Hanlie Retief

Die vuur is ín haar

2013-02-02 23:25

"Jís, hierdie Januarie-vure in die Wes-Kaap was vir jou uitgehonger! Ons slaan hier, ons slaan daar, maar die vure spring heeltyd weer op.”

Haar hande gly oor haar goudgeel Werk met Vuur-dubbellaag-katoenhemp. Dit los ’n swart roetstreep.

“Jy staan voor die wal van vlamme, en sê binne-in jouself: Oukei vuur, jy moet nou dood, jy’t genoeg skade aangerig.”

Ontmoet Shantell Frans (25). Topfiks, fluks, verlief, verloof en mal oor vuur.

Drie maande reeds bly sy in ’n huurkamer onder ’n druiweprieel in Porterville se hoofstraat, gestasioneer as assistent-bestuurder van Werk met Vuur (WmV) se Weskusgebied.

En toe, so met die nuwe jaar, slaan die weerlig vir hulle ’n veertien-dae-vuurmarathon in die Cederberge.

Shantell en haar spanne was 24 uur per dag teen die vuurlyn, rubber-brandplakke en vuurharke in die hand, 20 liter-spuitkanne vol water op die rug. Ná dae se uitputting is hulle afgelos deur spanne van oor die land heen.

Langs die Clanwilliam-dam staan rye groen WmV-tente met brandspanne uit die Vrystaat, Gauteng en die Oos-Kaap. Met die brande tans in bedwang, is die spanne op bystand. Almal hou asem op: met die somerwinde weet mens nooit.

Dis lewensgevaarlike werk, dikwels op moeilike terrein.

“Van ons vuurvegters was vasgevang by Heuningvlei, naby Clanwilliam. Omsingel deur die vuur, spring hulle toe in ’n klein dammetjie. Die vuur is bo-oor hulle, en elke slag as hulle opkom vir asem, was dit net rook, en hulle moes hul sakke bo hul koppe hou as beskerming teen die vlamme. Almal was erg geskok agterna.

“Een oom van Cape Nature was saam. Hy’t so ’n voorgevoel gehad iets gaan gebeur... Daar in die dammetjie met die vlamme oor hom, het hy in trane vertel, was dit nét sy vrou en kinders wat in sy kop was.”

Elke keer as Shantell in die spieël kyk, sien sy wat vlamme kan aanrig. In die motor op pad na die brandplekke toe, by Algeria se afdraai van die N7, vertel sy ons haar eie brandverhaal.

Dit was met die groot brand op Swellendam, laas Januarie: “Ek en ses van my spanlede – dit was hul eerste groot brand – is per helikopter op die rug van die berg afgelaai.

“Die vuur was so 600 m weg, besig om die helling op te brand na ons toe.

“Die wind het verskriklik gewaai en van rigting verander. Ons enigste keuse was om deur te breek waar die vlamme die laagste brand.

“Dit was kwaai afdraand, skuins en vol gate, en ons moes versigtig trap. Plek-plek het ons gehardloop, of afgerol oor sagte bosse. Ek was voor. Alles het mooi verloop, maar toe val een van my spanlede en die mes in haar rugsak steek in haar rug in. Ek vat haar toe na ’n veilige plek en pas noodhulp toe. Sy’t baie bloed verloor. In die proses het ek my een handskoen afgehaal en my balaklawa van my gesig afgetrek.

“Toe die helikopter land om haar op te pik, het die wind as en warm kole rondgewaai. Van die kole het in my gesig vasgewaai, en my hand het ook gebrand. Ek kon nie sien hoe erg dit lyk nie, maar die blaas op my hand was groot, en ek sit toe brand-jel op.”

Dis toe dat sy agterkom haar spanlede kyk haar vreemd aan. Hulle vra: Hoe voel sy? Hoe kry sy dit reg om so kalm te bly? Is dit nie baie seer nie?

Die helikopter het toe teruggedraai en die span kom haal. Shantell is dadelik hospitaal toe. Toe sy haar gesig in ’n spieël sien, het sy geskrik. Dit was rou, met tweede- en derdegraadse brandwonde. “Jô, soos in rêrig erg.”

Sy was ’n week in die hospitaal.

“Snaaks, ek was regtig niks bang nie, jy dink op daardie oomblik nie aan jouself nie, net aan jou span. Maar dit hét geknaag aan my: Is my gesig nou vir altyd geskend? Gelukkig het dit so mooi herstel, dit lyk soos ’n geboortevlek. Maar elke keer as ek in die spieël kyk, weet ek: Vuur, jy ís gevaarlik.”

Gevuurmerk, sy.

Aanvanklik het sy ’n hoed en sonbril gedra omdat almal haar so ’n “jammerkyk” gegee het.

“Eendag skree ’n ou vir my uit ’n bakkie: ‘Los daai man wat jou so slaan!’ Hy’t gedink ek is aangerand! Ek is lag-lag die winkel in.”

Maar oor haar vuur-werk het sy nooit, nie een keer, getwyfel nie. “Dis my lewe, en ek het al soveel hier geleer.”

Sy wys buitentoe. “Soos slangbos. Ek het gewonder waar die naam vandaan kom, toe sê hulle nee, as die bos brand, sis hy soos ’n slang.

“Elke area verskil, en as jy vuur baklei, leer jy die veld goed ken, die verskillende tipes fynbos, hoe hulle brand.”

Shantell het grootgeword op Karatera, “’n baie lieflike plekkietjie” naby Knysna, waar haar pa voorman op ’n plaas is. Al van kleintyd af, in Hollywood Park Primêr, was sy lief vir die natuur. Naweke het sy en haar niggies pad gevat na ’n hut in die bosse bo hul huis.

“Die uitsig was mooi, en ons het ons altyd verkyk hoe die bobbejaanma’s hul kinders slaan as hulle stout is.”

Sy’t gr. 11 goed geslaag, maar was lus vir nuwe avonture. ’n Vriendin het haar vertel van Werk met Vuur se opleidingsprogramme, en voor sy haar oë kon uitvee, was sy in Nelspruit vir opleiding.

Dit was die begin van vele spesialis-opleidings vir Shantell. Sy’t uitgeblink. Ewe skielik het sy die land gesien, noord van die Oranjerivier gekom.

Haar eerste groot vuur was ’n fynbosbrand by Plettenbergbaai.

“Ons het gelag vir ons roetbesmeerde gesiggies toe die vuur dood is, en wonderlik gevoel, en trots, want jy doen dit vir jou land en jou gemeenskap.”

Sy’t vinnig deur die tawwe ­leierskapkursusse gevorder. “Dit was nie maklik nie – 30 km-roetemarse met jou hele pakkaas, 2,4 km onder 14 minute, 40 opstote per minuut, spesialis-vaardighede om te oorleef in die bos.”

Sy wys oor die afgebrande veld. As ’n vuur deur veld getrek het, laat hy ’n swart veraste niemandsland agter – dooie bokkies, skilpaaie, pofadders. “Voor die tyd sien jy hoe hulle vlug. Dis eintlik hartseer, jy sien hoe probeer ’n skilpadjie by veiligheid uitkom.”

Miershope brand die ergste en langste, vertel sy. “Die miershoop raak een rooi kool.”

Ons laai vir Eric Makube langs sy tent by die Clanwil­liam-dam op.

Hy’s bestuurder van WmV se Noordwes-streek en hulle’t 36 uur bus gery om hier te kom vuurslaan. Hy hoop om vir die heel eerste keer die see te sien voor hy teruggaan.

Hy was werkloos voor WmV. En as kontrakwerker was hy in 2007 doodtevrede met ’n minimum dagloon van R50 (dis deesdae R75,50). “Dit pla ons nie, want hier’s baie geleenthede, als hang van jouself af. Daai vrugteplukkers wat nou so staak, is laf.”

Streekbestuurders verdien sowat R11 000 per maand, toelaes en byvoordele uitgesluit.

En, hoor jy onder ’n vrolike gelag in die kar, die liefdes in Shantell én Eric se lewe is ewe vurig.

Eric is getroud met ’n brandweervrou in Johannesburg.

“Haar werk is gevaarliker as myne,” spot hy. En ja, knik hy, hulle braai graag naweke.

“Ons twee is nooit moeg vir vuur nie.”

En Shantell? September, in die Belvidere-kerkie buite Knysna, trou sy met haar eerste WmV-spanleier, Abraham Prins.

“Ek het eers nie kans gesien vir hom nie, want hy was so vieslik kwaai met ons gewees!”

Maar hy’t die vuurtjie in haar aangesteek, terg ons haar, en nou’t sy brandende begeertes...

Vuur is soos ’n verslawing, sê Eric later, droogweg, terwyl ons kyk na ’n telefoonpaal wat tot op die grond afgebrand het.

“As jy eers begin brandslaan, kan jy nie ophou nie,” sê hy.

“Seker maar vuurvegter-adrenalien. Mal oor vure doodslaan, maar op ’n manier is ons mal daaroor om vure te hê. Ons is ’n bietjie verlief op die vuur,” sê hy. “Ek het amper nie woorde daarvoor nie.”

Vuur het sy eie geluid, vertel Shantell. Dis amper soos ’n storm op see. Vreesaanjaend. En dis iets ongeloofliks om te sien, die mooi prentjie van dié vuur. Rooi, oranje, pers, als in een, met die swart agterna, die swart rokietjies.

“En as jy observasie doen, as jy hom eers agterkom, dís hoe die wind waai, nou suidwes, maar hy verander elke twee, drie minute?.?.?. Besluit hier’s die ankerpunt, van hier af veg ek en my span die vuur.”

Sy lag. “Dan kan jy lekker saamwerk, jy en die ou vuur.”


Jongmense word opgelei

Werk met Vuur (WmV) is ’n regeringsinisiatief wat jongmense uit gemarginaliseerde gemeenskappe oplei as bestryders van veldbrande. Daar is meer as 5 000 werkers (35% is vroue) in 200 WmV-basisse regoor die land. Die inisiatief het al verskeie pryse gekry, waaronder die Impumelelo-toekenning.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-20°C Sunny. Mild. Pta: 3-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 4-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: -1-19°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-27°C Sunny. Pleasantly warm. PE: 13-21°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!