Stop Malema se blaf voor hy kan byt
2011-07-06 11:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Julius Malema is ’n spieëlbeeld van die politieke kultuur en aggressiewe ideologie wat die ANC oor die jare geskep het om die land oor te neem.
Hy is onbeheerbaar, onverantwoordelik, radikaal en in opstand teen gesag. Hy intimideer teenstanders en bedryf populistiese politiek sonder om die minste verantwoordelikheid vir die gevolge van sy opswepery te neem. Kortliks, hy is die ideale struggle-aktivis.
Hy is die produk van die ANC se post-1994-besluit om ’n revolusionêre beweging te bly en homself nie in ’n gewone demokratiese party om te skakel nie. ’n Struggle-kultuur kan ’n land oorneem, maar kan hom nie regeer nie. Dis hoekom ons land vandag lyk soos hy lyk.
Malema se strategie is baie eenvoudig. Hy buit die massa armes en jeugdige werkloses se bestaansangs uit om sy eie eenpuntplan, naamlik die strewe na mag en geld – met ander woorde sy politieke loopbaan en finansiële welvaart – te bevorder.
Normaalweg sou niemand sy politieke bog ernstig opneem nie, maar in ’n leierlose ANC lyk dit soms of hy die land begin regeer. Gelukkig het Cosatu en die SAKP die afgelope week sy uitdaging aanvaar en hom polities platgeduik.
Maar dis nie genoeg nie. Malema is ’n meester van die openbare politieke spel en hy speel dit met ’n eenvoudige resep: Hy gebruik sy politieke platform om die openbare debat te oorheers met herhalende radikale eenlynuitsprake waardeur hy die vernaamste verteenwoordiger van die politieke uiterste word. Hy kry dit reg omdat hy hom nie aan enige reël of grens onderwerp nie. Al maak hy net soveel vyande binne die ANC-alliansie as daarbuite, kry sy teenstanders dit net nie reg om dieselfde hoë openbare profiel te handhaaf nie omdat hulle nie bereid is om die reëls te verbreek nie. Gehoorsaamheid aan die spelreëls is vir hulle belangriker as die uitslag, terwyl die uitslag ál is wat vir hom tel. In hierdie nuwe politiek werk stille diplomasie nie.
Trouens, volstruispolitiek werk in Malema se guns omdat hy dan die enigste speler op die veld is. Om saam met Malema in die modder te speel, is ook nie die oplossing nie.
Maar daar is ’n derde weg en dit is om dié openbare politiek met die beproefde “wapen” van openbare mening te speel, want die ANC luister nie na wie reg is nie, maar na wie se steunbasis die sterkste lyk. As jy nie groot is nie, moet jy sterk wees.
Hierdie nuwe “wapens van massamening” is drukgroepe, publisiteit, hofsake, alliansies, openbare standpuntinname, steunwerwing by besluitnemers, die gebruik van grondwetlike waghonde, buitelandse druk, politieke aanvalle en openbare stiergevegte, goeie organisasie en ’n gróót skatkis.
Hierdie nuwe spelreëls is nie deel van die Westerse styl en kultuur nie, maar dis die ANC s’n en dit bepaal die reëls.
Wie nie hierdie nuwe spel-reëls begryp en bemeester nie, gaan langs die kantlyn bly sit en kyk hoe die punte op die telbord opstapel tot die land se eindfluitjie blaas.
Malema moet met hierdie nuwe “wapens” beveg word, voordat sy irriterende blaf ? byt word.
- Rapport