Misdaad maak my nie konserwatief
2010-02-27 15:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op

“Onthou, ’n liberalis is net ’n konserwatiewe wat nog nie beroof en/of verkrag was nie,” skryf iemand op Rapport se webwerf in reaksie op my vorige rubriek.
Dit laat my nadink. Maak misdaad dat mense só woedend is dat hulle masochistiese genot put uit alles wat verkeerd loop?
En ek? Hoekom glo ek nog aan die droom van ’n nie-rassige Suid-Afrika? Laat ek maar uit persoonlike ondervinding van misdaad praat.
As iemand wat besonder lief is vir Afrikaanse musiek, was die diefstal van Koos du Plessis (my vrou, Irma, se pa) se toerusting waarmee hy sy musiek opgeneem het, ’n geweldige terugslag.
Hoe verduidelik ’n mens aan die versekeringsmaatskappy wat die waarde daarvan vir Irma was? Só iets kan jy mos nie in geld meet nie.
Dit is tydens ’n inbraak by ons huis in Brixton gesteel. Die dief is later aangekeer, maar die musiektoerusting is nooit gevind nie.
Die dief se naam was Xolani, 18 jaar oud, pas uit die Oos-Kaap in Johannesburg aangekom. ’n Wit man het hom betaal om die huis se vensters en diefwering te breek, daarna ’n bedrag per artikel wat na sy bakkie in die steeg agter die huis toe gedra is.
Xolani se “werkgewer” is nooit aangekeer nie.
’n Rasse-voorval? Eerder ’n voorbeeld van samewerking oor die kleurgrens heen.
Dan is daar die keer met die motorkaping. Dit het in Johannesburg gebeur, kort ná skemer. Ons het mekaar op die sypaadjie gegroet. Net toe ek omdraai om na my motor toe te stap, haal die mans hul gewere oor en beveel ons om plat op die grond te lê.
Roger, voor wie se huis die voorval gebeur het, het sy babadogtertjie instinktief by sy vrou, Krista, gegryp en die pad in geloop, straatlig toe. Hy’t gesmeek: “Moenie my baba seermaak nie!”
Roger se systappie lig toe het gemaak dat sy buurman, wyle Eric Molobi, die voorval sien toe hy verbyry. Eric het die polisie gebel en die kapers moes besef het dat hulle min tyd het.
Maar eers moes ek plat op die pad lê, pistool teen my agterkop. Van die ander ook. Ek het my sleutels oorhandig. Eers tóé het hulle my laat hardloop. Ek het die koeël van agter verwag, maar dit het nie gekom nie.
’n Rasse-voorval? Nie almal van ons wat mekaar buite die huis gegroet het was wit nie. ’n Swart buurman, verder straataf, het saam met my teruggestap na die toneel, pistool in sy hand.
Oor die vele kere wat ek al my motor in die een of ander chop shop moes gaan haal, is daar nie ruimte om oor uit te brei nie. Of die keer toe Irma in Braamfontein vir haar selfoon aangerand is. Of die vele ander inbrake.
Glo my, niemand hoef my daarvan te oortuig dat misdaad heeltemal buite beheer is nie. Maar soveel van my swart vriende en kollegas was óók al slagoffers van misdaad. Swart mans het statisties die grootste kans om slagoffers van motorkapings te wees. Jou kans om vermoor te word as jy wit is, is amper vier keer kleiner as dié van ander bevolkingsgroepe.
Ek weet nie of ek myself as “liberalis” sou beskryf nie, maar die feit dat ek beroof is, het my allesbehalwe konserwatief gemaak. My eie ondervindings, asook die misdaadstatistieke, het my geleer dat misdaad ons almal se probleem is.
Die probleem is te groot en ernstig om aan wit sowel as swart rassiste oor te laat om ’n politieke speelbal daarvan te maak.
Hoeveel groter sou Solidariteit se impak nie gewees het as hulle daardie briewe oor misdaad aan die president saam met Cosatu gaan aflewer het nie.
Die wêreld is tog soveel interessanter as mense onvoorspelbare dinge doen.