Hanlie gesels met Barbara Botha
2011-11-12 14:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die hekke van die meenthuiskompleks in Wildernis swaai geruisloos oop. Agter ons lê die strandmeer. Ons loer rond of ons die rooi spitsdakke van Die Anker, PW Botha se aftreehuis daar oorkant kan sien, al weet ons dis bietjie te ver.
Eendjies dobber op die water, vreedsaam in die wildernis, die groot krokodil lankal heen.
Dan sien ons haar wag in die oprit van haar meenthuis. Is dit rêrig sy, wonder die fotograaf. Sy lyk anders as die stroewe weduwee op PW se begrafnisfoto’s. Skraler, jonger as haar 71 in ‘n wit langbroek, hip pêreltoppie, donker oogomlyner en hare wat blouswart blink in die son.
Sy groet vriendelik. Moeg-gery? Kom bínne.
Teen die voorportaalmuur betrag PW ons NP-formeel uit ‘n olieverfskildery. Ons volg sy weduwee die skemer gang af. In die oopplan-kombuis word eetgoed uitgepak. Haar hande bewe liggies terwyl sy gerookte salm uit ‘n WW-pakkie haal.
Eenkant op die toonbank lê bundels geestelike boeke en ‘n botteltjie salwing-olie.
Roosgeur, lees ek.
Op 31 Oktober, vyf jaar terug, is die 90-jarige PW Botha in haar arms oorlede. Hy is begrawe op 8 November. En nou het sy weduwee aangebied om oor haar agt jare saam met die oud-staatshoof te gesels.
Sy kyk vraend op van die pienk salm. Is jy ‘n Christen? En jy? mik sy na die fotograaf.
“As die Here met my praat, slaan dit my soos ‘n hou in die maag. Ek weet dádelik dis Sy stem. Soos die Here my gewys het ek moet met PW Botha trou, só wys Hy ek moet hierdie onderhoud doen.”
Geheimsinnig: “Ek het vandag iets op die hart.”
Ons gaan sit op die regop, hoë meubels en sy vertel van die Groot Ontmoeting. Sy, ‘n geskeide regsekretaresse van Kaapstad, en hy, 25 jaar ouer, ‘n eensame oud-president skaars ‘n maand ná sy vrou se afsterwe.
Barbara het die bekendstelling van PW se boek, Stem uit Wildernis, al die pad uit die Kaap kom bywoon as genooide gas van die uitgewers.
PW nooi haar toe vir middagtee by Die Anker. “Koppie in die hand, staar die formidabele man my stip aan. Hy’t mos daai manier gehad. Toe staar ek ewe stip terug.”
Toe PW die eerste keer vir haar in die Kaap kom kuier, hou sy hom dop terwyl hy die veertig trappe na haar woonstel opklim. “En dit flits dit deur my kop: “Dear Lord, I can’t marry this man…”
Háár opsit-beurt in Wildernis was oor die Hemelvaartnaweek. Maar na net een dag in Die Anker wou sy ankers lig en huistoe. Vir dié oom het sy nie kans gesien nie.
Die volgende oggend staan sy reisgereed met haar koffertjie. Op ‘n ingewing draai sy om en vra: kan ons nie saam gaan bid nie?
In die studeerkamer vat PW Barbara se hande en hý bid. Knielend tussen NP-aandenkings en presidensiële geskenke met gegraveerde koperplaatjies, het ‘n liefde vir die oom op haar neergedaal.
“Hy was my roeping…”
PW was haar real package deal. Bedagsaam, vol verrassings, heeltyd aan’t goedjies aandra vir haar. “Dit het hom vyf jaar gevat om vir my te sê hy hou nie van ertjies nie. Maar hy’t wéér ertjies gekry!”’ skater sy.
“Dit was PW Botha. Hy’t my liefgehad, en dit was ook sy laaste woorde aan my.”
In somber sinne deel sy haar man se doodsminute.
“Sewe uur daardie Dinsdagaand wou hy gaan skuinslê. Ek het hom gaan uittrek en in die bed gesit. Vyf minute later kry ek hom op die rand van die bed. Hy wou badkamer toe. Op pad daarheen, draai hy om en sê: ‘Ek is lief vir jou’. Drie treë verder kon hy nie meer nie.”
Haarlaaste beeld van hom is waar hy op die badkamervloer met sy kop in haar arms lê.
Haar groenbruin oë gly muur toe, na die groot, wasige skildery van hul troufoto. “Hy was my man, my sielsgenoot, my lover, soos Abraham en Saraï in die Bybel.”
Hy’t nooit dáái wysvinger vir haar geswaai nie?
Newwer! En newwermaaind, skater sy, g’n oud-staatshoof sit op haar kop nie! “Ons het partykeer só baklei jy kon ons tot in die Kaap hoor.”
Barbara reken sy’t verreweg die lekkerste deel van sy lewe gekry, vir die teepartytjies “en al daai tipe goed” wat Elize moes doen, sien sy nie kans nie.
Die lewe van ‘n eks-eerste vrou pas haar egter soos ‘n handskoen. Laasjaar het sy selfs vir Winnie Mandela ontmoet.
Die spitwerk vir dié “historiese” ontmoeting is deur ‘n Indiërsendeling gedoen.
“Hulle’t my in die presidensiële suite laat wag, en toe kom sy aangehardloop, gooi haar arms om my en huil soos ‘n baba. Die mense se mónde het oopgeval!”
Die twee het gelê soos hulle lag met Winnie wat lekker spot oor hul ou mans, Madiba en PW. “Ek het respek, nie vir wat sy gedoen het nie, maar vir wat sy nié gedoen het nie: sy’t nie haar mense uitverkoop nie.”
Sy hoop op ‘n herontmoeting. “Ek voel regtig as ek en Winnie saamstaan, kan dit die hele land verander.”
In sy laaste jare het PW en sy bruid die land vol gereis agter Gelofte- en Krugerdagvierings aan.
Eendag in 2003 kom vra hy haar: Bokkie, was jy al ooit by Bloedrivier?
Toe hulle daar aankom, was die bostelegraaf al aan die gons. Die volgende dag, Geloftefees, nooi koning Zwelithini en prins Buthelezi die Bothas om bietjie oor te kom.
“Ons is dádelik in die kar. Hulle het behoorlik die rooitapyt vir ons uitgerol. Duisende Zoeloes in tradisionele drag wat vir PW sing. Dr. Buthelezi het op die grond voor my kom sit – hy’s mos ‘n Christen - en gesê: ‘my suster, jy weet nie wat het jy vandag gedoen nie’. En die koning: ‘ons het ‘n lang tyd gewag hiervoor’”.
Sy lag. “So tweehonderd jaar, jy weet!
“Vandag glo ek dit was goddelike versoening wat ek daar ervaar het.”
Mense het altyd doodstil geword as PW Botha ‘n vertrek instap. “Hy was kragdadig, ja, maar hy kon só sweet wees.”
En dol oor sy swart katjie. Mitzi. “Toe die katjie vrek van bosluiskoors het ons vir twee weke lank, elke etenstyd, aan tafel gesit en huil soos kinders.”
Sy skakel oor na Engels, waarin sy gemakliker is.
“My passie in die lewe is die Afrikaner. PW het vasgestel ek kom uit dieselfde lyn as sý Bothas.”
Skraap liggies keel. Die oomblik het aangebreek.
“God het my gewys Sy spirituele saad in Afrika is die Afrikanervolk. Daar is groot ooreenkomste tussen die Afrikaner en die mense van Israel. Totale tweelinge! Albei vervolg in hul lande. Maar by die Afrikaner tel twee R’e deesdae ongelukkig: Rugby en Rande, pleks van righteousness.”
Ek hoor PW in haar stem.
Sy worstel vir die Afrikaner. Wórstel. “Bid, o Here, hoeveel langer gaan U toelaat dat die ongoddelike die land vernietig! My boodskap aan die Afrikaner: moenie wanhoop nie. Vier die Gelofte elke jaar.
“En weet jy…” haak sy vas, “ek moes eers vir julle gebid het. Kan ek gou?”
Sy kom kniel by ons, hou hande vas, bid.
Doodstil sit ons in die skemerte van die sitkamer, agter toe vertikale blindings.
“Ek gaan jou net gou salf, as ek mag?” Hande, voorkop. ‘n Ligte roosgeur hang in die lug.
Twee jaar voor sy dood het PW die NG Kerk, sy geestelike huis vir 88 jaar, verlaat vir die Evangelies-Gereformeerde Kerk. Oor die NG-siening oor aborsie, sê Barbara, die “Belhar-gemors” en daardie ander euwel wat sy nie op rekord wil noem nie.
“En, halleluja, die EG Kerk vier Geloftefees.”
In sy laaste seisoene was die Groot Krokodil ontgogel. Gefrustreerd het hy eendag vir Barbara gesê hy wens hy was twintig jaar jonger.
“Ek het hom partykeer op die vloer gekry waar hy lê en uitkreet om sy God, sy volk, sy váderland.”
Die verraad van sy eie kabinet was vir hom bitter. Sy’t gehoor wat die woord rubicon vir hóm beteken het. “Drie woorde: evolusie, nié rewolusie.”
Hy’t haar vertel van FW se besoek aan Die Anker. “PW het FW uitgedaag en gesê hy’t ons verraai. Op FW se ‘maar meneer beledig my nou’, antwoord PW toe: ‘gáán, maar nie voor jy my vrou bedank het vir die tee wat sy jou bedien het nie.’”
Mense dink sy het hom getrou vir sy geld. Sy lag. “Hy’t net R150 000 in die bank gehad. Toe belê ek dit vir hom. Met sy dood was daar R500 000.”
Al wat hy gehad het om vir haar te gee, was sy 1996-BMW, en ek’t nie ‘n probleem daarmee nie.” Daar’s darem die ruim staatspresidentspensioen. Sy hoef nooit weer ‘n dag te werk nie. “En ek het genoeg om weg te gee, soos aan George se voortreflike Solidariteit-tak.”
Deesdae ry Barbara die land vol agter mense en geleenthede en die stem van die Here. Noupoort se dwelmplek, Kaapstad, oral. “As mense hoor ek is PW se vrou, nooi hulle my uit en dan werf ek nuwe dissipels vir Hom.” Vir PW se kinders sien sy selde, “ons almal is vasgevang in ons lewens”.
Ons stap die plankpaadjie af vir foto’s by die meer.
Haai kyk, wys sy effentjies uitasem, oorkant teen die wal lê die trapboot waarmee sy en PW so lekker rivier-af gewittebrood het.
Ná ons groet, swaai die staalhekke weer agter ons toe. Ek wonder: presies wie het ons agtergelaat in ‘n wit langbroek by haar meenthuis se oprit…
Daar stap sy nou: die enigmatiese weduwee Botha.