Simonsberg, Soutpansberg en mynhope
2010-03-13 18:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dis lekker om in die Kaap vakansie te hou, sê ’n vriendin nou die dag, maar dis iets heel anders om daar te woon.
Sy sê sy verlang terug na Johannesburg se mynhope. Ons sit en kuier op Stellenbosch se konservato-riumtrappe en wag vir een van die Woordfees se vertonings om te begin. “Ja,” skerts ’n Stellenbosser wat toevallig na ons gesprek luister, “ten minste kan jy in Johannesburg sien wat jy inasem.”
Touché! Die Kaap en die Boland se berge is darem maar mooi. Ek hou ook van die gevoel wat ’n mens vir die geskiedenis daar kry, geboue wat eeue lank reeds kyk hoe mense in die straat verbykom – eers ossewaens, later perdekarre, toe die eerste motors met petrolenjins, en binnekort elektriese voertuie.
’n Plek soos Stellenbosch is so anders as die groentjie Johannesburg, ’n vulgêre myndorp wat te groot vir sy gumboots geword het.
Daar is egter pragtige berge in ander dele van die land ook, soos die noordelike dele van Limpopo. En diep kulture. Ek staan nou juis aan die voet van die Soutpansberge, héél noord, veel wilder as die getemde Boland, maar ewe mooi. Hier is massiewe nabome, wildevye, ander bome waarvan ek nie eens die name ken nie.
Ek en Irma loop in ’n begraafplaas rond, lees name op grafstene. Dis nou nie asof ons ’n morbiede fassinasie met die dood het nie; dis maar net dat ’n mens baie van ’n plek se geskiedenis in die begraafplaas kan leer. Sommige van die grafte is ’n eeu gelede gegrawe. Daar is baie Buyse, asook mense met vanne soos Da Gama, Reyneke en Smail.
Sowat twee eeue gelede, rondom 1820, het ’n vreemde man met die naam Coenraad du Buys homself hier in die Soutpansberge kom vestig. Hy was getroud met onder andere die ma van die Rharhabe-koning Ngcika, of Gaika, soos die trekboere hom genoem het. Hy het ook ’n paar ander vroue gehad en baie meer kinders as Jacob Zuma.
De Buys het nie heeltemal by die idee van trekboerpioniers ingepas nie (’n wit man met Xhosa- en Khoi-Khoi vroue!), so die geskiedenisboeke wat ons op skool gelees het, het nie veel van sy bestaan gemaak nie.
Sy afstammelinge woon egter steeds hier. Die Pedi’s en Vendas in die omgewing noem hulle die Marabuyse, ’n samestelling van Mara, een van die plase waar hulle woon, en Coenraad de Buys se van. Die Buyse praat steeds Afrikaans.
Die gemeenskap het die kaart en transport van die plase van Paul Kruger ontvang. Anders as soveel ander gemeenskappe, is die grond nooit onder apartheid van hulle vervreem nie.
Ons ry met die dorp se grondpaaie langs. Elke huis het ’n groot werf, waar mense groente- en vrugteboorde aangelê het. Die gemeenskapsaal is na Paul Kruger genoem. Ons hou buite die kerkgebou stil, luister na hoe die mense sing. Dis Afrikaanse liedere waarvan ek nie die wysies herken nie. Volgens ’n bordjie buite die kerk is die gemeente in 1868 reeds gestig. Dis amper 20 jaar voordat goud in Johannesburg ontdek is!
Skielik voel ek jaloers op die Buyse van Mara. Twee eeue lank reeds woon hulle hier, op groot werwe met die kranse van die Soutpansberge op die agtergrond. Daardie kranse behoort aan hulle. Dis húlle grond. Niemand kan dit vervreem nie.
In die plaaslike koerant lees ons van die poging om ’n grondeis op die Buyse se plaas in te stel, van die drankwinkeleienaar wat na bewering twee jong mans doodgeskiet het ná vele pogings om sy winkel te beroof, van die gemeenskap se argiewe wat kwaadwillig aan die brand gesteek is – kosbare dokumente wat hul verlede boekstaaf daarmee heen.
Ons ry terug Johannesburg toe; mynhope toe.
TWEE EEUE LANK REEDS WOON HULLE HIER, OP GROOT WERWE MET DIE KRANSE VAN DIE SOUTPANSBERGE OP DIE AGTERGROND.
- Rapport