As jy hulp wil hê, moet jy jouself help
2011-06-04 14:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die verkiesing het gekom en gegaan.
Die vraag is: Wat nou? Die ANC het op belastingbetalers se koste nóg beloftes gemaak wat hulle (ten duurste) nie sal kan uitvoer nie.
Dít terwyl ons nog die rente betaal op die vorige beloftes wat in peperduur mislukkings ontaard het. Klink ek te negatief?
Kom ek noem twee voorbeelde om my punt te verduidelik. Die Nasionale Huisbouersregistrasieraad het ’n paar maande gelede gerapporteer dat van die drie miljoen huise wat sedert 1994 gebou is ’n aardige 2,6 miljoen as hoë risiko’s geag word.
Die koste om die huise te herstel, word op R59 miljard geraam! Om watter rede sal die miljarde wat op sommige ander infrastruktuurprojekte bestee is, beter waarde vir ons belastinggeld wees?
Is hierdie wanbestuur van die staat nie die rede waarom “diensleweringsopstande” al hoe erger en selfs gewelddadiger word nie?
Gestel jy is ’n arm swart persoon wat jare lank deur die ANC op ’n politieke hongerdieët met leë beloftes gevoer word om jou stem te kry.
Jou kind se skool is disfunksioneel, jou siek ma kry nie hulp by die nog sieker staatshospitaal nie, jou woongebied word deur geweld geteister, jou huis dreig om op jou gesin se koppe in te val en jy is honger en werkloos omdat jy nie opleiding kan kry nie.
Eendag, terwyl jy wanhopig in ’n lang tou staan om werk te probeer kry by die nuwe kragstasie wat gebou word, sien jy ’n groot getal buitelandse werkers wat vrolik by die werk aangery kom. Eers neem jy aan hulle is hoogs opgeleide ingenieurs of wetenskaplikes, maar dan kom jy agter dis sweisers wat drie jaar se opleiding gekry het!
Sal die meeste van ons nie voel dat ons darem ernstig in die steek gelaat is deur alles en almal nie? Ek sou self wild na vuurhoutjies en klippe begin soek het!
’n Mens wonder soms of mense soos Jimmy Manyi nie die armes arm wil hou as regverdiging vir die ryk ANC-elite se voortgesette bevoordeling in die lig van die hardnekkige swart armoede nie? Die verryking van die elite in die naam van die armes!
Klink dit vergesog? Die volgende moontlikheid klink nog vreemder: Dat die ANC-elite die belastingbetaler se geld doelbewus wanbestuur en daardeur die armes willens en wetens ontmagtig deur swak dienste en staatshulp. Die enigste oorblywende moontlikhede is dat die ANC-elite verbysterend onbekwaam is, of ideologies só verblind dat feitlik die hele werklikheid in hul politieke blinde kolle val.
As die arm swart mense so deur die ANC in die steek gelaat word, kan ongewilde minderhede nie veel beter verwag nie. Ons moet nou gemeenskapsgedrewe selfdoen-instellings op belangrike terreine stig om ons afhanklikheid van die staat te verminder en selfstandige ruimtes te bou. Dis wat die Afrikaner vroeër jare so suksesvol onder die FAK-vaandel gedoen het en dis wat ons weer sal moet doen.
By Solidariteit het ons al gesien dat daar maniere is om selfdoen-instellings ekonomies volhoubaar te maak sodat dit nie onbekostigbaar of net vir die rykes toeganklik is nie.
- Rapport