Toekoms net vir dié met kwalifikasie
2011-12-31 17:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die land wag saam met duisende matriekleerlinge op hulle uitslae.
Matriek is nie meer die eindstreep soos in Oupa se tyd nie, maar net die wegspringplek van voorbereiding vir ’n jong mens se werklewe.
Die vraag is watter geleenthede vir naskoolse opleiding is daar vir die sowat 75% jong mense wat nie universiteit toe gaan nie? Die krisis in naskoolse opleiding kry ongelukkig nie genoeg aandag nie.
Behalwe ons land se talle uitstekende universiteite is daar nie veel om oor opgewonde te raak nie – veral nie as jy Afrikaans is nie.
Die aantal wit, jong mense aan die universiteite van tegnologie (ou technikons) het byvoorbeeld die afgelope dekade met sowat 70% afgeneem.
Ek wil nou nie soos oorle’ Karl Marx klink nie, maar my siening is dat daar in die toekoms net twee klasse mense gaan wees: ’n betreklik klein groep kenniswerkers en ’n massa werkloses. Die hartseer- werklikheid is ongelukkig dat mense sonder opleiding mense sonder ’n toekoms gaan wees. Daarom is naskoolse opleiding noodsaaklik.
Die redenasie van sommige jong mense dat “dit tog nie sal help om te studeer nie, want wit jonges kry buitendien nie werk nie” is heeltemal belaglik. Sonder ’n goeie kwalifikasie het niemand ’n kans op ’n goeie werk nie, ongeag jou kleur.
Met ’n goeie kwalifikasie staan jy in hierdie vaardigheidshonger land van ons ’n baie beter kans om werk te kry as in feitlik enige plek ter wêreld.
Buitendien, vir ’n minderheid om in Afrika te oorleef is die eerste voorwaarde sekerlik dat ons oor die “meerderheidskennis” beskik. Armoede word net opgelos of voorkom deur goeie moedertaal- onderwys en -opleiding; nie deur staatshulp nie. Daardie les is mos al darem oorbekend.
Almal weet ook dat opleiding die beste belegging is wat ’n mens in jou eie of iemand anders se toekoms kan maak. Opgeleide mense kry meer geld omdat hulle vanweë hul hoër vaardighede in die werkplek meer kan bydra. Die werkloosheidskoers onder hulle is veel laer as onder ongeskooldes en die gemiddelde tyd van werkloosheid in geval van ’n werkverlies is baie korter.
Goeie opleiding stel jong mense mees- tal “vry” van raswetgewing en is in elk geval die enigste weg na ekonomiese vryheid.
Solidariteit se strategie is om groot dinge met kleingeld te doen nes ons voorouers, wat talle skole en kolleges gebou het met sentleggings. Ons het hulle plan net gemoderniseer en ’n tegniese kollege van R30 miljoen gebou met R10-skenkings – duisende gereelde bydraes wat deel vorm van ons lidgeld.
Ons begin in die nuwe jaar die eerste fase van ’n nuwe Afrikaanse universiteit, wat op dieselfde manier gefinansier gaan word. Dit gaan ’n telematiese, afstand- gegronde hoëronderwysinstelling wees wat na ses leersentrums oor die land heen gaan uitsaai.
Terselfdertyd finaliseer ons planne vir ’n omvattende opleidingsfonds; met die doel om aan jong mense en werkendes wat wíl ’n kans te gee om hul opleiding te verbeter.
Die plan is eenvoudig: Baie mense se gereelde kleingeld maak grootgeld. Maar die groter plan is dat jy net die toekoms kan voorspel as jy dit self skep.