Splinternuwe oord op ’n ou vasteland

2012-01-28 13:40

Die chalet-tipe wooneenhede is die toppunt van weelde en val in die klas van die superrykes. Foto: Eppy Strydom

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

My rugsak bult waar ek inboek op die Lufthansa-vlug na Genève, via Frankfurt. Binne-in is elke stukkie warm klere wat ek het, plus handskoene, serpe, beanies, dik sokkies en kollega Margaret se stewige ski-pak. Dit lyk omtrent of ek vir Khulubuse Zuma ingepak het.

Dis die eerste keer dat ek Europa besoek X die geboorteplek van die wetenskaplike metode en die demokrasie, waar ’n langdurige vrede nogtans eers minder as 70 jaar gelede gesluit is. Dis ’n besoek waarvan ek al 20 jaar droom: Onkreukbare Europa, waar die treine klokslag loop, die leerplan op skool filosofie insluit en mense die
korrekte bedrag in ’n onbemande houertjie op straat gooi voordat hulle ’n koerant optel.

Net voordat ons groep van nege op die lughawe by Genève neerstryk, verkyk ek my aan die reuse-Lémanmeer waaruit die Rhônerivier langs die Switserse hoofstad verbykronkel. Op die oorkantste oewer lê die Jura-bergreeks onder ’n spierwit sneeukombersie. Van hier is dit sowat twee uur per bussie suid-wes, verby Annecy en Albertville, na Club Med se splinternuwe ski-oord, Valmorel, in die Savoie Mont Blanc-streek van die Franse Alpe.

Naby die piepklein dorpie, die gehuggie Valmorel, loop die pad met haarnaalddraaie soos ’n luislang teen die berg op. Die sneeu van byna ’n meter diep lê soos ’n dik laag versiersuiker op die dakke van die dorpshuisies en die paar motors wat in die parkeerterrein staan. Die skerp punte van die bergpieke raak aan die hemel en die landskap is wit, behalwe vir die dennebome wat van ver af soos dowwe steenkoolvlekke lyk. Buite ruik dit soos ys.

Valmorel, Club Med se 19de ski-oord in die Europese Alpe, lê bo-aan die Tarentaise-vallei, afgesluit van die dorpie, en met sy karamelkleure en donker houtfasades teen die wit doek van sneeu lyk dit soos ’n huisie waarvoor Hansie en Grietjie hul lippe sou aflek.

Een van die beste dinge van ’n Club Med-vakansie is dat alles by die prys ingesluit is: vervoer, verblyf, etes, drankies en aktiwiteite. Die enigste ekstras waarvoor jy moet opdok, is spa-behandelings en duur drank soos VSOP- en XO-cognac of Franse sjampanje. Die vakansiegroep roem hom op sy vriendelike diens en die beste bewys hiervan is waarskynlik die bereidwilligheid van die personeel om Engels te praat.

“Moenie bekommerd wees oor Frans praat nie,” het my Franse vriendin, Pascal, nog voor die tyd raad gegee. “Praat van die begin af Afrikaans, dan sal hulle baie vinnig oorslaan Engels toe.” Danksy die personeel se behulpsaamheid is dit uiteindelik glad nie nodig nie.

In teenstelling met die aardse kleure buite, is die dominerende kleur binnenshuis ’n vrolike helderrooi. Die binnenshuise ontwerpers Marc Hertrich en Nicolas Adnet het die dekor behartig en hul visie was om ’n ruimte van fantasie te skep. In die voorportaal lê ’n groot rooi tapyt op die donker vloer en dik, nagemaakte boomstamme reik deur die plafon. Op twee platskerms, versier soos kaggels, dans virtuele vlamme. In die lang, breë gange oppad na die kamers groei bondels ligte onder rooi lampskerms soos towersampioene vanuit die mure. Die rooi, tesame met sentrale verhitting, skep ’n warm atmosfeer X een waarheen jy graag terugkeer na ’n ruk se speel buite in die sneeu. Plek-plek is daar ook onverwagse hoeke met onder meer ’n takbokkie van metaal as fokuspunt. My “club”-kamer, een van 208 in die vierster-klas, is knus ingerig met ’n roes-oranje oorsprei oor die styfwit duvet. Dit sluit aan by die donker-oranje in die kopstuk, aangevul deur ligte hout, ’n grys-en-wit-sneeumotief en twee vollengte
spieëls wat die gevolge van dekadensie uitstippel. Die platskerm-TV bied inligting, rolprente en TV-programme in verskeie tale asook ’n handvol musiekgenres om van te kies. Daar is verskeie ligstellings, onder meer liggies wat soos twee dik, wit kerse flonker. Dit neem my ’n hele dag voordat ek agterkom die kerse brand nooit uit nie. Praat van fantasie!

’n Mens loop deur die badkamer na die slaapkamer, wat met ’n afskorting geskei kan word. Vir ’n bietjie meer geld kan jy ’n “deluxe”-kamer kies, wat ’n balkon en ’n mini-kroeg insluit. Daar is ook nege kamers spe-siaal ingerig vir mense in rolstoele.

Die badkamer is uitgevoer met muurteëls wat soos hout lyk en die plafon loop na weerskante skuins af om die indruk van ’n houthuisie te skep, soos dié van Heidi se oupa.

Ek raak sommer vroeg-vroeg intiem met die diep, warm bad bevriend, waar ek die lang vlug en die ys in my pype laat week. Ek pak vir Khulubuse uit, tuur vir ’n wyle uit op die sneeuhange wat buite my kamervenster blink en maak my tuis tussen die wit beddegoed waar ek ’n uur lank wegraak voordat die groep vir middagete ontmoet.

Etenstyd is ’n belewenis. Die verskeidenheid en die oordaad op die buffettafels maak dit moeilik om te glo Europa beleef ’n resessie. Dis nie net die legendariese Franse cuisine wat voorgesit word nie, maar ook verskeie internasionale geregte. So kies ek ’n Chinese bamboeshouertjie met verskillende soorte dumplings op gestoomde stukkies kool en wortel waaroor ek sojasous drup, en stywe basmati-rys. Dis ’n ligte, gesonde ete wat ek terdeë geniet, maar ek besluit om tog ook die biefstuk te proe. Ek vra die sjef om twee skywe van die fillet af te sny, vergesel deur ’n sterk groenpepersousie en ’n bietjie polenta. Die biefstuk is basies net geseël met die vleis in die hart nog rou, of soos die Franse sal sê, bleu. Perfek! Ek eet met genoegdoening en sukkel om my oë oop te hou, so lekker is dit. Tussendeur vul kelners die glase aan met Frankryk se voorkeurwyne. Ek het baie respek vir ’n kultuur wat die sensuele vier.

Later die middag klop ek aan by die “Spa by Carita”, Club Med se grootste spa in die Alpe, vir ’n pamperlangsessie. My terapeut, Valentine, neem my na die Volupté-kamer. Die masseerbed word van onder verhit en broei die hele sessie lank onder ’n growwe wit handdoek. Sy werk lank op my bene met ferm bewegings en Fluide de Beauté uit die Carita-reeks. Later draai sy my om en werk in sirkels op my gesigspiere, langs my neus op en op my voorkop, sodat dit voel of sy my gedagtes uitvee. Dis die eerste keer in my lewe dat ’n massering lánger as ’n uur voel. Ná die tyd is my lyf lig en volkome ontspanne en dit voel of ek ’n entjie bo die vloer sweef. In die groot ontspanningslokaal waar ’n mens ná ’n sessie kan uitspan, drink ek Gunpowder-groentee en staar na die reinwit sneeuberge buite die vollengte-vensters.

Die volgende oggend, ná sterk swart filterkoffie, warm croissants en wit kase vir ontbyt, pas ons ski-skoene aan by die sentrum wat ski-toerusting uitleen. ’n Mens moet net jou eie ski-pak en -bril saambring, die res word voorsien, onder meer ook sneeuborde en skoene waarmee jy in die sneeu kan voetslaan sonder om weg te sak (baie gewild onder die Chinese). As ’n totale groentjie – ’n mens kan maar sê ’n donkergroentjie – vind ek die ski-skoene wat by die ski’s inglip, baie ongemaklik: Ek moet my knieë die heeltyd gebuig hou en dit voel aanmekaar of ek vooroor wil val.

Instrukteurs van Frankryk se ski-skool bied afrigting vir elke vaardigheidsvlak aan. Ons beginners leer in die kinderpark hoe om met ski’s aan te stap en hoe om te “snow plough” – die kuns om teen ’n afdraande stadiger te ry en te stop. Die twee handstawwe en valhelm wat ek so ewe uitgeboek het, is heeltemal onnodig teen dié spoed. Maar dit is ’n “thrill” om buite in die sneeu te wees.

Vir meer ervare skiërs wag ’n wonderwêreld waarin hulle hul vernuf kan slyp. Valmorel is in die Grand Domaine geleë – ’n gebied met meer as 85 ski-bane wat saam meer as 150 km lank is. Daar is roetes vir elke vaardigheidsvlak: 22 Groen- (die maklikste baan met ’n helling wat nie baie steil is nie); 38 Blou- (’n bietjie moeiliker baan met ’n ietwat steiler helling); 17 Rooi- (’n steiler baan vir skiërs en sneeubordryers wat meer selfvertroue het) en 8 Swart- (steil hellings wat slegs vir gevorderde skiërs en sneeubordryers geskik is).

’n Mens kan van buite die toerustingkamer ski (of “snow plough”) na die kabelkarretjies wat onder in die dorpie geleë is en van daar kan jy na verskillende bane gelig word. Dié ritte is gratis danksy die Club Med-bandjie om jou pols.

Ek is maar dankbaar om ná twee uur verlos te wees van die ski-skoene en besluit om ná middagete die binnenshuise swembad op te soek, eerder as om verder in die sneeu te ploeg. Die swemkamer is pragtig ontwerp met reuse-glasvensters wat op een van die sneeubane uitkyk en verskillende kleure lig wat in die water dans. Die temperatuur van die water voel lou vir 28ºC en ek moet ’n paar lengtes swem om nie te bibber nie. Ná my swem besoek ek die stoomkamer waar die sweet in strome van my lyf afrol, waarna ’n yskoue stort die balans herstel. Yspoele en ’n warm borrelbad wink aan die buitekant.

Die aande in die oord word gewy aan partytjies. Dis ’n Club Med-tradisie dat die werkers saam met die gaste fuif en daar word geen moeite ontsien om elke aand ’n skouspel in ’n bepaalde tema op te tower nie. Die vertoning wat my asem wegslaan, is die vlinders: mense op stelte, in veelkleurige satyn en sy, met reuse-vlerke en -vangnette, wat ’n paar gaste oor die kop “vang” en nader trek. Om 18:30 begin die aand met apératifs (aptytwekker-drankies), dan volg aandete en teen 21:30 se kant is die reuse-sitkamer as ’n danslokaal ingerig waar mense tot vroegoggend jol.

’n Bespreking by die À la Carte-restaurant is ’n absolute moet. Voorgereg bestaan uit kaviaar met ’n sopie vodka aan die kant, en dan klein stukkies foie gras op ’n sosatiestokkie geryg saam met soet, warm peer, aangevul deur ’n klein happie crème brûlée.

Vir hoofgereg bestel ek kreef wat met rys en ’n seekossousie bedien word, en crème brûlée as nagereg. Dié ete vat die koek van my besoek.

Die ski-oord bied spesiale programme vir babas vanaf vier maande tot tieners onder 18. Kinders vanaf drie jaar kan ski-lesse by die instrukteurs kry. ’n Nuutjie vir Club Med is die “gym” vir kleuters en die skoonheidsalon vir tieners. Die buitelug-ysskaatsbaan is van sintetiese stof gemaak, wat beteken dat ’n mens regdeur die jaar kan skaats. Die somerfoto’s van groen berghange en helder waterstrome is net so bekoorlik soos die sneeulandskap.

Mense wat nie omgee om ekstra geld te spandeer nie, kan in die vyfsterklas bly. Die kamers is heelwat groter en sluit ’n sitkamer en duur koffiemaakgeriewe in.
Vyfstergaste kry ook toegang tot ’n eksklusiewe sitkamer in die toring van die oord. Hier is duur drankies op die huis (jy bedien jouself) en elite koffieboeke en kuns kan ’n mens lank in die uitgekose ruimte laat vertoef.

En vir die superrykes is daar gesogte chalet-woonstelle. Daar is ’n keuse van twee, drie of vier kamers met ’n private ingang, ’n kombuis, balkonne, terasse en jou eie privaat ski-kluis. ’n Privaat-butler sorg dat die kaggel brand wanneer jy tuiskom, pak jou bagasie uit en sien om na die kleingoed.

’n Pendeldiens neem jou na die oord waar jy toegang tot alles het. Vir ’n ekstra bedrag kan jy ontbyt, ’n noenmaal en aandete in jou chalet nuttig of ’n chef huur wat die kos in jou kombuis voorberei.

Daar is vele dinge wat my bybly: die doodste stilte in die nag buite die geboue, waar die sneeu alles uitdoof, die reuk van koolstowe wat in die dorpie hang, die fris Europese perd in die hoofstraat wat lyk of hy van kleins af “gym” en die sagte gons van Franse geselsies, asof die mense met monde vol broskoek praat.

Ek was wel die meeste van die tyd in ’n splinternuwe oord, maar die tydlose skoonheid van Europa se Alpe het ’n baie ou aar in my hart raakgeboor.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 10-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 8-17°C Sunny. Mild. Bfn: 7-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 17-24°C Rain late. Morning clouds. Mild. PE: 12-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!