiese uitsig oor die Choberivier en Caprivi-vloedvlaktes. In hierdie geweste beweeg die wild vrylik rond en nie lank nie of ek gewaar ’n paar waterbokke. Met ’n kremetartboom regs en ’n rotspoel links van die houtdek voltooi dit die mooiste prentjie.

Vanuit die rotspoel of vanaf ’n luierstoel op die dek kan gaste die omgewing indrink. Met so ’n prag-landskap kan ek nie anders as om te besef dat die Kunstenaar daar bo hier nóg ’n unieke kunswerk geskep het nie.

Middagete staan reeds reg en bestaan uit allerlei peuselhappies wat my mond laat water. Tuisgemaakte bros aartappelskyfies, souttert, slaaie en ander eetgoedjies staan die tafel vol. Alle komplimente aan Paddington Muguza, die kok, wat dit alles so smaakvol berei het.

As jy hier rondloop, moet jy maar versigtig wees, want met wilde diere kan mens dalk net in die moeilikheid beland X iets waarvoor ek nie vandag lus is nie.

My grasdak-suite, nommer agt, is die verste vanaf die lodge se hoofgebou en dus loop ek ekstra versigtig. Die rivierfront-suite is ruim en luuks met groot vensters wat uitkyk oor die rivier en vlaktes, en so hier en daar is daar ’n kremetartboom wat uitsteek.

Hier is ook ’n private buitestort vanwaar jy die wêreld kan bespied. Binne is ’n ruim badkamer, asook klein sitkamer, mini-kroeg, koffie- en teegeriewe, lugversorging en ’n dakwaaier wat aan gaste ekstra gemak bied.

Die koninggrootte bed lyk baie aanloklik, maar daar is nie nou tyd vir slaap nie. Ek het ’n laatmiddag-wildbesigtigingsrit wat wag.

Ek stap stadig, ore gespits, al met die grysklip-voetpaadjie langs tot by die hoofgebou. Van hier vertrek ek op die rit. Olifante is volop en mens sien hulle gereeld.

Waterbokke en rooibokke is ook hier en daar te siene. Ons hou stil om ’n skemerkelkie te geniet terwyl die son in die weste oor Namibië sak.

Die roepstem van Afrika, die visarend, laat van hom hoor terwyl sy maat in die verte antwoord gee.

Aandete word bedien en die sappige biefstuk smelt in my mond. Dit, tesame met die boeiende naggeluide, rond ’n perfekte dag in Afrika af. Vanaand hoef ek darem nie weer die voetpaadjie aan te durf nie. Ek word met die wildbesigtigingsvoertuig by my suite afgelaai, want niemand wil dié tyd van die nag ’n olifant of leeu vierkant in die oë kyk nie.

Ná ’n heerlike stort klim ek in die groot bed. Kort voor lank oorval die moegheid my en ek vertrek na droomland.

Vroegoggend is ek uit die vere. Ek het baie opgelees oor die Chobe Nasionale Park en vandag gaan ek kyk of die boeke die waarheid vertel. Ná ’n heerlike ontbyt vertrek ek saam met my gids, Synack Nawa, op ’n voldag-safari deur die park.

Die Ngoma-ingangshek is net 5 km vanaf die lodge geleë. Sommer op pad daarheen sien ons bromvoëls, olifante en sebras wat die pad oorsteek.

Die park is groen en ek hoop om sommer nog baie van die meer as 75 soogdierspesies en 450 voëlspesies te siene te kry. Ons sien ook ’n trop komiese bobbejane wat ons vermaak met hul aapstreke. Mens kan beslis nie kla dat jy te min olifante en buffels sien nie, want hulle is volop.



Ek kry ook die geleentheid om die eerste keer in my lewe die basterwaterbok, oftewel letsjwe, te sien te kry. Dit is ’n middelslag- tot groot bok wat altyd naby water aangetref word. Dan is daar ook kameelperde, swartwitpense, waterbokke, sebras, rooibokke en koedoes wat ek op my lysie afmerk.

Synack hou by ’n groot boom stil. Voëltjies vlieg heen en weer en raas vreeslik. Ek kan sien dat hulle vandag sommer baie omgekrap is. Ek gryp my verkyker en tot my verbasing sien ek waaroor al die bohaai gaan. ’n Groot boomslang seil versigtig teen die boom se stam op om iets te ete te soek. Die voëls duik op die slang af om hom van koers te bring en hul spanwerk word beloon. Die slang kies die hasepad om elders kos te gaan kry.

Ek word bederf met ’n heerlike piekniek in die park se piekniekgebied. Tafeldoek, eetgerei, hoender-voupakkies, slaaie, soutbeskuitjies en kase word op die piekniektafel uitgepak. Voorwaar vingerlek-lekker, so in die bos!

Ons sien baie herbivore. Klein, goudgeel skoenlappertjies sit op groot bolle olifantmis wat in die pad lê. Soos wat ons nader ry, fladder hulle op en gaan sit dan weer soos magneetjies op die mis.

Die Chobe Nasionale Park beslaan 11 700 km² en bied ’n lekker daguitstappie vanaf die lodge.

Ongelukkig ontduik die groot katte my vandag, maar hier is so baie om te sien dat die res van die diere beslis daarvoor opmaak. Ek kry ook ’n blik op die hoogs bedreigde swartaasvoëls wat saam met ander aasvoëls aan ’n karkas vreet.

Die dag is nog lank nie verby nie en nou is dit tyd vir ’n namiddag-riviervaart. Met die kwik steeds in die 30’s smeer ek maar weer die sonbrandroom dik aan my gesig. My arms en bene het reeds lekker gebrand en dit is tyd om die ná-sonbrandroom ook in te span.

Die vaart op die legendariese Choberivier stel glad nie teleur nie. Olifante staan nader om hul dors te les terwyl buffels rustig op die oewers wei. Seekoeie speel in die vlak water en ’n massiewe krokodil lê in die son en bak.

Die waterlelies is voorwaar pragtig, maar die gids waarsku dat ons nie te ver oor die boot se rand moet leun om hulle af te neem nie, want mens weet nie watter ongediertes onder die water skuil nie. Sy woorde was skaars koud toe twee krokodil-ogies tussen die lelies verskyn en dan weer onder die water verdwyn.

Ná ’n ongelooflike vaart is dit tyd om na die lodge terug te keer. Dit is reeds donker toe ons voor die hoofgebou stilhou. Terwyl ek aansit vir aandete, dreun die weer in die verte en blitse verlig die vlaktes.

Ek is skaars terug in my suite toe die heerlikste reënbui oor hierdie deel van Botswana uitsak. Dit koel beslis die aarde en diere af, dink ek by myself terwyl ek in die bed lê en terugdink aan die dag se gebeure.

’n Nuwe dag breek aan. Ek trek die gordyne wyd oop en spring terug in die bed. Die reën het die aarde gereinig en ek sien ’n beweging vlak voor my venster raak.
’n Statige eland maak sy verskyning. Hy staar ’n rukkie na my en stap dan rustig verby.

Die uitsig oor die vlaktes vanaf die houtdek is vanoggend ekstra-spesiaal. ’n Reënboog strek van links na regs en ’n trop rooibokke wei in die verte onder die helder boog.
Dit is vir my baie moeilik om vanoggend totsiens te sê. Met ’n mengelmoes van gevoelens moet ek my rug op hierdie pragtige natuurskoon draai.

Wild Horizons, die eenstop vervoer- en aktiwiteitverskaffer in Chobe, laai my op en van hier vertrek ons na die Kazungula-grens waar ek met ’n veerboot van Botswana na Zambië vaar sodat ek betyds in Living­stone kan wees vir my 1Time-vlug na Suid-Afrika.


 goed om te weet


* 1Time het vyf retoervlugte na Livingston gedurende die week (Maandag, Woensdag, Donderdag, Vrydag en Sondag).
* GPS-koördinate: 17°56’58.02”S en 24°41’35.57”O.
* Die Ngoma Safari Lodge is 55 km van die naaste dorp, Ka­sa­ne, geleë. Die lodge is ’n skamele 5 km van die Ngoma-ingangshek van die Chobe Nasionale Park en net 7km van die Ngoma-grenspos (met Namibië).
* Die lodge bied agt alleenstaande, luukse rivierfront-suites met ruim binne- en buite-leefgebiede.
* By die lodge se hoofgebou is ’n ontvangsgebied, ’n sitkamer, ’n eetkamer en ’n kroeg. Hier is ook internetgeriewe, ’n swembad en ’n sondek.
* Toegang tot die Chobe Nasionale Park beloop R360 per persoon, maar maak net seker van die tarief wanneer jy bespreek.
* Die Chobe Nasionale Park se ingangshekke is die volgende tye oop: 1 April tot 30 September: 06:00 – 18:30; en 1 Oktober tot 31 Maart: 05:30 – 19:00.
* Om van Botswana na Zambië met die Kazunga-veerboot te vaar kos sowat $10 (sowat R80) per persoon.


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-15°C Numerous showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 3-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-18°C Sunny. Mild. Bfn: 5-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-27°C Sunny. Warm. PE: 10-22°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!