Sewe dae op die louwarm kobaltblou

2012-11-11 00:36

Dis pikdonker toe ons op Nose Bé se piepklein lughawe land. Ons is dankbaar om die vriendelike gesigte van ons gashere vir die paar dae, David Byrd en sy kollegas van Admiral Charters Madagascar, anderkant die sekuriteitshekke te sien. ’n Mens voel mos maar effens verstrooid as jy oorsee reis, laatnag land en boonop nie die taal verstaan nie.

Ons ry per taxi na die klein, beskutte inham waar die maatskappy se twee katamarans op die ligte golfies dobber. Die geur van ilang-ilang vul vir bykans 20 minute die taxi. Ons ry in ’n klein bootjie na die katamaran waar David ons voorstel aan die span wat ons vir die volgende sewe dae gaan rondneem. Kyle Nelson Devine is ons kaptein en onwillekeurig dink ek aan die liedjie The Seagull’s Name was Nelson, want hierdie Pretoria-seun is so tuis op die water en agter die stuur van ’n boot as wat die seemeeue tuis is op die oseaan.

Die eiland is vol van vrywillige en tydelike werkers – van onderwysers en bosbouers tot toergidse en dekmanskappe vir bote en katamarans. Hulle bly in basiese verblyf onder die palmbome en warm water, vars melk en baie van die luukses wat toeriste geniet is dié jong mense nie beskore nie. Maar nou ja, ons was almal een maal jonk en het op die grond geslaap en koue storte gehad! Dalk nou wel nie heeldag rys en halfgekookte boontjies as stapelvoedsel gehad nie, maar tog ons eie kosrillers op klein salarisse gehad.

Ons sjef is Frederique Zamon d’ Raphael, maar ons hoor by David hulle noem hom “Cookie”. Die ander lid van ons span is Pauloto Jean Paul Hassan, kortweg Hassan, wat ook behendig is agter die kospotte, maar ook algemene takies verrig.

Ons 40 voet-katamaran het geen mas of seile nie, werk net met ’n kragtige motor en doen van Oktober verlede jaar diens as huis-boot-restaurant-braaiplek-visvangplek-ontspanplek vir toeriste. Toe ons die lekker gerieflike kamer as ons eie ingerig en ons klere uitgepak het, voel ons sommer tuis. Daar is vanieljesade in ons kassies en elke keer as jy ’n handdoek, hoed of swembroek uithaal, vul die geur van vanielje die kamer.

Die drie mans werk soos ’n goed geoliede masjien. As daar krisisse aan boord is, word dit opgelos elke keer as ons sorgeloos in die louwarm blou water gaan swem of snorkel, of vir lang namiddagslapies onder in ons kajuite verdwyn. David vertel ons: “Daar is ’n ongelooflike gevoel van vryheid hier.” Hy sê mense kom op die eerste dag aan boord met hul koppe op ander plekke, stres duidelik op hul gesigte. Ná ’n dag of wat is die skouers ontspanne, ouers en kinders kry geleentheid om kwaliteittyd saam deur te bring en almal lag en grap saam.

“Om ’n Vrystaatse boer te sien met allerhande kwellinge oor sy oes of sy kudde, wat ná twee dae groot visse vang, saam met die dolfyne en mantas swem en soos ’n baba slaap, is vir ons lekker,” vertel Kyle.

Soggens is ons om 06:00 uit die vere om van pure origheid in die louwarm water te spring en te swem. Ná ’n warm stort is Frederique se ontbyte elke oggend ’n ander verrassing. Hy tower drie etes per dag op, al is ons talle seemyle van die land met geen teken van ’n mark of winkel in sig nie. Ons klap met elke maaltyd hande vir sy innovasies van varsgebraaide vis, steurgarnale met sy geheime speserye, tuisgemaakte slaptjips, beesvleissosaties of gebraaide hoender wat vir ure in allerhande souse gemarineer is.

Kyle gesels soggens met ons oor die dag se weer, die beste snorkel- of stapplekke en deur die dag vaar ons tussen die eilande Nose Komba, Nose Iranja, Nose Tanikely en Nose Mamuke, waar ons soms aan wal gaan met ’n klein rubberbootjie, tussen die klein huisies van piesangblare en hout rondloop en lemurs in die bome gaan soek. Die lemurs ruik die oorryp piesangs in ons hande en voor jy jou kom kry, spring een op jou skouer. Sy sagte handjies trek jou vingers nader en hy eet versigtig die piesang uit jou hand uit.

Madagaskar het 71 lemurspesies. Sommige is nagdiere, ander is aktief in die dag. Met ’n besoek aan Lemur Land op Nose Bé later die week, vertel ons gids, Emmanuel Razakason, ons dat die ringstert-lemur, sekerlik een van Madagaskar se bekendste diere, 14 swart strepe en 14 wit strepe op sy stert het.

Dié diertjie is koning Julien XIII in die animasieprent Madagascar en die self-aangestelde koning van die Madagaskar-lemurs. In die fliek praat hy met ’n Indiese aksent en hou van sing en dans.

Toe ons agt dae later in Johannesburg land en vir ’n rukkie by familie oorbly, kry ons ’n briefie op ons bed van my man se negejarige niggie. “Het julle Alex die leeu, Marty die sebra en Gloria die seekoei in Madagaskar gesien?” Haar enigste verwysingsraamwerk, soos vele ander mense s’n, is die animasieprent, waarin sy al hierdie dierevriende leer ken het.

“Nee,” antwoord ek haar later. “Daardie diere kom nie regtig daar voor nie. Net die lemurs en die verkleurmannetjies is regtig en van hulle het ons baie gesien.”

Sy lyk effe afgehaal, maar toe helder haar gesiggie op. “Lemurs, is dit koning Julien en het jy foto’s?” Ek wys haar die talle foto’s van die lemurs op my digitale kamera en hoor weer Emmanuel se stem: “Dis magiese klein diertjies hierdie, hulle gebruik nie hul sterte om te klim en klouter nie, maar bloot vir balans. Hulle het net een baba op ’n slag en as daar nie genoeg kos is nie, sal hulle nie paar en kleintjies kry nie.”

Ek kyk af na die klein dogtertjiegesiggie wat in verwondering staan en luister. “Ek wil ook eendag die lemurs gaan kyk,” verklaar sy, voordat sy omdraai en buite in die tuin met die skaaphond gaan speel.

In my hart hoop ek dat dit haar eendag beskore sal wees, want ontbossing het diere laat uitsterf en net 18% van Madagaskar se woude laat oorleef. Natuurbewaarders is erg bekommerd oor die toekoms van die eiland weens die afwesigheid van behoorlike natuurbewaring. Ons het een aand in die Lokobe- nasionale park op ’n begeleide nagwandeling gegaan. My teleurstelling om te sien hoe bome afgekap en plante platgetrap is en te hoor dat die piesangs, pynappels en vanielje-orgideë in die park geoes word, was groot.

Die gids het my onbegrypend aangekyk. “Maar dis ons mense se oorlewing, dat hulle van die vrugte kan eet en verkoop en die ilang-ilang en vanielje kan oes en op die mark verkoop,” antwoord hy, voordat hy verder in die pikdonker woud instap en na slange en paddas soek om vir ons te wys.

Ons groet ons gashere by die klein lughawe, van waar ons na Antananarivo vlieg voordat ons Johannesburg toe gaan. In die klein vertreklokaal sit ek en uitkyk oor die ruigtes anderkant die vliegveld en dink aan die ­Nose Bé?-toerismedirekteur, Michel Ramasy, se woorde: “Ons hoop dat besoekers aan Nose Bé verras sal wees. Ons het 340 sonskyndae per jaar, vars vrugte, groente, hemelse vanielje, sjokolade, koffie en ilang-ilang, magiese seelewe en spierwit strande met palmbome, klein nedersettings en mense wat in eenvoudige bote met ryssakke vir seile visvang, wat jy saans vars kan eet. Wat meer kan jy vra as wat hierdie paradys jou bied?”

Ja, paradys voorwaar, en so naby aan Suid-Afrika jy kan amper vir ’n naweek kom kuier.



Werd om te weet

* Malgassies is die amptelike landstaal, maar Frans word ook gepraat. Die Malgasse is nie baie mal oor die Franse nie en sukkel maar eerder in Engels voort!
* Jy het geen immunisering nodig vir ’n besoek aan die land nie. ’n Gratis visum wat 30 dae geldig is, word met jou aankoms op die lughawe uitgereik.
* Vir meer inligting oor die geleenthede en natuurwonders van Nose Bé, besoek die amptelike toerismeburo in Hell-Ville of gaan loer na die webwerf www.nosybe-tourisme.com
* Vir ’n sorgelose vakansie, bespreek by Admiral Charters Madagascar. Kontak hulle by 021 553 5199, shirley@admiralcharters.co.za of www.admiralcharters.co.za.
* Daar is twee keer per week vlugte met Air Madagascar van Johannesburg na Antananarivo (Tana) en vandaar na Nose Bé. Die vlug van Johannesburg na Tana is net meer as drie en ’n half uur en die vlug na Nose Bé ’n verdere uur.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 8-19°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-14°C Sunny. Cool. Bfn: 2-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 12-22°C Showers early. Morning clouds. Cool. PE: 9-22°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!