Hanlie Retief

Hanlie Retief gesels met Louis Oosthuizen

2010-07-24 15:44

Spesiaal uit Stockholm

Voor Louis eergister ’n vinnige middagslapie ingekry het in ’n paar af ure by die Skandinawiese Meesterstoernooi, het hy ons spesiaal uit Stockholm teruggebel:

“Ons kan nie meer wag om Dinsdag in Suid-Afrika terug te wees nie. Hulle lewer Woensdagoggend my trekker – ’n 6330 John Deere – op die plaas af en ek’s so opgewonde soos ’n klein seuntjie. My pa-hulle het ’n stuk land wat hulle wou bewerk spesiaal gelos vir my om te kom omdolwe. Ek gaan in my trekker klim en bésig raak!”

Toe Louis met ons gepraat het, het almal asem opgehou oor of hy binne ’n week nóg ’n titel gaan inpalm. Hy was in die tweede plek ná twee rondes. Die media-histerie ná sy Britse Ope-oorwinning het hom darem nie van stryk gebring nie, sê hy. “As ek op die baan stap, dink ek nie aan ander goed nie.”

Hy’t lekker gelag vir sy vriend Charl Schwartzel se opmerking dat die laaste keer wat hy Louis gespanne gesien het, op sy troudag was.

“Dis seker waar! As jy goed swaai en die bal mooi slaan, help dit vir die senuwees. Ek speel al ’n hele ruk goed, maar dinge wou nooit bymekaarkom nie. Op St. Andrews het alles in plek geval. Dit was seker maar my tyd – maar gouer as wat ek verwag het, moet ek sê! My dogtertjie, Jana, is my gelukbringer.”

Die Mosselbaai-gholfklub beplan Woensdagaand ’n groot partytjie vir Louis. “Ek sien uit daarna om saam met die ouens te kuier. Ek hoor hulle’t laas Sondag almal daar in die klubhuis vir my duim vasgehou.”

Twee oomblikke van dié dol wenweek sal Louis altyd onthou:

“Die ongelooflike gevoel toe ek van die agttiende bof oor daardie famous bruggie gestap het. Om die Britse Ope te wen is spesiaal, maar om dit by St. Andrews te kon doen, is iets waarvan jy droom.

“Die tweede oomblik was toe Greg Norman my bel en sê ek’s die eerste speler wat hom ’n hele ronde gholf op TV laat kyk het: van my eerste hou tot die laaste het hy vasgenael gesit en kyk.”


“Dis nou elke oggend se ding.

“Louis word wakker, dan sê hy vir my: ‘Liefie, ek het die Britse Ope gewen! Ek het ’n májor gewen!’?”

Nel-Maré Oosthuizen is steeds ’n bietjie uitasem. “Ons was moewies bly toe hy wen! Louis is so uit sy kassie hy gaan nêrens sonder die Claret Jug nie.”

Ons het Louis se mooi donkerkopvrou raakgebel in ’n haarsalon in Altrincham, naby Manchester, twee dae ná haar man se Groot Wen.

“Ek sê vir Louis my kop klop nou so, want alles is oorweldigend. Almal oorval ons, en ek waardeer dit, maar dis ’n bietjie baie om in te neem. Ek sê vir my ma ek wil net vyf minute doodstil sit en die wen geniet.”

Dié plaasseun van Albertinia het die afgelope week die wêreldmedia gaande gehad toe hulle uitvind hy gaan nie – soos ander meesters-wenners voor hom – vir hom ’n blinkrooi Ferrari met sy £850?000-wengeld aanskaf nie, maar ’n John Deere-trekker.

“Met ’n babastoeltjie vir Jana.”

Nel-Maré vertel hy’t sommer dadelik op die internet ’n trekker gaan soek. “Hy’t net vier woorde gehad: John Deere. ’n Gróéne!”

Hulle’t Sondagaand tot laatnag feesgevier in die Jigger Inn langs St. Andrews se Ou Baan. Héérlik, sê Nel-Maré, daar was ’n klomp pelle en Suid-Afrikaners, en toe’s hulle huis toe waar hulle saam met drie vriende om die kombuistafel verder gekuier het.

“Toe bespreek ons eers alles wat gebeur het en drink tee en sjampanje.”

Louis se sege het die gholfwêreld omtrént onkant betrap. Die nuutste Golf Digestse opskrif basuin dit uit: “South Africa’s Next Big Thing” – met ’n artikel oor Charl Schwartzel. Tydens die toernooi moes die organiseerders aan die media beduie hoe ’n mens Oosthuizen uitspreek. Die 54ste posisie op die wêreldranglys is immers nie eens náby celeb-status nie.

Selfs sy familie daar op Melkhoutsfontein is heel oorhoops. Nou nie dat hulle gereken het Boeta kan dit nié doen nie, maar wie’t nou verwag dat alles so dramaties vir Louis sou reg loop?

“Hy was vir my besonder kalm gewees, hy’t heeltyd met ’n glimlag gespeel,” vertel Pa Piet van hul plaas af by Gouritsmond.

Wat ’n groot verskil gemaak het, reken Piet, was die rooi kol op Louis se handskoen. Sy sportsielkundige het hom dié plan gegee om beter te fokus. “Hy’t elke keer afgekyk daarna as hy speel.”

Hoe ’n soort mens is Louis?

“Ontspanne. Niks is vir hom ’n probleem nie. Van kleins af, as jy vir hom sê iets is te moeilik, dan doen hy dit juis. Daar’s min goed wat hom werklik ontstel, hy steur hom nie veel aan wat mense sê nie.”

Wat sy seun seker die heel beste opsom, sê Piet, was Louis se reaksie een dag ná ’n gholftoernooi. “Hy was so veertien, vyftien, en ons was in die kar iewers tussen Port Elizabeth en George. Hy’t tweede gekom in die toernooi, maar nie span gehaal nie. Almal het gedink dis bitter onregverdig. Vir ’n uur lank het hy baie bekaf daar gesit. Toe trek hy hom regop en sê: ‘Ek sal só speel dat hulle my móét kies.’?”

“Ai, man, Lóúis!” juig Ma Minnie oor haar jongste. “Voor sy afslaan laas Sondagoggend het ek hom ge-SMS ek wens ek’s daar om hom ’n drukkie te gee. Ek wou nie bid dat hy moet wen nie, ’n mens kan mos nie so iets doen nie, maar toe sê my dogter: ‘Ma, dié keer mag jy’… maar toe bid ek liewerster hy moet net kalm bly.”

Ai, man, Lóúis! Nog altyd haar kampioen, van kleintyd af. En ’n platjie! “Hy sal by die venster uitkyk en sê: haai, daar hang hulle die koei aan die trekker op, en as ek nader hol, dan’s daar niks!

“Altyd vol dingetjies, altyd in kompetisie met sy ouboet. In sub A (gr. 1), toe gaan sê ek vir hom nag in die bed. En wat steek onder sy pajamas uit? Sy skoolklere! Ek pluk hom uit die bed en vra wat gaan hier aan. Hy sê: ‘Ek wil voor my boeta klaar wees môreoggend.’ Sien, gekompeteer, tóé al. O, hy gaan my skiet oor ek dit vir julle vertel!

“Hy’t in die huis se gang vir hom ’n gholfbaan gebou en dan slaan hy sethoue tussen ’n paar blikkies deur tot by die draai na die sitkamer. Ek raas: ‘Boeta, jy kap nie teen my meubels nie!’ Min het ek geweet wáár als gaan eindig.

“Ag, wee-jy…” antwoord Minnie dié wat nou sê hy’s seker maar net ’n eendagwonder.

“’n Mens kan nie sulke goed voorspel nie. Gholf is gholf. Soos Louis altyd sê: hy speel mos nie aspris sleg nie. Niemand doen dit nie. Louis doen altyd sy bes. En dis goed genoeg vir my.”

Die ou gholfers op Albertinia het vroeg-vroeg al gesien dié mannetjie het talent. Toe Piet hom by ’n afrigter op Port Elizabeth uitkry, het dié gesê hy wil nie eens probéér torring aan Louis se natuurlike speelstyl nie.

Hulle’t die land vol gery, Piet en Louis in die ou Camry, van die een toernooi na die volgende.

“Dit het naderhand te duur vir my geraak en ná Louis se matriek aan die Hoërskool Albertinia het ons by die Ernie Els-stigting gaan aanklop. Louis is toe vir drie jaar daarheen.”

Sjoe, hoe’t hul lewens nie binne ’n week verander nie…

“Man, ek loop hier op die plaas rond en elke af en toe kry ek ’n knop in my keel.”

So kalm soos Louis was tydens die toernooi, so was die Oosthuizens op Melkhoutsfontein – so anders as met vorige toernooie.

“Snaaks, dit laat my nogals dink dié ding was vir hom geoormerk. Louis gaan wen, het ek al die Vrydag vir ESPN in Amerika gesê.”

’n Halfuur ná sy sege toe kom die pelle op die plaas aangery met sjampanje en vuvuzelas. Piet-hulle kon skaars saamvier so’t die foon gelui.

In ’n regstreekse onderhoud met Louis het die BBC vir Piet ook op die lyn gekry. “Daar, op die lug, sê ek vir hom: ‘Hallo, Boeta, ons is lief vir jou.’ En hy sê: ‘Haai, Pa!’

“Jitte, ons plaasmense is nie gewoond aan al dié aandag nie.”

Louis moes vir die Britte vertaal wat Pa “Whist-hey-zin” als vir sy Boeta te sê gehad het.

Minnie se groot bekommernis was altyd oor waar Louis ’n vrou gaan kry wat bereid is om saam te toer, om elke dag in te pak en uit te pak.

En toe haak hy af met sy ou laerskoolmaatjie.

“As klein kindertjies was dié tweetjies baie geheg aan mekaar.”

Hul ouers was groot huisvriende op Albertinia en die ma’s het smiddae altyd saam koffie gedrink as die kinders op die sportveld besig was.

“Louis is ’n jaar jonger as ek,” vertel Nel-Maré, “en nee, kwit, hy’t my ook maar lekker geïrriteer! Ons was altyd die twee kleintjies wat ons ouer broers en susters gepes het. Drie jaar later het ons weggetrek Prieska toe en nie weer kontak gehad nie.”

Toe Louis iemand soek vir sy matriekafskeid, skaars terug ná hy in Jamaika junior wêreldkampioen geword het, kla hy by sy ma hy’s g’n lus vir ’n “vreemde meisie” nie. Toe sê ouboet Rikus: “Ag, man, vra sommer vir Nel-Maré…”

En só is die Matie-eerstejaartjie in ’n rooi rok met Albertinia se beste gholfspeler matriekafskeid toe.

Eers ’n paar jaar later, vertel Piet, ná ’n kuier op Melkhoutsfontein, “het die saadjie weer ontkiem, en nou ja toe, die res is geskiedenis.”

Sonder Nel-Maré wil Louis nie op toernooie gaan nie, en sonder Louis wil Nel-Maré nie agterbly nie. Uitgeknip vir mekaar, sê Minnie.

Vandat hulle saam is, vertel Nel-Maré, het sy nog net twee toernooie gemis. “Ons sê honderd keer ’n dag ons is lief vir mekaar. Hy’t nie issues nie, ons altwee vat dinge soos dit kom. Jana was drie weke oud toe begin sy saamry. Sy hou nie eens vir Louis uit die slaap nie, hy slaap deur als – ek dink hy doen dit aspris!”

En nou’s hul lewe “totally anders”, sê sy.

“Snaaks hoe mense nou met ons is, hulle wil ewe skielik alles vir jou doen en gee. Dis ’n bietjie weird, want ons kom van die plaas af en weet nie so lekker hoe om dit te hanteer nie.

“Een vroegoggend verlede week, met klein Jana tussen ons in die bed, gee Louis die Claret Jug vir haar. Sy’s toe alte danig daarmee en vat hom reguit na haar mondjie toe.”

Vir daai eerste slukkie glorie.

Nés haar pa.

* Bykomende bron: ESPN.com

- Rapport

Lewer kommentaar op dié storie


Chris 7/24/2010 11:28:04 PM
Ons is almal trots op jou Louis! Ons het meer rolmodelle soos jy nodig.
Pieter 7/25/2010 12:03:39 AM
Groot storie. Wonderlike eer. En net so lekker om 'n normale boeremens te herken - niks fieterjassies en aansit en uithangery nie. Bly so, Louis. En Gouritz is trots op jou.
Dirk 7/25/2010 9:03:42 AM
Louis, ek hou jou al lankal dop boeta!!! Hou so aan bly nederig en koelkop en jy sal dit nog ver bring! SA is trots op jou
Johnny 7/25/2010 9:09:34 AM
Ek weet jy is n Stormer Louis maar hierdie BlouBul is trots op jou! Het soos Greg elke bal gekyk!
Giel & Elvira Bothma 7/25/2010 9:44:42 AM
Baie baie geluk Louis ! Omdat ons ook "gholf ouers" is,is dit soveel lekkerder om jou geluk te wens omdat ons weet hoe moeilik dit soms vir julle ouens is om heeltyd kop te hou. Alles wat mooi is vir jou en jou gesin en hele familie vir die toekoms. Wel gedaan !!!!
JF 7/25/2010 10:25:50 AM
Baie geluk en sterkte met jou loopbaan. Omdat julle plat op die aarde is, is ons net mog meer trots. Wys jou, jy hoef nie high te wees, om high te wen nie.
Helena Grahm 7/25/2010 10:33:52 AM
Hi Louis. Ek was die eerst hoofmeisie van Alberinsia se hoërskool....jaaaaare gelede! Ek woon nou op Empangeni en Goutsmond is MY plek. My suster, Marie la Grange, ken jou ouers blykbaar goed, maar ek is te lank gelede daar weg om hulle te onthou. Ons het jou hou vir hou dopgehou en is TROTS op jou. Viva,Albetinia en Gouritsmond!!! Helena Graham
Corlize 7/25/2010 11:37:38 AM
Met trane in my oe het ek die artikel gelees. Waar kry mens meer nederige mense? - hulle is dun gesaai. Ek en my man was albei erg bewoe toe hy verlede week wen en so mooi gepraat het. Hulle hele familie klink na sout van die aarde mense. Ons is trots op almal van julle.
john 7/25/2010 12:51:35 PM
Dankie Louis vir die beste 4dae voor die TV,wat n groot dag vir Suid-Afrika.
GMV 7/25/2010 2:33:53 PM
Baie geluk Louis!!!!!!
Ek glo alle Suid Afrikaners is baie trots op jou.
Dis altyd so 'n voorreg en 'n trots om die Suid Afrikaners te sien golf speel of van hulle te hoor wat in die groot golf wedstryde speel, dit veroorsaak so 'n knop in die keel van trots Suid Afrikaans wees.
Daar is nog Gary Player, Ernie, Retief, Immelman, Schwartzel en nog vele ander jonges wat ook meesters is en ver en hoog in die golf wereld gaan eindig.
Baie dankie ook aan hulle ouers,
wederhelftes en kinders vir hulle opofferings en ondersteuning, want dis al die dinge wat die sukses help bepaal.
Maar die trots as mede Suid Afrikaner moet nie onderskat word nie.
Cheetah 7/25/2010 5:22:04 PM
Skitterend Louis. Dit was wonderlik om jou kalmte en perfekte gholf dop te hou.
GR 7/25/2010 7:04:12 PM
sjoe,lank terug so 'n positiewe artikel gelees en obvious stunning mense - regtig sout van die aarde!! die prestasie spreek ook vir homself, maak mens se hart warm, dankie!!!
EP 7/25/2010 7:58:22 PM
Baie geluk Louis. Jy het pragtig gespeel. Ai maar die Sonskynreeks in SA het darem fantastiese spelers - Kyk vir Louis, ons kampioen van die afgelope week, Michiel Bothma, Telkom Kampioen so 'n paar maande gelede - jissie wat 'n mooi en aantreklike man. Hennie Otto,Juan Hugo, te veel om op te noem. Almal kampioene en pragtige nederige mense. Suid-Afrikaners bo !!
voetstoots 7/25/2010 10:27:37 PM
geluk Louis - jy was "in die zone" soos ek lanklaas gesien het... doe zo voort!
niel 7/26/2010 1:36:45 AM
fantasties!
JB 7/26/2010 7:33:28 AM
Welgedaan Louis ons is TROTS op jou, en dankie aan jou vrou wat jou so ondersteun agter die skerms. Ons Boere harte swel van trots. Welgedaan
Jou naam
*
E-posadres
*
Kommentaar
*
 
 
 

binne rapport

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 12-21°C Sunny. Mild. Pta: 11-30°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 7-27°C Sunny. Pleasantly warm. Bfn: 5-26°C Sunny. Mild.
Dbn: 16-20°C Sprinkles early. More sun than clouds. Cool. PE: 10-18°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Sub-editor: Visi

Western Cape - Cape Town
New Media Publishing (PTY) Ltd

IT Risk consultant

Gauteng - Johannesburg
Network Finance Menlyn
R300,000-400,000 Per Annum Cost To Company

Corporate PA to CEO & Financial

Western Cape
Personastaff
R15,000-18,000 Per Month

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

BMW

320d Dsl AT
2001
R 69,500.00

VOLKSWAGEN

Polo Classic 1.4 Trendline
2009
R 139,995.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf Chico 1.3 5-dr MY96
2002
R 40,000.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

LOVEMORE PARK

House R 28 000 000

EVERTON

House R 9 500 000

PRETORIA NORTH

House R 895 000

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Gratis Speletjies - TE VEEL NUUS? Neem ‘n blaaskans

Kalahari.net - doen vandag jou inkopies aanlyn

Lae pryse op Boeke!

Miljoene titels om van te kies. Spaar nou tot 40%!

DVD's vir R129.95 Elk

Kry al die topverkopers en nuwe vrystellings vanaf R129.95 nou! 100e DVD's om van te kies.

Koop jou UNISA & Akademiese Teksboeke & WEN Groot

Koop enige teksboek van kalahari.net en 50 gelukkige lesers sal 'n R100-koopbewys elke dag van Maandag die 19de tot Saterdag 31 Julie wen.

Vuurwarm Musiekvrystellings

Kry jou gunstelingalbum van die musiekwinkel. Lae pryse op ALLE albums.

Tot 20% af op Elektronika

Besoek die Elektroniese winkel vir die nuutste produkte en toebehore. Fantastiese aanbiedings op handelsnaam-produkte.

Vandag se beste aanbod!

Bestel jou iriver vandag vooruit

Nou net R1599

Wanneer jy jou irivier-storie eReader bestel, sal ons 'n e-Boek koopbewys ingooi om in ons Lentekatalogus van topverkopers te gebruik. Irivier verskeep 13/9/2010. Aanbod eindig 30/9.2010

iPods, Wii, toebehore, sonbrille, horlosies & meer by www.kalahari.net!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...