Gesonde waardes broodnodig
2011-09-07 08:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die meeste van ons land se grootste vraagstukke soos staatsverval,
geweldmisdaad en korrupsie spruit uit die gebrek aan gesonde waardes wat
onderliggend is aan ’n voorspoedige samelewing. ’n Land sonder waardes
is ’n “waardelose” land.
Die Britse filosoof Thomas Hobbes het die
nagmerrie van ’n land sonder gesonde waardes treffend beskryf as
“eensaam, naar, wreed en kort”.
Daar is baie redes vir hierdie
waardekrisis. In ons geskiedenis was daar nie net konflik tussen
ideologieë nie, maar ook tussen waardestelsels. Die groot omwenteling
het nie net ’n ommekeer van politieke ordes beteken nie, maar ook ’n
omwenteling in waardes.
Die probleem is dat die ANC homself as ’n
revolusionêre beweging sien wat alles in die vorige orde moes omskep tot
’n nuwe orde.
Maar die groot rede vir die mislukking van feitlik
alle revolusionêre bewegings wat die bewind oorgeneem het, was juis dat
hulle nie probeer voortbou het op dit wat gewerk het nie, maar alles
grondliggend probeer omskep het. So asof alles wat voor 1994 bestaan het
sleg was en alles wat in die plek daarvan gekom het goed is.
Selfs
tydlose waardes wat die toets van die tyd en praktyk deurstaan het moes
ook transformeer word. Die mislukking van die meeste openbare skole is
tegelyk die mislukking van die waardes wat die regering en bestuur van
daardie skole onderlê.
Ook die Malema-verskynsel van opstand teen
enige waarde of gesag is tekenend van die mislukking van die
waardestelsel van die ideologie wat dit onderlê, en wat in jare van
“vryheid voor onderwys” in daardie geslag ingedril is.
Gesonde en
samebindende sukseswaardes word in ’n land gevestig deur instellings
soos die regering en die staat, skole, kerke, die howe, die media,
burgerlike organisasies en veral deur die gesin.
Die probleem in
Suid-Afrika is ongelukkig dat verskeie van hierdie instellings wat
verantwoordelik vir die vaslegging van waardes dit nie meer doen of kan
doen nie. Die regering is eerder deel van die probleem as die oplossing
en talle van die ander instellings wat gesonde waardes probeer vaslê
word daagliks afgetakel – soos die kerk wat so ’n gerieflike slaansak
vir baie is.
Skole voer soms ook ’n opdraande stryd om gesonde
waardes te bevorder. Maar onthou dat ’n kind met ’n ingeboude
“waardekompas” nie nodig sal hê dat ander instellings soos die hof
uiteindelik van buite af waardes aan hom moet opdwing nie.
Om ’n gesonde land te hê is gesonde waardes nodig. Maar dan sal ons ook daardie instellings wat waardes vaslê moet ondersteun.
Ons
sal ook die afbreek-kultuur wat baie van die aanvalle op die kerk, die
gesin en ons skole onderlê moet teenwerk en vervang deur ’n opboukultuur
wat nie swyg oor die foute nie, maar voortbou op die goeie, in plaas
van om alles af te breek.
Dit is nodig dat ons weer gesonde waardes
duidelik omlyn en bevorder, dit gaan nie vanself gebeur nie. Daarin moet
ons waardegedrewe instellings soos gesinne, kerke en skole ’n
deurslaggewende rol speel.
Ons kerkleiers behoort hierin die leiding te neem.