Viëtnam: vreemd, vredevol, vriendelik

2013-02-24 00:40

Viëtnam se markte is kleurvol en enigiets word te koop aangebied.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Ek vlieg met Qatar Airways en dit is ’n vakansie op sy eie; ek vergeet skoon dat Viëtnam my bestemming is. Die lugwaardinne en vlugkelners is vriendelik en hulpvaardig. Ek word sommer met die opklimslag ’n glasie vonkelwyn in die hand gestop. Hulle sien seker hierdie mens het dit nodig.

Ek vlieg sakeklas en wat ’n ervaring is dít nie. My oë rek groot toe ek die spasie om my sien en al die gadgets en knoppies op die stoel se armleuning. Hieraan kan ek gewoond raak, dink ek by myself.

Hoog in die lug is dit ’n avontuur soos min – ek kyk ’n rolprent, luister musiek, masseer my rug met die stoel se rugleuning of slaan die stoel heeltemal plat vir ’n lekker slapie. Slaap, nee wat, ek is te opgewonde, fliek kyk klink na ’n beter opsie. Die kos is van die boonste rakke, letterlik en figuurlik. Vyfster en vingerlek-lekker.

Ek vlieg tot in Doha en wag sowat ’n uur in die eksklusiewe sitkamer vir my aansluitingsvlug na Bangkok. In Bangkok is dit darem nie nodig om weer af te klim nie, ek wag sommer op die vliegtuig vir my vlug na Hanoi, die hoofstad van Viëtnam. Hanoi is geleë in die noordelike Rooi­rivier-delta en is besprinkel met skilderagtige mere en blaarryke kringweë en boulevards.

My gids vir die volgende paar dae, Le Van ­Cuong, ontmoet my by die lughawe met opregte Viëtnamese vriendelikheid.

Op pad na die hotel verkyk ek my aan die duisende bromponies in die strate. Almal ry tegelyk in alle rigtings, my kop draai behoorlik, en daar word die hele tyd vir mekaar getoet. Maar dis nie van padwoede nie, dit is net ’n vriende­like toet om te waarsku: “Ek is ook hier en gebruik ook die pad.” Dit is ’n mengelmoes van toeters, fietse, motors en in die meerderheid, bromponies, wat deurmekaar weef, elkeen op sy eie missie.

Die vierster-Lan Vien-hotel waarin ek tuisgaan is luuks en die koel hotelkamer bied lafenis teen die erge humiditeit buite. Vanaf die kamer se balkon begin die son sak, maar die geharwar van mense hou nie op nie, dit is asof hulle nie besef die dag kom tot ’n einde nie. Ek wonder hoe kleurvol ’n tapyt sal lyk as mens aan elke bromponie ’n gekleurde lintjie kon vasmaak.

Douvoordag kom kry Cuong my voor die hotel. Ons stap deur die strate; daar is nie veel padtekens, verkeersligte en -sirkels nie. As jy dus die pad wil oorsteek, moet jy net loop, verduidelik Cuong, maar met duisende bromponies is dit aanvanklik nie so maklik nie. Cuong leer my gou en kort voor lank steek ek die pad oor soos ’n Viëtnamese burger.

Ons is op pad na die Hoan Kiem-meer, wat die middelpunt van ou Hanoi is. Hierdie tyd van die oggend lyk dit soos ’n miernes om die meer. Jonk en oud is vroegoggend reeds daar.

Elke oggend word hier oefeninge gedoen voor die dag sy loop neem. Ou omies en tannies en die jongklomp is almal besig met die een of ander vorm van oefening, van tai chi tot ligter oefeninge – hulle stap, draf en ry fiets om die meer. Ou Viëtnamese tannies doen oefeninge op ’n grasperk. Dit gaan maar stadig, maar ten minste doen hulle iets, en nie net vandag nie, maar elke liewe oggend, verduidelik Cuong.

Hanoi is ’n historiese stad met vele tempels, pagodes en museums, soos die etnologie-mu­seum oor die 54 erkende etniese groeperings in die land. Dan is daar die geskiedenis-museum en die Ho Chi Minh-museum, waar ek meer leer oor die lewe van dié land se nasionale held. By die Ho Chi Minh-praalgraf kan jy die stigter van moderne Viëtnam self sien, want hy lê hier in staatsie in ’n sarkofaag van glas.

Die strate van Hanoi is steeds ’n harwar van bedrywighede. ’n Riksja-rit kan groot opwinding tot gevolg hê in hierdie uiters besige strate.

Met die opklimslag is ek bly ek is nie aan die stuur van dié voertuigie nie, want ek kan nie sien hoe ons tien meter gaan vorder deur hierdie strate nie. Tot my verbasing verloop alles seepglad – almal ry voor almal in en my mond hang oop dat niemand in mekaar vasry nie!

Tot ’n bromponie skielik voor óns indraai. Ons ry in hom vas. ’n Hewige woordewisseling ontstaan. Ek glimlag breed, want ek het geen idee wat daar vir mekaar gesê word nie. Kort voor lank vat ons weer die pad, en dié keer sonder verdere voorval.

Laatmiddag vertrek ek en Cuong na die lughawe vir ons vlug na Hué (uitgespreek “wê”) in sentraal-Viëtnam.

Ek gaan tuis in die vierster-Huong ­Giang-hotel. Die hotel se kamer is uiters ruim en bied ’n prag-uitsig oor die Perfume-rivier. Hier besef ek net weer: As dit kom by geskiedenis, kultuurerfenis, paleise, grafte en tempels – Hué het dit alles.

Hué is ’n skilderagtige en vredeliewende stad, geleë weerskante van die Per­fume-rivier, wat ’n gevoel van harmonie uitstraal. Vir middagete stap ek in by die yThao-tuinrestaurant en kry ’n middagete soos min. Die kos word met baie moeite voorberei en dit is indrukwekkend hoe mooi dit voorgesit word (mens eet tog maar met jou oë ook). Heerlik!

Die noordelike oewer van die rivier word oorheers deur ’n oeroue vesting met mosgroen mure. Die meeste van die stad se historiese geboue lê in en om die vesting, insluitend tempels, paleise en die Pers Rykspaleis, ’n replika van die Verbode Stad in Beijing.

Hué het swaar deurgeloop tydens die Amerikaanse oorlog en wat my opval, is dat baie van hierdie geboue tydens die oorlog tragies vernietig of erg beskadig is. Die Kommunistiese regering het dit opsetlik laat verwaarloos tot die 1990’s, waarna die gebied toe ’n Unesco Wêreld­erfenisgebied geword en daar met restourasie begin kon word. Net ’n paar van die geboue is ongeskonde en dit maak dat die stad vir my baie bekoring het.

Dan is dit tyd vir ’n rustige bootrit op die rivier, en nee, dit ruik nie na parfuum nie, dit ruik eintlik na niks. Halfpad stop ons by die Thien Mu-pagode, ’n ikoniese gebou met talle verdiepings Vandag bly hier steeds ’n klein groepie monnike en nonne in dié pagode en ek kry ’n blik op hul lewe met my vinnige besoek.

Van Hué vertrek ek suidwaarts na Hoi An. Die vyf ure lange busrit daarheen is allesbehalwe vervelig, want daar is soveel te sien, van manjifieke see-uitsigte tot welige plantegroei wat die heuwels bedek. Die pad neem ons al met die Chinese Suidsee se kus langs bo-oor die Hai Van-pas, ook bekend as die pas van die wolke. Ons stop by die Thanh Tam-see-oord. Ek is nie juis ’n seemens nie, maar ek kan nie die geleentheid laat verbygaan om in die Chinese Suidsee te swem nie.

Ons arriveer in Hoi An, wat ook in sentraal-Viëtnam geleë is. Die kenmerkende argitektuur, ou klipstrate en prentjiemooi rivieroewer laat my snak na my asem. Hoi An is bekend vir sy-produkte en sy kleremakers. Ek stap deur die strate van dié ou stad en dit voel asof ek ’n paar honderd jaar terug in tyd stap. Hoi An is baie anders as Hanoi; die lewe hier is rustiger en geen motors of bromponies word toegelaat nie, net fietse.

Die vyfster-Vinh Jung Riverside Resort se ligging is asemrowend. My kamer is ekstra ruim en ek val op die bed neer om net so ’n bietjie te rus voor ek dit weer buite in die hitte en erge humiditeit waag om my verkenningstog voort te sit.

Hoe sal mens dit anders wil doen as om ’n fiets te huur en die oulike dorpie te gaan verken en sommer ’n bietjie inkopies langs die pad te doen? Vroegoggend is ek op en reg vir nog ’n dag van opwindende gebeure. ’n Mot­reëntjie val buite en ek is sommer uit my vel, want dit beteken die dag gaan dalk nie so warm wees nie. My vreugde is egter van korte duur, want dit is steeds baie warm toe ek my neus by die deur uitsteek.

Maar vandag gaan ek Tra Que, ’n organiese plaas, besoek en self my hande in die grond vuil maak. Ek trek maar my poncho nader. Ek en Cuong vat die pad, per fiets. Dit is nogal ’n ding om aan gewoond te raak, want ek het laas fiets gery toe ek op skool was.

Dit is so 7?km tot by die plaas en gelukkig ry ons baie rustig. Met die afdraai op die plaaspad besef ek dat die Viëtnamese fietse nie so skerp draai soos fietse waaraan ek gewoond is nie. Ek ry sowaar in die heining langs die pad vas. Natuurlik lag ek so dat ek sukkel om weer my sit en balans op die fiets te kry. Ek is seker die omstanders dink dié vrou het te veel ryswyn gehad!

Op die plaas begin almal reeds vroegdag al werk, voor dit te warm raak. Die motreëntjie het intussen gewyk en die dag word al hoe warmer. Ek kry ’n egte Viëtnamese hoed om die son uit my oë, gesig en nek te hou. Nou begin die werk. Ek werk hard – skoffel ’n bedding om, plant kruie en gooi dit nat. Asof dit nie genoeg gewerskaf is nie, moet ek boonop kruie pluk en dan wys hulle my hoe om my eie middagete te maak. ’n Salige voetmassering is net wat ek nodig het ná al die geswoeg op die lande, dink ek.

Terug by die hotel verval ek in Hoi An se ontspanne luim. By die Vinh Hung-oord be­dien hulle elke middag plaaslike disse op die grasperk aan gaste. Sout- en soethappies word voorgesit en dit help beslis om die honger kolletjie op my maag te vul.

Die mense hier se leefwyse dra beslis by tot Hoi An se aantrekkingskrag. Die skilderagtige dorpie is ongetwyfeld een van Viëtnam se gesogte skatte.

Ná ’n heerlike nagrus en ontbyt het ek ’n hele dag om na hartelus deur Hoi An se strate te wandel. Ek reis terug in tyd terwyl ek die museums besoek en deur die stil strate stap. Dié keer huur ek nie weer ’n fiets nie, my sitvlak is te seer en nie meer so gehard vir ’n fietssaal soos in my kinderdae nie.

Weerskante van die smal straatjies is huisies wat elk ’n winkeltjie onder het waar elkeen ’n bestaan maak deur T-hemde, serpe en nog vele ander artikels te verkoop. Hoi An is bekend vir sy baie kleremakers so waarom dan nie ’n stukkie prag-materiaal kies en ’n bloes daarvan laat maak nie?

Ek stap in by die Ngan Ha-klerewinkel, kies materiaal, my mates word geneem en siedaar, ’n bloes word gemaak. Dit is ongelooflik hoe vinnig en netjies ’n egte Viëtnamese bloes wat perfek pas vir my aanmekaargeslaan word. Die eindresultaat is so mooi dat ek besluit om sommer nog een te bestel vir my neef se troue wat om die draai is.

Om die stilte van Hoi An agter te laat is vir my swaar en ek staan my laaste oggend daar maar moeilik op. Boonop het my tas gekrimp, want alles wil nie meer so lekker inpas nie.

Ek kry Cuong by die bus en ons vertrek na die lughawe vir ons vlug na Ho Chi Minhstad (voorheen Saigon). Nog ’n ontdekkingsreis!

Ho Chi Minhstad is beslis die lewendige stad. Oud en nuut bots teen mekaar en is totaal die teenoorgestelde van die pagodes, mu­seums en monnike wat ek vroëer beleef het. Met sy wolkekrabbers, duur restaurante, kroeë en ontwerperswinkels is Ho Chi Minhstad soos die New York van Viëtnam. Dis nou nie juis my koppie tee nie, maar gou leer ek dat hierdie koppie tee tog ook ’n fees vir my sintuie is.

Alles is vinnig, kleurvol, luidrugtig en uiters betowerend. Bekende landmerke in Franse koloniale styl is die stadsaal en die pragtige Notre-Dame-katedraal op die hoofplein.

Ek oornag in die vyfster-Grand-hotel. Die hotel is ultra luuks en die kamer smaakvol gemeubileer. Laatmiddag stap ek deur die Ben Thanh-mark waar alles van kos, klere, handsakke en allerlei aandenkings te koop is.
Noordwes van die stad lê die historiese Cu Chi-tonnels wat ’n groot rol gespeel het tydens die oorlog. Dié ondergrondse tonnels is verstommend en ’n belewenis soos min om te sien hoe die land se mense die tonnelnetwerk uitgegrawe en nuwe tegnieke gebruik het om hul vyande weg te hou. Hulle het vals en gekamoefleerde houtingange gebou wat dit beslis moeilik gemaak het om dit op te spoor.

Wat my gefassineer het, is dat hulle kos gemaak het in die tonnels. Hiervoor het hulle “dien bien phu”-kombuise gebruik – dit het die rook uitgeput voordat dit deur ’n gat, meters weg van die kombuis af, ontsnap het.

Valdeure is in die netwerk van tonnels gebruik om te keer dat traangas, rook of water van een deel van die netwerk na ’n ander versprei. Party dele het tot ligte gehad. Om die tonnels van naderby te sien laat my stom.

En om te dink in daardie tyd was die tonnels nog kleiner en nouer as wat dit nou is.

Ek stap gebukkend met die trappies die tonnel in, maar draai vinnig om – dit is donker en die klein spasie om my laat my besef engtevrees gaan my vandag nie toelaat om deur die tonnels te loop nie. Dat die tonnels op sekere plekke so nou is dat die mense daardeur moes kruip, gee my net meer respek vir hierdie mense.

Skote met ’n AK-47 laat my hart elke nou en dan amper gaan staan. Besoekers het die kans om met dié militêre geweer na ’n teiken te skiet. Dit is oorverdowend en laat my voel asof ek ook in die oorlog is. Arme Cuong stap vinnig verby, hy het destyds self in die oorlog geveg en dit bring baie hartseer en vreesaanjaende herinneringe vir hom terug.

Die Anvien Authentic- Viëtnamese restaurant is ons stop vir middagete. Die kos is heerlik en ons geniet van Chinese rolletjies tot slaai, eend en rys wat in ’n piesangblaar gestoom is.

Die Grand-hotel se ekstragroot bed sorg vir ’n soete nagrus.

Ná ontbyt vertrek ons na Can Tho. Dit is die middelpunt van die Mekong-delta-streek en geleë op die suidelike oewer van Hau Giang, ’n syloop van die magtige Mekong-rivier. Die kleurvolle drywende markte van Cai Be is een van die hoogtepunte van die Mekong-delta. Ons vaar per boot op die rivier en sien hoe die plaaslike mense met hul bote ’n bestaan probeer maak deur hul gewasse hier te verkoop en te ruil. Ons stop ook by ’n plaaslike klein huisfabriek waar ek sien hoe lekkernye gemaak word. Ek proe van hul klappertoffies en dit is beslis ’n wenner.

Ek kan nie glo so ’n ongelooflike reis is besig om einde se kant toe te staan nie. Die laaste hotel waarin ek tuisgaan, is die vierster-Victoria Hotel Can Tho. Ná aandete is ek sommer vroeg in my hotelkamer, maar nie vroeg in die bed nie. Voor my vlug terug Suid-Afrika toe moet ek my tas omtrent drie keer oor pak om alles in te pas wat ek gekoop het.

Om vir Cuong te groet voel asof ek ’n familielid agterlaat. Wat ’n ongelooflike ervaring, iets wat ek vir ewig sal koester. Viëtnam: ’n vriendelike land, ’n vriendelike kultuur, ’n vriendelike atmosfeer, ’n moet sien.

Goed om te weet

* Viëtnam is een van die armste lande in Asië. Wees versigtig vir sakkerollers in Ho Chi Minhstad. Groot hoeveelhede kontant en waardevolle items moet buite sig wees.

* Die plaaslike geldeenheid is dong, maar Amerikaanse dollar word ook aanvaar.

* Die no. 1-reël: Wees baie versigtig vir die water, asook ys en sap wat moontlik met water gemeng kan wees. Gebruik slegs gebottelde water met ’n riffelseël. Gekookte water vir tee en koffie behoort reg te wees. Wees ook versigtig vir melk, want dit is soms ongepasteuriseer.

* In Viëtnam drink hulle hul koffie baie sterk en soet. As jy wit koffie (“ca phe sua da”) bestel, beteken dit jou koffie gaan ongeveer 30% tot 40% soet kondensmelk bevat.

* Vrugte, “qua” of “trai” is heeljaar beskikbaar in Viëtnam.

* Om restaurante te vermy wat hondevleis en ander eksotiese disse bedien, kyk uit vir die volgende tekens – “thit cho” in die noorde en “thit cay” in die suide. Hoewel dit eksoties klink om vleis soos vlermuis, padda, seeperdjie, haaivin en slang te probeer, moet onthou word dat baie van hierdie diere bedreig is en die eet daarvan verhoog dan die ondersteuning van en vraag daarna.

* Respekteer die plaaslike kleredrag, veral by heilige plekke. Moenie moulose klere dra nie en trek jou skoene uit voor jy by ’n tempel of pagode ingaan.

* Om vir die Viëtnamese te vertel jy is ongetroud en enkellopend en geniet die lewe sonder kinders sal hulle erg ontstel. Om nie ’n familie van jou eie te hê nie, word gesien as slegte geluk. Baie sal jou vra of jy getroud is en kinders het. As jy nog jonk is, sê eerder jy is nog nie getroud nie, dit word gewoonlik aanvaar. As jy nie meer so jonk is nie, ouer as 30 en ongetroud, is dit beter om maar ’n wit leuentjie te vertel en wel te sê jy is getroud.

* Dit is ongeskik om jou voetsole na mense te wys. As jy op die vloer sit, is dit wys om jou voete onder jou in te vou. Baie belangrik: Moet nooit jou voetsole na enigiets heilig soos Buddha-figure of altare van hul voorouers (wat in die meeste huise voorkom) wys nie.

* In Viëtnam word ’n pagode (“chua”) bestempel as ’n plek van aanbidding. ’n Tempel (“den”) is nie regtig ’n plek van aanbidding nie, maar ’n struktuur om aan historiese figure eer te betoon.


Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 15-20°C Mostly sunny. Mild. Pta: 11-25°C More sun than clouds. Warm.
Jhb: 11-19°C Showers late. More sun than clouds. Mild. Bfn: 11-19°C Heavy rain. Morning clouds. Mild.
Dbn: 16-22°C Numerous showers. Mostly cloudy. Cool. PE: 13-16°C Heavy rain. Mostly cloudy. Cool.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!