Skep regte klimaat, dan volg werk
2012-02-04 14:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die grootste probleem in ons land is dat te min mense werk.
Net 40% van volwassenes werk – minder as in lande soos Uganda, Ethiopië en Angola. Daarom is die regering se verklaarde hoofdoel om meer werk te skep.
Werkloosheid lei tot wanhopige armoede en die oorbelasting van die belastingbetalers om Suid-Afrika se duur welsyn-stelsel te finansier. Dit dra ook by tot die geweldmisdaadkrisis.
Die hoofoorsaak van die land se te klein werkmag is dat dit onmoontlik is om die meeste werkloses in diens te neem. Hulle het nie die vaardighede wat ’n moderne ekonomie nodig het nie. Dit spruit uit die wanbestuur van die meeste openbare skole en die naskoolse opleidingstelsel.
Werkskepping kan nooit ’n doel op sigself wees nie. Dis soos om iemand ’n gat te laat grou en dit dan dadelik weer toe te gooi. Dit is seker werk, maar voeg geen waarde toe nie en lei tot niks.
Werklike werkskepping is die gevolg van ekonomiese groei. ’n Ekonomie bestaan uit ondernemings en dit groei as dié besighede wins maak, uitbrei en meer mense in diens neem. Dit beteken dat die reuse-taak om die land se hoofprobleem op te los op die skouers van ons land se sakelui lê.
Die oplossing kan tog nooit wees dat die staat vir die werkloses werk moet gee soos tans toenemend gebeur nie. Dan moet ons belasting nog hoër om hul salarisse te betaal.
Entrepreneurskap is ook nie ’n kitsoplossing nie.
Die meeste werklose mense is juis werkloos omdat hulle nie die opleiding en vaardighede het wat hulle tot ’n onderneming kan uitbou nie.
Pres. Jacob Zuma se belofte om werk te skep is dus onuitvoerbaar. Sy regering het egter ’n noodsaaklike rol om te speel om die voorwaardes te skep wat nodig is sodat sakelui sy belofte aan die land kan nakom.
* Eerstens moet die regering landsburgers veilig hou sodat hulle produktief kan werk om die land op te bou.
* Tweedens moet hulle die land se infrastruktuur en ons stede, dorpe, skole en hospitale goed bestuur sodat die ekonomie kan werk. Dít is die platforms van ekonomiese groei waarsonder ’n moderne ekonomie nie kan bestaan nie.
* Die derde vereiste vir werkskepping is regsekerheid ten opsigte van die pilare van ’n ekonomie, soos eiendomsreg. Politieke praatjies oor nasionalisering wen miskien stemme, maar verloor baie meer werkgeleenthede. Genadiglik is daardie eenmanwapen van werkverwoesting deesdae darem stiller en een van die dae hopelik doodstil.
* Die vierde vereiste is dat die regering sy tradisioneel linkse vooroordeel teen sakelui moet laat vaar.
Hulle gaan nie werk skep as die ANC teen hulle regeer nie. Maatskappye is die enigste instellings wat die dienste en produkte kan voorsien wat die land nodig het. Hulle skep werk, betaal salarisse aan werknemers en dra by tot mediese en pensioenfondse.
Maatskappye en werknemers betaal belasting om die land aan die gang te hou en die winste maak geld waarmee die pensioenfondse mense versorg. Almal weet die markekonomie is nie ’n volmaakte stelsel nie, maar dis die enigste werkbare stelsel wat die wêreld het.
Dít bly die enigste resep om ons land se grootste probleme op te los.