Doelgerig na ’n toekoms vir Afrikaans
2011-08-06 15:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Tydens ’n onlangse hoërskole-wiskundekongres wat deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Universiteit van Pretoria se opvoedkunde departement gehou is, is onderwysers ingelig van die nuutste ontwikkelings in wiskundeonderrig.
Dr. Danie Brink, die FAK se nuwe bestuurshoof, spog sélf met ’n doktorsgraad in wiskunde en het die stigting van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers deurgevoer.
Die FAK gaan ook saam met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n projek aanpak om wiskunde in Afrikaanse laerskole te bevorder.
Die stigting van die wiskundevereniging vorm deel van die FAK se nuwe strategie om Afrikaanse professionele en beroepsverenigings op belangrike terreine te help stig en groter samewerking tussen bestaande verenigings te bevorder.
Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans bestaan al ’n paar jaar en het reeds baie vir Afrikaans en sy sprekers in die regswese gedoen. Daar bestaan ook al ’n Afrikaanse doktersvereniging, ’n rekenmeestersvereniging en ’n vereniging vir ingenieurs.
Die stigting van Afrikaanse professionele en beroepsverenigings, en die FAK-inisiatief om samewerking tussen hierdie organisasies te bevorder, is ’n uiters nodige ontwikkeling.
Die ou bekende Afrikaanse organisasiestrukture kan, vanweë die uitdagings van die tyd, nie alles alleen doen nie. Dit is makliker om beroepsverenigings te organiseer en te bedryf omdat lede belange in gemeen het. Daarom kan hierdie verenigings ’n groot vermenigvuldigingsrol in die toekoms speel.
Die voordeel van professionele verenigings is dat dit dwingende behoeftes op ’n afgebakende terrein kan aanspreek en dat hul werksaamhede prakties en toepaslik is.
Hierdie fokus op ’n bepaalde terrein maak dit veel makliker om ’n verskil te maak. Dit is ook ’n belangrike netwerkstelsel vir lede, waar hulle saam geleenthede kan benut en bedreigings kan teëwerk.
Dit is ’n werkbare strategie om Afrikaanse gemeenskapsbelange te bevorder. ’n Voorbeeld hiervan is die deurslaggewende rol wat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole die afgelope paar jaar gespeel het om Afrikaanse skole midde-in ’n wankelrige openbare skoolstelsel lewensvatbaar te hou.
In die laaste paar jare het die belange van Afrikaanssprekendes geweldige skade gelei omdat daar nie genoeg doeltreffende instellings is met die nodige uitvoerende vermoëns nie.
Die ANC kan dus na willekeur belange verwaarloos, grondwetlike aansprake misken en geldige strewes doodswyg.
Die goeie nuus is dat daar groeiende samewerking tussen burgerlike en gemeenskapsinstansies plaasvind.
’n Uiteenlopende groep Afrikaanse organisasies werk byvoorbeeld goed saam in die suksesvolle Erfenisstigting, terwyl die Afrikaanse Taalraad ’n belangrike knooppunt geword het vir bykans almal wat Afrikaans praat.
Deur die stigting en organisering van beroepsverenigings kan die FAK weer eens ’n leidende rol in die toekoms speel in die bevordering van taal- en kultuurgroepe se belange.
- Rapport