Moenie met ons mors nie
2011-11-19 17:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dan Roodt kom elke nou en dan vorendag met ’n gedagte wat ’n mens wild aan die dink sit.
So vra hy ’n maand of wat gelede in ’n brief aan Business Day: Is dit nie ironies nie dat, nadat hulle uit die meeste instellings gesuiwer is, Afrikaners steeds goed genoeg is om as gladiators op die rugbyveld te moet diens doen?
Roodt het iets beet hier. Toe die minister van sport die afgelope week gesê het wen is belangriker as sportkwotas het hy eintlik maar dieselfde bedoel: Vir rugby speel is die Afrikaners nog goed genoeg.
Hierby sal Pravin Gordhan seker ook voeg: Ja, en vir belasting betaal.
Vir die res moet hulle vir lief neem met hul erfskuld en hul bek hou. En moet veral nie die behoefte uitspreek dat jy sou wou hê dat jou kinders na ’n Afrikaanse universiteit toe gaan nie.
Wel, ek sê te hel hiermee.
’n Goeie vriend van my het die gewoonte om enige belediging wat na sy kant toe geslinger word, te beantwoord met die verontwaardigde teenvraag: “Wie dink die ou is hy? Ek kom uit ’n ordentlike huis. Ek laat my nie so behandel nie.”
Op bl.2 van Rapport Weekliks klim die regsprofessor van Ikeys, Pierre de Vos, kaalvuis in onder Afrikaners soos dr. Marié Heese wat, in sy woorde, nie die plain common decency het om te kan sien dat die Universiteit van Stellenbosch onder swart studente gesien word as ’n “dominante wit Afrikanerinstelling” nie . De Vos sê die manier om dit te verander, is om Maties minder Afrikaans en meer Engels te maak. Net soos my vriend wil ek antwoord: “Met wie praat jy, professor? Ek kom uit ’n ordentlike huis. Ek laat my nie so behandel nie.”
My aandrang dat Afrikaans sy status as ’n taal van hoër onderwys moet behou kan onmoontlik net woep-wap afgeskryf word teen my sogenaamde erfskuld as wit Afrikaner. Dis die reg van die boendoes en ’n mens sou hoop dat Ikeys hul regsgeleerdes beter skool as dit.
Dana Snyman sê onlangs in ’n onderhoud dat Afrikaners so nostalgies raak oor hul verlede dat hulle hulself “tot in hul eie onskuld verlang”. Hy is reg. Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner om nie blind te raak vir ons en ons voorouers se foute nie.
Maar om Suid-Afrika te industrialiseer, om die beste infrastruktuur op die vasteland te bou en om Afrikaans uit te bou tot ’n volwaardige akademiese taal was nie destyds ’n fout nie en is dit steeds nie.
Dis prestasies wat ons tot eer strek – die foute en die vergrype van apartheid ten spyt.
Tim du Plessis spreek verlede week in dié rubriek die wens uit dat Afrikaners gerus as ’n groep kan “verdig”, dat hulle moet ophou om “na binne te migreer” en hul sosiale kapitaal in die proses vernietig. Die rug ’n bietjie moet styfmaak, met ander woorde. Kyk jy rondom jou, sien jy egter oral voorbeelde van die proses wat Du Plessis “verdigting” noem. Die gety is aan die draai. Oral is daar tekens van Afrikaanse mense – veral jonger mense – wat soos my pel sê, te hel met dit: Mense uit ordentlike huise laat hulself nie so behandel nie.
Die boodskap wat ’n groep jonger studente van die Universiteit van Stellenbosch voorverlede week aan die lamsakkige administrasie van daardie instelling gestuur het oor die manier waarop prof. Russel Botman en sy kamerade besig is om Afrikaans as universiteitstaal te verskraal, was ’n beduidende een.
Ek het nuus vir Botman: Net soos die wapenskandaal sal die debat oor Afrikaans op Stellenbosch nie verdwyn nie. Hoe gouer hy iets daadwerklik doen, hoe beter.
Die fenomenale suksesse wat Flip Buys en sy familie van Solidariteitsbewegings die laaste paar jaar op talle gebiede behaal het, is ’n ander. In Solidariteit se hoofkwartier in Lyttelton in Centurion sit en praat hulle nie net die heeldag nie.
Hulle doen.
Wat al hoe duideliker word is dat Afrikaanse mense besef dat jy nie met alles wat Buys (of Roodt of wie ook al) doen of sê moet saamstem om doeltreffend te “verdig” nie.
Losse koalisies wat oor spesifieke sake saamstaan, is uiteindelik net so doeltreffend – dalk selfs meer.
As dit boonop oor verskeie fronte gebeur, het dit ’n vermenigvuldigingseffek. Dit wek die indruk van ’n gemeenskap wat sê: “Ons kom uit ordentlike huise. Só laat ons nie met ons mors nie.”