Hanlie Retief gesels met Louis Oosthuizen
2010-07-24 15:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Spesiaal uit Stockholm
Voor Louis eergister ’n vinnige
middagslapie ingekry het in ’n paar
af ure by die Skandinawiese Meesterstoernooi, het hy ons spesiaal uit
Stockholm teruggebel:
“Ons kan nie meer wag om Dinsdag in Suid-Afrika terug te wees nie.
Hulle lewer Woensdagoggend my trekker – ’n 6330 John Deere – op die
plaas af en ek’s so opgewonde soos ’n klein seuntjie. My pa-hulle het ’n
stuk land wat hulle wou bewerk spesiaal gelos vir my om te kom omdolwe.
Ek gaan in my trekker klim en bésig raak!”
Toe Louis met ons gepraat het, het almal asem opgehou oor of hy
binne ’n week nóg ’n titel gaan inpalm. Hy was in die tweede plek ná
twee rondes. Die media-histerie ná sy Britse Ope-oorwinning het hom
darem nie van stryk gebring nie, sê hy. “As ek op die baan stap, dink ek
nie aan ander goed nie.”
Hy’t lekker gelag vir sy vriend Charl Schwartzel se opmerking dat
die laaste keer wat hy Louis gespanne gesien het, op sy troudag was.
“Dis seker waar! As jy goed swaai en die bal mooi slaan, help dit
vir die senuwees. Ek speel al ’n hele ruk goed, maar dinge wou nooit
bymekaarkom nie. Op St. Andrews het alles in plek geval. Dit was seker
maar my tyd – maar gouer as wat ek verwag het, moet ek sê! My
dogtertjie, Jana, is my gelukbringer.”
Die Mosselbaai-gholfklub beplan Woensdagaand ’n groot partytjie vir
Louis. “Ek sien uit daarna om saam met die ouens te kuier. Ek hoor
hulle’t laas Sondag almal daar in die klubhuis vir my duim vasgehou.”
Twee oomblikke van dié dol wenweek sal Louis altyd onthou:
“Die ongelooflike gevoel toe ek van die agttiende bof oor daardie
famous bruggie gestap het. Om die Britse Ope te wen is spesiaal, maar om
dit by St. Andrews te kon doen, is iets waarvan jy droom.
“Die tweede oomblik was toe Greg Norman my bel en sê ek’s die
eerste speler wat hom ’n hele ronde gholf op TV laat kyk het: van my
eerste hou tot die laaste het hy vasgenael gesit en kyk.”
“Dis nou elke oggend se ding.
“Louis word wakker, dan sê hy vir my: ‘Liefie, ek het die Britse Ope gewen! Ek het ’n májor gewen!’?”
Nel-Maré Oosthuizen is steeds ’n bietjie uitasem. “Ons was moewies bly toe hy wen! Louis is so uit sy kassie hy gaan nêrens sonder die Claret Jug nie.”
Ons het Louis se mooi donkerkopvrou raakgebel in ’n haarsalon in Altrincham, naby Manchester, twee dae ná haar man se Groot Wen.
“Ek sê vir Louis my kop klop nou so, want alles is oorweldigend. Almal oorval ons, en ek waardeer dit, maar dis ’n bietjie baie om in te neem. Ek sê vir my ma ek wil net vyf minute doodstil sit en die wen geniet.”
Dié plaasseun van Albertinia het die afgelope week die wêreldmedia gaande gehad toe hulle uitvind hy gaan nie – soos ander meesters-wenners voor hom – vir hom ’n blinkrooi Ferrari met sy £850?000-wengeld aanskaf nie, maar ’n John Deere-trekker.
“Met ’n babastoeltjie vir Jana.”
Nel-Maré vertel hy’t sommer dadelik op die internet ’n trekker gaan soek. “Hy’t net vier woorde gehad: John Deere. ’n Gróéne!”
Hulle’t Sondagaand tot laatnag feesgevier in die Jigger Inn langs St. Andrews se Ou Baan. Héérlik, sê Nel-Maré, daar was ’n klomp pelle en Suid-Afrikaners, en toe’s hulle huis toe waar hulle saam met drie vriende om die kombuistafel verder gekuier het.
“Toe bespreek ons eers alles wat gebeur het en drink tee en sjampanje.”
Louis se sege het die gholfwêreld omtrént onkant betrap. Die nuutste Golf Digestse opskrif basuin dit uit: “South Africa’s Next Big Thing” – met ’n artikel oor Charl Schwartzel. Tydens die toernooi moes die organiseerders aan die media beduie hoe ’n mens Oosthuizen uitspreek. Die 54ste posisie op die wêreldranglys is immers nie eens náby celeb-status nie.
Selfs sy familie daar op Melkhoutsfontein is heel oorhoops. Nou nie dat hulle gereken het Boeta kan dit nié doen nie, maar wie’t nou verwag dat alles so dramaties vir Louis sou reg loop?
“Hy was vir my besonder kalm gewees, hy’t heeltyd met ’n glimlag gespeel,” vertel Pa Piet van hul plaas af by Gouritsmond.
Wat ’n groot verskil gemaak het, reken Piet, was die rooi kol op Louis se handskoen. Sy sportsielkundige het hom dié plan gegee om beter te fokus. “Hy’t elke keer afgekyk daarna as hy speel.”
Hoe ’n soort mens is Louis?
“Ontspanne. Niks is vir hom ’n probleem nie. Van kleins af, as jy vir hom sê iets is te moeilik, dan doen hy dit juis. Daar’s min goed wat hom werklik ontstel, hy steur hom nie veel aan wat mense sê nie.”
Wat sy seun seker die heel beste opsom, sê Piet, was Louis se reaksie een dag ná ’n gholftoernooi. “Hy was so veertien, vyftien, en ons was in die kar iewers tussen Port Elizabeth en George. Hy’t tweede gekom in die toernooi, maar nie span gehaal nie. Almal het gedink dis bitter onregverdig. Vir ’n uur lank het hy baie bekaf daar gesit. Toe trek hy hom regop en sê: ‘Ek sal só speel dat hulle my móét kies.’?”
“Ai, man, Lóúis!” juig Ma Minnie oor haar jongste. “Voor sy afslaan laas Sondagoggend het ek hom ge-SMS ek wens ek’s daar om hom ’n drukkie te gee. Ek wou nie bid dat hy moet wen nie, ’n mens kan mos nie so iets doen nie, maar toe sê my dogter: ‘Ma, dié keer mag jy’… maar toe bid ek liewerster hy moet net kalm bly.”
Ai, man, Lóúis! Nog altyd haar kampioen, van kleintyd af. En ’n platjie! “Hy sal by die venster uitkyk en sê: haai, daar hang hulle die koei aan die trekker op, en as ek nader hol, dan’s daar niks!
“Altyd vol dingetjies, altyd in kompetisie met sy ouboet. In sub A (gr. 1), toe gaan sê ek vir hom nag in die bed. En wat steek onder sy pajamas uit? Sy skoolklere! Ek pluk hom uit die bed en vra wat gaan hier aan. Hy sê: ‘Ek wil voor my boeta klaar wees môreoggend.’ Sien, gekompeteer, tóé al. O, hy gaan my skiet oor ek dit vir julle vertel!
“Hy’t in die huis se gang vir hom ’n gholfbaan gebou en dan slaan hy sethoue tussen ’n paar blikkies deur tot by die draai na die sitkamer. Ek raas: ‘Boeta, jy kap nie teen my meubels nie!’ Min het ek geweet wáár als gaan eindig.
“Ag, wee-jy…” antwoord Minnie dié wat nou sê hy’s seker maar net ’n eendagwonder.
“’n Mens kan nie sulke goed voorspel nie. Gholf is gholf. Soos Louis altyd sê: hy speel mos nie aspris sleg nie. Niemand doen dit nie. Louis doen altyd sy bes. En dis goed genoeg vir my.”
Die ou gholfers op Albertinia het vroeg-vroeg al gesien dié mannetjie het talent. Toe Piet hom by ’n afrigter op Port Elizabeth uitkry, het dié gesê hy wil nie eens probéér torring aan Louis se natuurlike speelstyl nie.
Hulle’t die land vol gery, Piet en Louis in die ou Camry, van die een toernooi na die volgende.
“Dit het naderhand te duur vir my geraak en ná Louis se matriek aan die Hoërskool Albertinia het ons by die Ernie Els-stigting gaan aanklop. Louis is toe vir drie jaar daarheen.”
Sjoe, hoe’t hul lewens nie binne ’n week verander nie…
“Man, ek loop hier op die plaas rond en elke af en toe kry ek ’n knop in my keel.”
So kalm soos Louis was tydens die toernooi, so was die Oosthuizens op Melkhoutsfontein – so anders as met vorige toernooie.
“Snaaks, dit laat my nogals dink dié ding was vir hom geoormerk. Louis gaan wen, het ek al die Vrydag vir ESPN in Amerika gesê.”
’n Halfuur ná sy sege toe kom die pelle op die plaas aangery met sjampanje en vuvuzelas. Piet-hulle kon skaars saamvier so’t die foon gelui.
In ’n regstreekse onderhoud met Louis het die BBC vir Piet ook op die lyn gekry. “Daar, op die lug, sê ek vir hom: ‘Hallo, Boeta, ons is lief vir jou.’ En hy sê: ‘Haai, Pa!’
“Jitte, ons plaasmense is nie gewoond aan al dié aandag nie.”
Louis moes vir die Britte vertaal wat Pa “Whist-hey-zin” als vir sy Boeta te sê gehad het.
Minnie se groot bekommernis was altyd oor waar Louis ’n vrou gaan kry wat bereid is om saam te toer, om elke dag in te pak en uit te pak.
En toe haak hy af met sy ou laerskoolmaatjie.
“As klein kindertjies was dié tweetjies baie geheg aan mekaar.”
Hul ouers was groot huisvriende op Albertinia en die ma’s het smiddae altyd saam koffie gedrink as die kinders op die sportveld besig was.
“Louis is ’n jaar jonger as ek,” vertel Nel-Maré, “en nee, kwit, hy’t my ook maar lekker geïrriteer! Ons was altyd die twee kleintjies wat ons ouer broers en susters gepes het. Drie jaar later het ons weggetrek Prieska toe en nie weer kontak gehad nie.”
Toe Louis iemand soek vir sy matriekafskeid, skaars terug ná hy in Jamaika junior wêreldkampioen geword het, kla hy by sy ma hy’s g’n lus vir ’n “vreemde meisie” nie. Toe sê ouboet Rikus: “Ag, man, vra sommer vir Nel-Maré…”
En só is die Matie-eerstejaartjie in ’n rooi rok met Albertinia se beste gholfspeler matriekafskeid toe.
Eers ’n paar jaar later, vertel Piet, ná ’n kuier op Melkhoutsfontein, “het die saadjie weer ontkiem, en nou ja toe, die res is geskiedenis.”
Sonder Nel-Maré wil Louis nie op toernooie gaan nie, en sonder Louis wil Nel-Maré nie agterbly nie. Uitgeknip vir mekaar, sê Minnie.
Vandat hulle saam is, vertel Nel-Maré, het sy nog net twee toernooie gemis. “Ons sê honderd keer ’n dag ons is lief vir mekaar. Hy’t nie issues nie, ons altwee vat dinge soos dit kom. Jana was drie weke oud toe begin sy saamry. Sy hou nie eens vir Louis uit die slaap nie, hy slaap deur als – ek dink hy doen dit aspris!”
En nou’s hul lewe “totally anders”, sê sy.
“Snaaks hoe mense nou met ons is, hulle wil ewe skielik alles vir jou doen en gee. Dis ’n bietjie weird, want ons kom van die plaas af en weet nie so lekker hoe om dit te hanteer nie.
“Een vroegoggend verlede week, met klein Jana tussen ons in die bed, gee Louis die Claret Jug vir haar. Sy’s toe alte danig daarmee en vat hom reguit na haar mondjie toe.”
Vir daai eerste slukkie glorie.
Nés haar pa.
* Bykomende bron: ESPN.com
- Rapport