Ombudsman: Stryd om vryheid duur voort
2011-07-02 16:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Vandeesweek breek ’n belangrike tydperk aan vir die mediabedryf, wat sedert verlede jaar nie net fel baklei teen die voorgestelde Wet op die Beskerming van Inligting nie, maar ook teen die instelling van ’n mediatribunaal.
Om laasgenoemde af te weer, het die Suid-Afrikaanse Persraad ondersoek ingestel na selfregulering – onder meer deur openbare verhore – en die raad mik daarna om sy verslag daaroor dié week bekend te maak.
Kort daarna, waarskynlik Donderdag of Vrydag, word ’n kommissie vir persvryheid ingestel. Dié kommissie, onder leiding van die afgetrede regter Pius Langa, sal die Persraad se verslag as grondslag gebruik en dalk verder ondersoek doen – alles daarop gemik om die beste praktyke vir selfregulering te vind en die instel van ’n mediatribunaal af te weer.
Die regerende party dreig daarmee omdat die media kwansuis nie sy werk goed genoeg doen nie. Die ANC meen verontregtes – “slagoffers” van mediaberigte – moet die reg hê om by ’n onpartydige mediatribunaal te kla wat verantwoording moet doen aan die parlement. So sou die demokrasie dan verbreed word en ook “om persvryheid en -verantwoordingspligtigheid te versterk”.
Vir die media was ’n tribunaal nog altyd onaanvaarbaar. Die bedryf wys daarop dat ’n komitee van die Afrika-Unie in 2002 al bevind het selfregulering is die beste manier om akkuraatheid in die media te bewerkstellig en dat Suid-Afrika ’n mede-ondertekenaar van dié verklaring was. Dat, deur selfregulering, die media hom verbind tot die beginsels van etiese beriggewing, akkuraatheid en die erkenning van persoonlike regte. Die media glo ook nie regeringsregulasies sal etieser en professioneler optrede in sy bedryf bevorder nie en wys op die voordele van selfregulering:
(1) Redaksionele vryheid bly behoue; (2) staatsinmenging word beperk; (3) die bevordering van gehalte; (4) dis ’n bewys van mediaverantwoordbaarheid; (5) dit help om lesers toegang tot die media te gee.
Om dit te bevorder, het media-instellings ’n etiese gedragskode vir hul werknemers waarby alle belanghebbendes baat kan vind.
Vir media-eienaars en uitgewers bied die kode beskerming teen kritiek en regsaksie.
Vir joernaliste dien dit as ’n standaard waarvolgens hul werk beoordeel word en vir die publiek beteken dit die inligting wat hulle ontvang, is feitelik akkuraat.
Daar word verwag dat die Persraad in sy verslag ’n verdere verbetering van selfregulering sal voorstel.
Die kommissie vir persvryheid, ’n gesamentlike projek van die Drukmediabedryf in Suid-Afrika en die SA Redakteursforum (Sanef), spruit uit ’n gevoel dat ’n instelling buite die media tog nodig is om die bes moontlike praktyke vir ’n selfreguleringsraamwerk daar te stel.
Na verwagting sal mense ’n uiteenlopende agtergrond in die kommissie dien.
Dit sluit in verteenwoordigers uit godsdiensgemeenskappe, die regte, die sakesektor en die akademie, asook die internasionale gemeenskap.
Of die ANC uiteindelik sy tribunaal-gedagte sal laat vaar, hang daarvan af of die regeerders oortuig kan word dat verbeterde selfregulering moontlik is.
Dis waarop die mediabedryf hoop.
Hoe dit ook al sy, die feit staan: Die media kan slegs sy onontbeerlike rol van waghond oor die regering vervul as die staat so min moontlik – op watter manier ook al – by sy sake inmeng.
Bronne: The Media Self-Regulating
Guidebook; F.W. de Klerk-stigting; internet.