Hoekom is almal tog so verbáás?
2012-01-14 13:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Haai, ek weet,” het Nobanda Nolubabalo waarskynlik vir haarself gesê kort voordat sy uit Johannesburg na die Ooste gevlieg het.
“Kom ek steek die kokaïen in my dreadlocks weg. Niemand sal ooit dáár soek nie. In die Ooste is dreadlocks in elk geval soos ’n diplomatieke paspoort. Hulle laat jou net deur.”
Luidens berigte was die 23-jarige Nobanda “erg verbaas” toe die Thaise polisie haar met 1,5 kg kokaïen in haar hare vang.
’n Mens kan partymaal maar net jou hande in stomme verbasing saamslaan oor ander se verbasing.
Die ergste onlangse geval was die ma’s en pa’s wat so verskriklik verbaas was oor hul kinders se gedrag by die matriekmakieties ná die eksamen in Plettenbergbaai en Margate.
Blykbaar was Margate die ergste.
Videomateriaal van Media24 se “multimedia-ondersoekspan” wys duisende (meestal Afrikaanse) jong mense wat optrek na die bekende vakansieoorde waar hulle probeer om soveel moontlik op te bring van dit wat hulle gisteraand gedrink en gerook het.
Waarom die verbasing? Wat het hierdie ouers gedink gaan hul kinders by sulke saamtrekke doen? Biduur hou?
Het hulle nou werklikwaar geglo daardie opblaasmatras en die versameling olies wat boet en sus ingepak het, was bedoel vir tan ?
Het hulle regtig hul jong spruite totsiens gewuif met die idee dat die “jong klomp” met die FAK op die skoot al singende aftrek kus toe en by elke padstalletjie gaan stop vir ’n bietjie lemoensap?
Glo hulle die stories dat daai boksies vol wasemrige wit ballonne met die lang punte net deel van die afskeidsparty se versierings is?
Sou hulle hulself vir ’n oomblik kon terugvoer na die laaste stuiptrekkings van hul eie tienerjare, sou hulle moontlik kon onthou dat al waaroor kinders op daardie ouderdom dink, is hoe om hul lywe teen mekaar te vryf. Sulke kriewelrigheid is immers nodig vir die mensdom se voortbestaan.
Dit is natuurlik baie makliker om hierdie toestand van kriewelrigheid te bereik met ’n waansinnige hoeveelheid alkohol in jou bloedstroom. Dit bied immers tydelike selfvertroue, en as dinge skeefloop, kan jy altyd die glipse, tekortkominge of vernederings daaraan toeskryf dat jy dronk of gerook was.
Om vir Homer Simpson aan te haal: “D’oh!”
Tussen al die gespook deur is daar natuurlik ook die vrome orde aan die ander kant van die spektrum wat hierdie duiwelse gedrag van ons jeug verwag. Een ou op Die Burger se webwerf (wat seker sedert my skooldae iewers in ’n kas verslaap het) glo dis die seuns se lang hare wat die swak gedrag veroorsaak.
Soos gewoonlik word die interessantste aspek van die hele storie weer heeltemal misgekyk: die manier waarop die jolytmakers uit oënskynlik bodemlose beursies vir al dié feestelikhede betaal.
Die een outjie op die video wat vas glo aan die reverse gear-metode om swangerskap te voorkom vertel trots dat hy daardie aand reeds R550 op Jägermeister uitgegee het. (Dit terwyl die arme meisie aan sy arm salig onbewus lyk van alles wat nog vir haar voorlê.)
’n Ander seun wat voor die kitsbank rondwaggel, het pas nóg geld getrek. Dít nadat hy reeds R700 aan drank uitgegee het.
In Plettenbergbaai vertel nog ’n vent sy feestelikhede gaan hom rondom R9 000 kos.
Met al daai geld kan hulle eendag, as hulle mooi groot is, sommer hul eie eiland bekostig waar hulle dag en nag na hartelus en buite sig kan fuif.
Dit spaar hul ouers ten minste die verbasing.