Koopkrag gee ook taalkrag
2011-11-05 14:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die meeste lesers het teen dié tyd seker al die advertensies gesien of gehoor van Virseker, die korttermynversekeringsprojek wat Solidariteit onlangs begin het en waarvan die opbrengste gebruik word om die posisie van Afrikaans te versterk. Dis ses maande sedert ons hiermee begin het en die goeie nuus is dat dit ’n reuse-sukses blyk te wees.
As u my ’n advertensieslagspreuk sal verskoon: Virseker werk verseker!
Die projek is gebore uit die gewaarwording dat die werklikhede van hedendaagse Suid-Afrika dikteer dat ’n mens net iets vir Afrikaans sal kan doen as jy aan die taal ’n ekonomiese waarde gee.
Om soos in die dae van ouds na die staat te kyk om Afrikaans te help handhaaf, gaan ons nêrens bring nie.
Solidariteit het dus met die versekeringsreus Auto & General kragte saamgesnoer om ’n korttermynversekeringsproduk te ontwikkel wat spesifiek op Afrikaanssprekendes gemik is. Hiermee het ons twee hoofdoelwitte gehad: Om Afrikaanse mense in staat te stel om in Afrikaans versekering te koop en om in die proses geld te genereer wat ons kan terugploeg in Afrikaanse onderwys en -opleiding.
Die projek blyk nou so suksesvol te wees dat die Virseker-opleidingstrust wat as deel van die inisiatief gestig is, binnekort ’n wesenlike bedrag geld aan die Rapport-onderwysfonds gaan skenk. Hou maar die nuusblaaie van dié koerant dop. Ons verwag om die aankondiging binnekort te doen. Die Rapport-onderswysfonds gee op sy beurt beurshulp aan verdienstelike Afrikaanse studente en het die afgelope sewe jaar al meer as 1?000 studente, waarvan sowat 80% onderwysstudente in veral skaars vakrigtings is, gehelp om te studeer. Daar bestaan jare reeds ’n groot tekort aan Afrikaanssprekende onderwysers, en die opleiding van onderwysers in vakrigtings waar daar tekorte is, is ’n daadwerklik stap vorentoe om Afrikaans uit te bou.
Elke polis wat deur Virseker verkoop word, help dus om ’n Afrikaanse onderwyser op te lei. Binnekort gaan dié geld ook begin om bakstene te koop vir die Afrikaanse opleidingskampus wat Solidariteit volgende jaar begin bou.
Maar dit bly nie net by beurse en opleidingskolleges nie. Ons glo dat dié model Afrikaans op ’n hele paar maniere help, ’n vyfpuntplan vir Afrikaans, as’t ware.
Eerstens kry Afrikaans as sake- en reklametaal ’n inspuiting omdat ons ons produkte in Afrikaans adverteer; tweedens is dit ’n inkomste vir die Afrikaanse media wat die voortbestaan van Afrikaanse publikasies en radiostasies help verseker; derdens kry Afrikaanse kliënte die geleentheid om in hul eie taal gehelp te word; vierdens word talle Afrikaanse studente die geleentheid gebied om te studeer, wat vyfdens tot die langtermynvoordeel van Afrikaanse kinders gaan strek.
As die huidige steun van Afrikaanse mense vir die produkte van Virseker enige aanduiding is, is daar ’n groot behoefte van Afrikaanssprekendes om in Afrikaans bedien te word. Dit behoort ’n sein te stuur aan ander ondernemings om dieselfde te doen en ook produkte spesifiek vir die Afrikaanse mark te ontwikkel. As ons geld Afrikaans praat, sal sakelui luister. Afrikaanssprekendes het immers ’n derde van die land se koopkrag. Dis miljoene mense en miljarde rande.
Ek glo vas dat ons hier ’n belangrike model beet het, iets wat in die toekoms al hoe belangriker gaan word as ons die toekoms van Afrikaans wil verseker.