Suid-Afrika laat ’n mens gelyk lag en huil
2010-09-04 11:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Suid-Afrika laat ’n mens soms gelyktydig lag én huil.
Tydens die onlangse Wêreldbeker-sokkertoernooi het dit gelyk of niks in die land verkeerd kan gaan nie. Nou lyk dit soms weer of niks reg kan loop nie.
In kort: Die Suid-Afrikaanse pendulum swaai wild heen en weer. Die een oomblik is ek lus vir sjampanje, maar ’n minuut later vir ’n brandewyn!
Daar was die afgelope tyd? ’n paar persoonlike ervarings wat my hoop vir die toekoms gegee het. Die eerste was ’n gesprek wat ek met Brian Dames, Eskom se nuwe bestuurshoof, gehad het.
Hy skep vertroue en lyk na die regte leier om Eskom weer as ’n voorste energieverskaffer te vestig. Gee hom net die kans, geld en die regte span en Eskom bly die ruggraat van die ekonomie waarom werk geskep en die land ontwikkel kan word.
Die tweede was ’n vergadering wat die president van die Reserwebank, Gill Marcus, met die leierskap van Solidariteit gehad het. Sy begryp die globale en Suid-Afrikaanse ekonomiese werklikhede deeglik en pak haar groot taak verstandig aan.
Op ’n heel ander vlak het ons gesin die Gautrein gaan uittoets en ek het weer besef dat ons land se siviele ingenieurswese steeds wêreldklas is.
Nog ’n uiters positiewe punt was die onlangse omvattende ondersoek na skoolstandaarde, wat duidelik gewys het dat ons goeie skole steeds goed met die beste lande in die wêreld vergelyk.
Ek sê die goeie skole, nie die wanpresteerders nie. Selfs die invloedryke Britse tydskrif ?The Economist het onlangs gesê Afrikaanse skole kan as gevolg van hul werkkultuur, tradisie van uitnemendheid en goeie dissipline goed met die wêreldbestes meeding. Dit het my siening versterk dat die beste onderwysers te min geld kry en die swakkes te veel!
Die laaste positiewe faktor is die massiewe ondersteuning wat die Solidariteit-beweging en al sy filiale die laaste jaar of wat van die gemeenskap kry. Dit is vir my die bewys dat daar ’n gesonde herlewing kom, dat mense nie net meer sit en kla nie, maar al hoe meer bereid is om ’n positiewe bydrae te maak.
Maar alles is ongelukkig nie rooskleurig nie. Kyk maar net na die stakings en blapse van die regering. Dit lyk of hulle vasbeslote is om mislukking uit die kake van sukses te gryp. Maar dit kan onverwags positief uitwerk.
Die regering se planne om die media te muilband het teen sterk teenkanting vasgeloop.
Hulle kom te staan teen ’n merkwaardig breë koalisie uit feitlik alle sektore van die samelewing. Die regering het deur sy optrede self die lank sluimerende burgerlike samelewing geheraktiveer tot openbare deelname.
Die leiers van belangrike sektore in die samelewing het hul paaibeleid laat vaar en vat die ANC openlik aan. Dit kan uiteindelik lei tot ’n broodnodige blywende herskikking in die land wat kan help om die ANC se magsmonopolie beter te balanseer en beperk.
Dit sal hulle ook help om te besef dat hulle nie almagtig is nie, en sal groepe buite hul dampkring noodsaaklike selfvertroue gee.
- Rapport