Stad van meesleurende, fassinerende uiterstes

2012-11-11 00:36

Die Groot Boeddha is een van die moetsien toeriste-aantreklikhede| Foto: Margaret mentz

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Hongkong is aan die suidkus van China, in die Pearl-rivierdelta aan die Suid-Chinese See. Hoewel dit ’n wêreldstad is met ’n uitgestrekte stadsprofiel en ’n besige natuurlike hawe, word dit ook omring deur pragtige natuurskoon.

Die stad strek oor sowat 1 104 km2 en met ’n bevolking van sowat sewe miljoen mense is Hongkong een van die mees digbevolkte gebiede in die wêreld. Die bevolking bestaan uit 95% etniese Chinese.

Hongkong se Han-Chinese is die meerderheid van die bevolking en kom hoofsaaklik van stede soos Wuhan en Taishan in die naburige Guangdong-provinsie. Ons tuiste vir die twee dae in Hongkong is die Regal Kowloon-hotel wat gerieflik geleë is in Tsimshatsui, Hongkong se bekende kommersiële en vermaaklikheiddistrik. Die hotel is ’n pragtige mengsel van klassieke Europese elegansie en Oosterse gasvryheid.

Ons het ’n besige program om soveel moontlik van die stad gesien te kry, daarom is die eerste stop die volgende oggend Victoria-piek. Ek en Lily, ’n mede-joernalis van Suid-Afrika, word deur Frosti Lau, die algemene bestuurder van Cathay Pacific Suid-Afrika, op ons ontdekkingsreis vergesel. Dit is wonderlik om ’n gebore en getoë Hongkonger as toergids te hê.

Die kwik is vroegoggend al in die hoë twintigs, dus maak ek my reg vir ’n baie warm en bedompige dag. Maar alles anders word oorskadu deur die heerlike vooruitsig om dié stad waarvan ek al so baie dinge gehoor het, te sien.

Victoria-piek is Hongkong se hoogste punt en die plek wat ’n onverbeterlike 360°-uitsig oor die stad gee. Die spits is 552 m hoog en is veral gewild as blyplek onder die sogenaamde tai-pans (buitelandse sakemense wat in China woon en werk). Die uitsig op die Victoria-hawe maak dit duidelik waarom dit ’n gesogde adres is om eiendom te besit.

Dit is eintlik die tuiste vir ’n radiotoring, maar wanneer mense na “Die Piek” verwys, beteken dit ook die omliggende uitkykpunte en ander geriewe.

En glo my, die uitsig slaan jou asem weg. Dit is daarom een van dié toeriste-aantreklikhede in Hongkong en op ’n helder sonskyndag kan jy die ander omliggende eilande ook sien. En, sê Frosti, dit bied boonop ’n asemrowende uitsig oor die stadsliggies in die aand.

Ons gaan maak ’n draai by die Madame Tussauds-wasmuseum in die Piek-toring. Hoewel ek al in die Madame Tussauds in Londen en Amsterdam was, is ek weer beïndruk deur die lewensgrootte beelde wat op ’n druppel water soos die ware Jakob lyk. Tussen die meer as 100 wasbeelde beleef ons baie pret. Daar is talle lawwe en lagwekkende oomblikke danksy die verskillende gesigsuitdrukkings wat saam met sterre soos Bruce Lee, Barack Obama en Nicole Kidman uitgetoets word en ’n paar skreeusnaakse foto’s kry gestalte. Wanneer jy die piek besoek, maak gerus gebruik van die Piek-trem. Die trem word deur ’n kabel teen ’n steilte opgetrek en die rit van sowat 10 minute is omtrent die hele pad teen ’n skerp vertikale hoek. Maar die opgaan is nie so skrikwekkend soos die afkom nie!

Wanneer die trem opwaarts beweeg, het jy ’n uitsig oor die pragtige landskappe met die oerwoud van geboue afgewissel deur groen heuwels. Dit is inderdaad ’n baie opwindende rit. Maar, genade tog, met die afkomslag ry jy agteruit en dit vat my ’n rukkie om op my gemak te voel.

Ons eet middagete by die Tsui Wah-restaurant in Wellingtonstraat in sentrale Hongkong. Die Tsui Wah-restaurantgroep is een van die bekendste informele restaurante in Hongkong. Frosti beskryf dit as die Mugg & Bean van Hongkong en daar is verskeie van dié restaurante regdeur die streek. Ná ’n heerlike middagete stap ons na Central Pier 9 vir ons rit op ’n duk ling (’n tradisionele Chinese vissersboot). Dié ritte vertrek ook van die Kowloon-pier en die boonste vlak van Tsim Sha Tsui. Aan boord die duk ling kan die stad se pragtige hawe en omliggende dele besigtig word.

Dié bote is die laaste outentieke Chinese seiljonke en is oorspronklik besit deur Chinese vissermanne. Dié bote het honderde jare gelede die waters van Asië deurkruis.

Dit vat my terug na ’n vorige era en herinner my aan die romanse en intriges van vroeëhandelsbedrywighede. Met ’n welkome briesie en watersproei wat oor my gesig spat, dommel ek amper weg.

Die aand geniet ons ’n tradisionele Chinese ete by die Chao Yang-restaurant in die Tsim Sha Tsui-winkelsentrum in Nathanweg. Frosti bestel onder meer die peking duck. Ná ’n mislukte probeerslag besef ek my terkortkominge en vra Frosti om maar eerder vir my ’n vurk te vra, aangesien ek en die chopsticks nie vriende is nie. As ’n kind van Hongkong vra hy in sy beste Kantonnees ’n vurk en tot groot konsternasie van almal in die restaurant bring ons kelner die vurk en sit dit netjies voor Frosti neer. Sy gesigsuitdrukking spreek boekdele en voor hy homself kan keer, sê hy: “Nou wat nou?”

Een kyk in sy rigting en ons skaterlag dat ek naderhand die trane van my wange moet afvee. Die ander kelners kan hulle ook nie beteuel nie en bars uit van die lag. As die enigste Europeër in die restaurant wat meer happies in haar bord as in haar mond laat beland, is dit verstommend en ook skreeusnaaks dat die kelner die vurk voor ’n Hongkongse boorling neersit.

Opgeruimd en aangenaam versadig stap ons ná ete na die bekende Ladies’ Market. Die meer as 100 stalletjies maak dit ’n winskopiejagter se droomuitstappie. Die mark strek oor ’n kilometer in Tung Choistraat af. Ek span my beste onderhandelingsvaardighede in en kibbel oor pryse. Dit is veral die skaakborde met handgekerfde figuurtjies wat my aandag trek en, ná ’n hele paar keer se wegstap en hernude onderhandelinge, koop ek ’n groterige skaakstel vir sowat R150 wat in sy eie tassie kom. Dit is net die regte geskenk vir my man, André, wat ’n kranige skaakspeler is.

Die mark het sy naam gekry danksy die hoeveelheid klere en bykomstighede vir vroue wat te koop aangebied word. En ja, jy kan van ’n horlosie tot skoonheidsmiddels, handsakke, meubels, CD’s, sykouse en ander snuisterye te koop kry. Gelukkig het ek ’n beperkte begroting (en net soveel toegelate bagasie) waarby ek moet hou, anders sou ek sekerlik met ’n klomp pare skoene en handsakke weggestap het.

Ek het al baie foto’s van die Groot Boeddha gesien en die vooruitsig om dit eerstehands te beleef maak my die volgende oggend kinderlik opgewonde.

Die afgeleë Po Lin-klooster is in ’n welige groen berglandskap. Dit is ook die tuiste van die Tain Tan- Boeddha, ook informeel bekend as die Groot Boeddha. Die standbeeld is in 1993 opgerig, troon 34?m hoog en kyk na die noorde oor die Chinese mense uit. Hierdie majestueuse bronsbeeld trek groot getalle pelgrims van oor die hele Asië.

Ons vertrek met die Ngong Ping-kabelkarretjie en dit is ’n visuele skouspel. Die kabel oor 5,7 km is ’n eerste in Hongkong. Die rit begin by Tung Chung, kruis Tung Chung-baai en bereik dan ’n substasie op die lughawe-eiland. Dan begin dit ’n klim van 60°in die rigting van Noord-Lantau.

Die rit duur 25 minute en dit is die beste uitsig van die Suid-Chinese See en die golwende grasvelde van Noord-Lantau-park. Die rit bied ook ’n panoramiese uitsig oor Hongkong se internasionale lughawe, Lantau-eiland en die Ngong Ping-platorand.

Wat ons rit nog meer spesiaal maak, is dat ons in een van die nuwe kristalkajuite ry. Die kristalkajuit is van ’n spesiale glas gemaak en dit bied jou ’n onbelemmerde uitsig. Dit is slegs die staalbankies wat nie deursigtig is nie en dit voel eienaardig om met my voete op die glaspaneel te staan en tot doer onder in die dale te kan sien. Dit is asof ek bo die aarde sweef.

Met ons aankoms bo stap ons stadig verby klein winkeltjies met allerhande toeriste-snuisterye.

Maar ek is die heeltyd bewus van die Groot Boeddha. Dit is alomteenwoordig. Dit maak nie saak waar jy jou bevind nie, daar is die gerustelling dat die Boeddha oor jou waak.

Toe ek uiteindelik voor die standbeeld staan, trek ek my asem skerp in – dit is oorweldigend, allesoorheersend en massief.

Die standbeeld se oë, lippe, die helling van die kop en die geligde regterhand, ’n teken van seënwense, is ’n vergestalting van die nederige diepte en die waardigheid van dié karakter. Dit het 12 jaar geneem om die enorme Boeddha te voltooi.

Ek en Frosti begin die 268 trappies na bo klim en ons stop elke nou en dan om die standbeeld van ’n ander hoek te besigtig en sy vele dimensies waar te neem. En ons word beloon met ’n ongerepte uitsig oor die berge en see vanaf die Boeddha se basis.

Oorkant die standbeeld is die Po Lin-klooster en een van die belangrikste Boeddhiste-heiligdomme en toevlugsoorde. Dit staan ook bekend as die “Boeddhiste-wêreld van die Suide”. Dit is die tuiste van baie toegewyde monnike en die klooster gee uiting aan die openbarings van die Boeddhistiese ikone. Die pragtige tuine het helderkleurige blomme en voëls wat vrolike deuntjies fluit.

Die klooster is ook bekend vir sy restaurant wat slegs vegetariese disse voorberei en dit is die perfekte manier om ons besoek aan die klooster af te sluit.

Wat is ’n besoek aan Hongkong en China sonder om tee in al sy fasette van nader te leer ken? Net voordat ek na die lughawe toe moet vertrek, gaan ek vir ’n Chinese tee-waarderingsklas. Dié klas word op ’n eg tradisionele manier aangebied en die Chinese vrou wat dit aanbied, praat op ’n sagte, maar passievolle wyse oor tee.

Chinese tee word deur dié mense as ’n daaglikse noodsaaklikheid beskou en dit het ’n baie sterk kulturele simboliek.

Afgesien daarvan dat dit gedrink word vir sosiale redes, word dit ook erken vir sy medisinale eienskappe en in godsdienstige rituele gebruik. Tee word ook met feestelike kos soos maankoeke voorgesit. Daarom is dit nie verbasend nie dat wanneer Chinese emigreer hulle hul tee en kultuur saamneem na hul nuwe tuiste.

Tee verteenwoordig ook die amptelike bekendstelling van ’n bruid aan haar nuwe familie, sowel as aanvaarding van haar in haar man se familie.

Chinese tee-waardering het ’n lang geskiedenis en wanneer tee gebrou word, is dit ’n verfynde aktiwiteit. Die meeste teeliefhebbers sal ook ’n groot versameling teepotte, teestelle en bykomstighede hê. Chinese tee, word ons meegedeel, word geklassifiseer in verskillende kategorieë soos swart-, oolong-, groen-, geel-, wit- en blommetee.

Elke tee word beïnvloed deur die verskille in ligging, klimaat en grondtoestande, oksidasie en die roosterproses en gee aanleiding tot ’n wye spektrum van smake en geure.

Aan die een kant van die spektrum is die swaar, geroosterde en volledig geoksideerde swarttee. Aan die ander kant is ’n wittee met min fermentasie. Tussenin is die ander soos oolong-, groen- en geeltee.

Tee-waardering is ’n aangeleerde smaak en daar gaan baie moeite in die maak van ’n koppie tee in.

Die Chinese drink ook nie soos ons ’n groot koppie tee nie, maar klein hoeveelhede wat met sorg en aandag voorberei is. Om tee te waardeer kan baie subjektief wees en is in baie opsigte dieselfde as wynproe. So vat jou tyd, ontdek die verskillende geure en stel vas watter soort tee jy verkies.

As ek terugdink aan Hongkong, kan ek in alle eerlikheid nie sê van watter aktiwiteit ek die meeste gehou het nie. Die stad is uiteenlopend en jy ontdek ’n nuwe aspek van menswees om elke hoek en draai.

Goed om te weet


* Hongkong is baie warm en dit is goed om ligte klere aan te trek. Dra ook gemaklike skoene.
* Daar heers ’n goeie en regverdige gesindheid onder taxi-bestuurders. Wanneer jy ’n taxi wil gebruik, maak seker jy gaan na die voorste een in die ry. As jy in die verkeerde taxi klim, sal hulle jou vriendelik, dog ferm na die regte een verwys.
* Wanneer jy Victoria-piek besoek, maak seker dat jy vroeg daar is, want dit kan baie bedrywig word en dan sal jy langer moet wag vir die Piek-trem.
* Vir meer inligting oor bekostigbare vlugte na Hongkong, kontak Cathay Pacific by 011 700 8900 of besoek die webwerf www.cathaypacific.com/za.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-15°C Numerous showers. More sun than clouds. Cool. Pta: 13-32°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 14-26°C Sunny. Pleasantly warm. Bfn: 7-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 17-35°C Showers late. Afternoon clouds. Hot. PE: 14-21°C Partly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kamptoerusting!

Ons het al die kamptoerusting wat jy nodig het teen pryse wat jou kop sal wegblaas. Gaan loer nou daarna!

Wees voorbereid vir Nasionale Braaidag!

Dit is nooit te vroeg om te begin voorberei vir Braaidag nie. Tref voorbereidings met al ons ongelooflike braai-gereedskap. Koop nou!

Koop 3 boeke & betaal vir 2

Die goedkoopste van die 3 boeke sal gratis wees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Bepalings en voorwaardes geld. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Winskopie van die week!

Hisense se 40” ten volle HD LED-televisie nou R3999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!