Weste moet nie oorleef, maar hérleef
2011-12-03 14:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Twintig jaar gelede het die kommunisme met ’n groot gedruis op homself ingeplof en die Westerse “goue tweeling” – die liberale kapitalisme – die algemene wêreldstandaard geword waaraan almal moes voldoen.
Maar die wêreldwind van verandering waai intussen weer stormsterk. Hierdie keer is die Weste in ’n krisis en nuwe reuse soos China, Indië en Brasilië begin opstaan. Dit bring die ondenkbare vraag na vore: Wat sou gebeur as die Weste hierdie keer “val”? Anders gestel: Kan die globale magsverskuiwing weg van die Weste lei tot die val van die liberale kapitalisme as wêreldstandaard?
Suid-Afrika is ’n mikrokosmos van wêreldgebeure wat nou in die groter arena afspeel. Die einde van die plaaslike Westerse oorheersing in 1994 en die Afrikanisering wat hom sedertdien voltrek, open ’n venster op die toekoms van die wyer ontluikende post-Westerse wêreld.
Die Westerse “wêreldaandeel” in bevolkingsgetalle, politieke, ekonomiese en militêre mag neem betreklik vinnig af en die huidige wêreldkrisis kan hierdie magsverskuiwing versnel. Dit is onafwendbaar dat (Westerse) wêreldwaardes gaandeweg daarmee saam ’n grondverskuiwing ondergaan wat mettertyd die heersende liberaal-kapitalistiese model gaan uitdaag. Die Weste beskik eenvoudig nie meer oor die mag om sy waardeheerskappy te rugsteun nie en die nuwe moondhede gaan hulself al hoe meer laat geld.
Die voortekens van hierdie mags-en- waardeverskuiwing kan reeds gesien word in die groeiende weerstand teen Westerse pogings om sy sienings en standaarde aan nie-Westerse state op te dwing. Die keerpunt was waarskynlik oudpres. George W. Bush se oorloë, wat Westerse modelle met goeie bedoelings en groot geweld aan die Midde-Ooste opgedwing het.
Die huidige opstande daar is ook nie pro-Westers nie, maar die rebellie van ’n moderniserende, nuwe geslag wat hom nie deur ou diktators wil laat oorheers nie.
Indien die Weste, soos hy onlangs in Libië gedoen het, gaan aanhou probeer om sy modelle en standaarde aan die res van die wêreld op te dwing, gaan hy onvermydelik op al hoe groter botsings met die nuwe, globale uitdagers afstuur.
Sulke konflikte kan net een gevolg hê: Die versnelling van die ondergang van die Weste. Kyk maar hoe die oorwinning van die Britte in die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog terselfdertyd hul supermagstatus beëindig het.
In belang van wêreldvrede en die selfbehoud van die Weste sal hy moet leer om nie die magsverskuiwing te probeer keer nie, maar om daarmee saam te leef.
Ondenkbaar miskien; onkeerbaar beslis.
Dit sal ’n wêreld moet wees waarin kultuur (Westerse) ideologie as bepaler van die wêreldorde vervang. Die Weste moet eerder fokus op herlewing as oorheersing.
Hierdie gebeure is van groot betekenis vir Suid-Afrika. Die tekens wys dat hoe verder ons van die Westers-oorheersde 1990’s beweeg hoe verder beweeg die ANC weg van die oorspronklike Westersliberale vertolking van die Grondwet.
Die vraag is – soos elders ter wêreld – of ’n poging om die land se geskiedenis te probeer vashou in ’n tydgleuf van Westerse waardes in ’n post-Westerse era kan slaag?
Miskien moet ons ook aan die ondenkbare begin dink: ’n Era van groter wedersydse erkenning en respek; met die kulturele ruimtes om in groter verskeidenheid te kan saamleef.