'Swak' een happie te ver gevoer
2012-01-28 14:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit is wonderlik as mens nou en dan bevestiging kry dat ons land nie die enigste is wat in gekheid verval het nie.
In Nederland is die wiele byvoorbeeld ook besig om lekker van die wa te val.
Ons mag miskien sukkel met ’n paar geniepsige probleme soos ’n korrupte regering, wegholmisdaad, ’n gehawende onderwysstelsel en dies meer, maar ten minste is kannibalisme nie een van ons kwelpunte nie.
Die kulturele krake in die Land van Kaas en Heuning het duidelik begin wys toe hulle destyds die wêreld onderwerp het aan die Big Brother-televisiekonsep, wat, mag ek lesers herinner, dáár sy oorsprong het.
Maar nou het dit, kan ’n mens maar sê, kookpunt bereik.
In hul naarstiglike geskarrel na nuwe idees vir werklikheidsprogramme het twee Nederlandse TV-aanbieders mekaar se vlees op BNN-televisie gebraai en geëet en in die proses “swak” in die Land van die Duisend Dyke letterlik tot nuwe hoogtes gevoer.
Die daaropvolgende bohaai in die Nederlandse media is gou getemper deur ene Gerhard Spong, ’n prokureur wat spesialiseer in strafreg. Hy het almal daaraan herinner dat kannibalisme wettig is in Nederland as dit nie “mishandeling insluit” of die “grense van ordentlikheid” oorskry nie. Hoe mens iemand eet sonder om hom (of haar?) te mishandel het menige Nederlandse kannibaal seker al hoofbrekens besorg.
En mens kan jou net indink tot watter uiterstes die arme begrafnisondernemers in daardie land moet gaan om hul “ware” te beskerm teen die honger hordes wat aan hul kadawers wil gaan knibbel.
Die twee aanbieders ter sprake, Dennis Storm en Valerio Zeno, het uit hul pad gegaan om te sorg dat die “grense van ordentlikheid” nie oorskry word nie. Hulle het ’n properse slagter gekry om die beste snitte te kies en ’n chirurg om dié stukke van Storm se maag en Zeno se linkerboud te slag voordat dit in die pan geplaas is. ’n Sjef het die dis met groen aspersies voorgesit.
Dit het seersekerlik die hoop onder Nederlanders laat opvlam dat hulle weer hulle kulturele aansien in die wêreld kan herwin. Hul owerhede probeer immers al geruime tyd hul kwynende sosiale status verhoog deur die vergunnende sosiale tradisies wat hulle so bekend gemaak het te duinkerk.
Amsterdam se stadsvaders het verlede jaar al besluit hulle wil die openbare tentoonstelling van prostitute in die rooilig-distrik begin beperk en terselfdertyd die “koffiewinkels” (plekke waar die publiek wettig dagga mag koop en gebruik) se deure sluit. Iewers het iemand vergeet dat die meeste toeriste Amsterdam toe gaan juis om so gerook moontlik ’n draai te gaan maak by ’n prostituut van hul keuse.
Wat anders is daar om te doen nadat mens die kleurryke huisies langs die gragte tot vervelens toe bekyk het? Die nagwag gaan sien?
Waar ons vandaan kom is daar een voor elke gebou.
Dit is alles goed en wel om die “swakker gehalte” toeris te wil uitsif, maar in die huidige Europese finansiële klimaat is dit baie onverantwoordelik. Gerook of nie, dis nie nou die tyd om neusoptrekkerig te raak nie.
Hulle moet nou eerder elke liewe oorsese sent probeer inwin wat hulle moontlik kan.
Hemel, in sy toestand van desperaatheid moet die stadsraad eerder daaraan dink om Jack Parow ’n “residence gig” op die Dam aan te bied wat bloedoog-jafels van heinde en ver sal lok.
Ek onthou nog die goeie ou dae toe die Amsterdamse stadsraad se kreatiwiteit hoogty gevier het.
Toe Jan Publiek en Piet Politikus gesamentlik sosiale probleme opgelos het; sonder om enigiemand in die verleentheid te stel.
Dié gesindheid het ongelukkig iewers langs die pad verdwyn. Ons kan net ons sterre dank ons sit nie met hul probleme nie.