Hanlie Retief

Die vegter is terug

2012-12-02 00:20

Met een perfekte blou oog oor ’n skinny cappuccino sit Mark Boucher my stip en aankyk.

Nié die kyk van iemand wat om verskoning gaan vra nie.

Laas week het ’n storm om sy kop losgebars nadat hy in The Star daarop gesinspeel het dat wildboere betrokke is by renosterstropery.

Dié voormalige paaltjiewagter van die Suid-Afrikaanse krieketspan moes bontstaan met twiets en skadebeheer.

Selfs vanuit eie geledere het Albie Morkel – tong diep in die kies – laat weet: “You p*ssed off a few farmers, hey! Maar ag, moenie worry nie, hulle sal jou vergewe, julle baklei vir dieselfde saak.”

Miles Lappeman, die renosterboer wat in een nag agt renosters aan stropers verloor het, het in sy onderhoud met Rapport góéd onder Boucher ingeklim: “Mark se aantygings dat ek deel was van die stropery op my plaas, is ’n hoofrede hoekom ek nou my renosterboerdery staak.”

Sedertdien het Mark ’n paar versoeningsballe na Lappeman se inbox geboul en vrede is verklaar. Maar onbeslis.

“Ek vra nié om verskoning nie. My aanhalings is korrek, en in die konteks waarin ek dit gesê het, sou Lappeman besef het ek wys nie vingers na wildboere nie en beslis nie na een spesifieke boer nie. Ek het net na die stropers verwys.

“Maar die Star-joernalis het my aanhalings uit konteks gebruik, dit het nie die hele gesprek weerspieël nie.”

Dis nie sy plek om vingers te wys na wildboere nie, gee Bouch toe. “Ek’s nuut in hierdie hele bewaringsding, ek leer elke dag, en ek’s bereid om my hande vuil te maak – ek kom immers van Oos-Londen, uit ’n nederige agtergrond. Al wat ek sê: ons veg albei aan dieselfde linie, teen dieselfde vyand: renosterstropers. Kom ons beweeg aan.”

Skadebeheer?

“Ek dink ons kan albei leer hieruit. Ek het.”

Dis nie ’n les wat Bouch nie al vantevore geleer het nie. Hy was al by Krieket Suid-Afrika in die sop “ook oor ek uit konteks aangehaal is”.

Maar Mark Boucher het nog altyd geweet hoe om hom uit probleme te wikkel.

Vegter. Dis die één woord waarmee almal – van Mickey Arthur tot Kevin Pietersen – dié 35-jarige veteraan beskryf het in die vloed lofuitinge ná sy fratsongeluk in Julie toe ’n dwarsbalkie sy linkeroog én internasionale loopbaan verwoes het.

Nou, met ’n skouerophaal hier in die koffiewinkel: “Sticks and stones may break my bones, but words will never hurt me.”

Hy weet. Hy en daai dwarsbalkie.

Op 9 Julie het Bouch eerstehands beleef hoe jou lewe binne ’n sekonde kan verander.

Dit was net ’n gewone, reënerige middag. ’n Onbenullige opwarmingswedstryd tussen Suid-Afrika en Somerset. Die eerste dag van sy laaste toer.

Toe skiet ’n dwarsbalkie op en tref hom in die oog. En dit word, binne ’n oogwink, die lááste dag van sy laaste toer.

Die eerste ses uur ná die ongeluk was die heel ergste, sê hy.

“Dit was net ná middagete en hulle kon my nie narkose gee nie, want ek het pas geëet. Toe lê ek daar in hospitaalbed terwyl my spanmaats aangaan met die wedstryd.

“Ek het ses uur gehad waarin ek diep kon nadink. Ná ’n halfuur het die dokter daar aangekom en gesê: ‘Mark, jy’t jou oog kwaai beseer, ons dink nie jy sal weer daarmee kan sien nie. Ons gaan hom kosmeties probeer red, sodat ons nie ’n albaster daarin hoef te sit nie.’ Toe loop hy uit.

“En daar, alleen in die hospitaalbed, bars ek in trane uit. Ek het by die venster gaan staan en gewonder: wat nou? Blind in een oog, loopbaan verby, wat bly vir my oor? Sal ek kan kar bestuur?”

Vrae het deur hom gemaal, vrae sonder antwoorde.

Daardie ses uur was die laagtepunt vir Mark. Niks verder – nie die hoofpyne nie, die operasies, die seer, die gesukkel – kom by daardie alleen-ure nie.

Want van toe af het Mark Boucher die negatief na ’n positief begin draai.

Ray Jennings, sy mentor en oud-afrigter, het al vertel hoe Bouch die vermoë gehad het om selfs ná ’n rillerdag vir die Proteas die span met sy energie in die kleedkamer te motiveer.

Mickey Arthur, sy ander afrigter, aan Wisden: “Hy gee nooit, ooit bes nie en dis hoe jy hom sal onthou.”

Hy glo dinge gebeur om ’n rede, sê Bouch.

“’n Mens móét positief wees. Dit kon gebeur het op my eerste toer vir Suid-Afrika. Dan’t ek nie hierdie lekker lang loopbaan gehad nie. Maar ek moes nou iets leer: geduld. Dis die een ding wat ek nié het nie.”

Agttien lang maande, het die dokters gesê, moet hy wag voor hy sal weet hoeveel sig hy gaan terugkry. Hy hoop op minstens 30%, dalk meer. Hy kan al effens sien, maar als lyk soos deur ’n uit-fokus-verkyker. Sy oog is sonder lens, iris of pupil.

“My nuwe ‘oog’ is in Holland op die oomblik. Hulle maak die iris om presies by my gesonde een te pas. Ook die lens is kunsmatig, wat amper soos ’n kontaklens ingesit word.”

Hy’s ook bly die ongeluk was nou, omrede nuwe tegnologie. Vyftien jaar terug sou hulle net gesê het: Mark, kies vir jou ’n albaster.

“Maar-krieket-is-verby-vir-my.”

Sê hy vinnig. Jy hoor verlies in sy woorde en vra: Mis hy dit? Soos laas week, toe hy op TV moes kyk hoe Faf veg vir sy honderdtal?

Hy skud kop. Vinnig.

“Die grootste ding wat ek wou nalaat, is ’n bietjie van ’n storie agter my naam. Nie statistieke en daai stuff nie, dié het ek darem ná al die jare, maar ’n nalatenskap in die kleedkamer.”

En dis presies wat sy Protea-familie, soos hy hulle noem, vir hom gewys het ná sy besering.

Hul T-hemp-boodskappe: “Bouch, we miss u! This one’s for u.” Kallis se handbeweging na sy oog. Die opdra van die toetsreeks aan Bouch...

“Hulle’t my steeds deel van alles laat voel. Buite die kleed­kamer by Lords, met die uitstap, het die manne ’n groot foto van my opgeplak.”

Bouch het daardie toetsreeks op sy sitkamerbank saam met pelle gesit en kyk. “Toe hulle wen, was die eerste oproep van Jacques en Graeme om te sê: Dis vir jou. Wat ’n awesome gevoel.”

Hy’t nou wel nie sy 150 toetswedstryde gehaal nie, maar soveel meer gekry, sê Bouch. Só ophef sou nooit gemaak gewees het ná ’n gewone uittrede nie.

Baie mense kry hom jammer, maar hy soek nie simpatie nie.

“Eintlik het dit deure vir my oopgemaak, om eerlik te wees.”

Hy vlieg deesdae die land vol om motiveringspraatjies vir Ou Mutual te doen. Hy en Jacques Kallis het hul eie wynreeks, The Innings. “Wyn opgedra aan vriendskap,” noem hulle dit.

“Dis lekker om na jou huiskroeg te stap en jou éie rooiwyn oop te maak. Een wat nogal ’n prys óók gewen het!”

Hy en sy krieketbende, die Morkel-broers, Albie en Morné, en Jacques Rudolph, het twee jaar terug by renosters betrokke geraak. Tydens ’n kuier op Skukuza het die ondersoeker Frik Rossouw se skokstatistieke hulle vuur en vlam gehad om renosters te red.

Dit was die eerste treë na Mark se Our Rhino’s in Safe Hands-veldtog in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB). “Ek’s besiger as toe ek krieket gespeel het. En mál daaroor om in die bos te kom.”

Hy weet hy’s ’n groentjie in die bewaringswêreld. “Maar dis vir my ’n eye opener, if you’ll excuse the pun. Mense sê vir my ek het dalk my sig verloor, maar meer visie gekry.” Hy grinnik.

“En dis waar.

“Ek wil my netwerk gebruik om mense bewus te maak en geld in te samel. En dit werk al. Ons het sukses. Ek verdien nie ’n sent hieruit nie, als word gestort in ons DNS-projek met renosters.”

Hy dink vandag steeds hy’t nie veel kriekettalent nie. “Ek’s dalk geseën met so ’n bietjie... ek het net hard gewerk. Maar ek dink steeds ek’s ’n beter muurbalspeler.”

Hy was drie jaar lank Suid-Afrika se top-muurbalspeler in sy ouderdomsgroep, en in matriek naasbeste. Nou’s dié sport – sy eerste liefde – ook vir hom verby, knik hy.

Op skool het hy soggens vyfuur opgestaan en alleen by die muurbalbaan gaan oefen. Hy’t nie geld gehad vir die meter om die ligte aan te skakel nie, so hy moes altyd wag vir die eerste lig deur die agterste venster, onthou hy met ’n glimlaggie.

“Ek oefen altyd alleen, in my eie hoek eerder as voor kameras en mense, dis nie my vibe nie. Dan kan ek ook ’n paar kragwoorde los, want ek raak vreeslik kwaad vir myself as ek sleg speel.”

Daardie muurbal-oggende het hom geleer om áán te hou en uit te hou, sê hy. “As jy alleen oefen, leer jy om jouself te motiveer, jou kop reg te kry. Dit het my later gehelp as paaltjiewagter.”

Hy’s met ’n muurbalbeurs na die Universiteit van Port Elizabeth, waar hy gekies is vir die krieket-akademie. Sy insluiting in die SA o.19’s was die begin van ’n loopbaan wat gelei het tot ’n wêreldrekord vir gesamentlik die meeste slagoffers in internasionale krieket (999).

En nou’s dit als verby.

Vir die eerste keer in sestien jaar is hy dié Kersfees by sy familie in die Oos-Kaap – altyd maar was daar die tradisionele Welwillendheidsdag-wedstryd.

“Nou sien ek uit na sononders saam met my mense op Morganbaai.”

En mmm, knik hy, hy hét ’n meisie, sy’s die beste, dis ernstig, en dit plaas hom onder érnstige druk...

Later, met sy wegstap, bieg ons kelnerin met ’n la-a-ang sug sy’s al verlief op hom vandat sy so ses was. In daai eerste weke ná sy besering het hy hier in Café Nood nooit van sy skinny cappuccino’s opgekyk nie, vertel sy.

Koponderstebo. Donkeroog.

Nou’s die ou Bouch terug, sien ons aan daai fris, haastige kuite wat doelgerig om die draai ­verdwyn.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
13 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-16°C Showers early. More sun than clouds. Cool. Pta: 8-20°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-14°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-12°C Sunny. Cool.
Dbn: 11-21°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Kry tot 25% afslag op die 25 gewildste media-produkte!

Bespaar tot 25% op die jongste topverkopers van boeke, flieks, speletjies en musiek. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar R700 op die Hisense LED TV

Kry die Hisense 32” HD LED TV vir slegs R2499. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe musiek-CD’s & DVD’s teen R99 elk

Kry gewilde nuwe musiek-CD’s en DVD’s teen R99 elk. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe boeke teen slegs R199 elk

Kry besparings wat jou kop sal wegblaas op nuwe boektitels. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot 40% op modetoebehore

Bespaar tot 40% op uitgesoekte handsakke, beursies, horlosies, juwele en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Bespaar tot R2000 op die gewildste elektroniese ware

Kry elke dag besparings wat jou kop sal wegblaas op die gewildste elektroniese ware. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!