Hanlie gesels met Dorothea van Zyl
2012-01-21 14:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Smiddae in Graaff-Reinet, in haar pa se skuinslê-kwartiertjie, het klein Dorothea langs hom op die katel geklouter en dan het hy vir haar stories vertel.
Soos reëndruppels op Karoogrond was die stories vir sy derde dogter, die middelkind wat haar dae verdroom en verspeel. Sy Gatiepie, het hy haar genoem, so ’n tergnaampie.
Sy was skaars agt toe’s haar pa oorlede. Maar sy erfenis het in Dorothea bly groei: ’n liefde vir woorde.
“Ai, daardie warm, vertroude gevoel langs hom op die bed, die koestering van die woord,” onthou sy ’n halfeeu later.
En nou vier prof. Dorothea van Zyl fees met woorde.
Vir die 13de keer bring sy vir ons vanjaar die “fees der feeste”, soos Johan van Zyl, Sanlam-hoof, die US Woordfees in die 2012-program noem.
Wat begin het as ’n klein deurnagviering met skaars 1?000 besoekers, bars nou uit sy nate met ’n besoekerstal van 71 000 – terwyl ander feeste stagneer of krimp.
Verlede jaar het dit ’n kykNET-fiesta ingepalm as die gewildste fees.
“Dis nou soos ’n groot hond wat met jóú gaan stap,” beskryf Dorothea die fees. Háár fees, eintlik, want dis sy wat dit bedink het, sy wat dit beklink het, sy wat steeds die gesig daarvan is.
Soos daardie destydse woordsaadjie in Graaff-Reinet het haar idee vir die Woordfees nou ook geblom, sê sy. “Nes daardie pragtige N.P. van Wyk Louw-gedig: onder in die proefbuis blom die wolkie.”
Dis ’n fees met styl, sê diegene wat gereeld meer as ’n flertsie kultuur daar beproef, nie ’n doef-doef-biertent-affêre wat meer stalletjie as kuns is nie. Die fees se tentakels strek ook deur die jaar, met die Woorde Open Wêrelde (WOW) -jaarprojek vir leesbevordering wat in 2011 meer as 82 000 mense bereik het.
En nou’s dit op die merke, gereed, Dorothea, vir die 13de keer.
Hier, in hul huis in Eversdal, Durbanville, sit sy vandag rooiwang met die energie van die helfte van haar 62 jaar. Snags tref haar kop die kussing nooit voor halfdrie nie, want ná middernag “trek daar so ’n sluiertjie oop”.
Sy eet en slaap en stort Woordfees. Daar onder die stortwater, hoor jy, kom die “suiwer invalle”, waar sy al menige Woordfeestema uitgedink het. Soos die Groen-tema vanjaar, laas jaar se Elwe en Selwe, 2010 se Baljaar!
Groot baljaar vir haar.
Desembermaande in Witsand, in die Van Zyls se 1917-sandsteen-strandhuis met die naam Lawaaiwater, word die voorbereidings knersend gefinaliseer, “want dan sak ons program”.
Dis ’n reus van ’n fees met meer as 250 items. “Iets wat jy nie moet toelaat nie, is dat dit jou oorweldig. Jy kán keer dat jy bang word, jy kán keer dat jy senuagtig word as die voorbereidings jou omgooi. Jy het ’n keuse. Jy kan inderdaad besluit of die glas half vol of half leeg is. Gelukkig het ek ’n gedugte Woordfees- en WOW-span om my, almal woordmense, planmakers.”
Haar en Wium se huis is vol boeke, skilderye en onthougoed uit hul studiejare in Nederland. ’n Bougainvillea omraam die voorhek, by die koper-deurklopper lees ’n bordjie “Familie van Zyl”. ’n Gargoyle en die Domkerk in Utrecht in Nederland, blou op teëls, eggo iets Europees.
Die huiskat Spokie spring met ’n boog tussen ons deur. “Ons het haar een aand in die skottelgoedwasser gekry, sy’t besluit sy kom woon hier.”
Hier in die warm leefhuis van twee taalmense.
Dit was juis woorde wat die vonk tussen haar en Wium, tans professor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, laat ontstaan het. Hulle’t in die Afrikaans-Nederlands-honneursklas op Stellenbosch ontmoet. “Ek het aanvanklik glad nie aandag gegee aan dié mannetjie nie. My kêrels was altyd sesvoetvierduimers, en Wium was meer my lengte. Maar geleidelik het die ding toe ontwikkel,” skerts sy.
“Sy taalvonkel het my aangetrek, sy oorspronklikheid met woorde. En sy humorsin. Nog altyd.” Wium is onlangs deur die ATKV met ’n oorkonde vereer vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans.
Hulle het ’n lewe met verskillende stories, kom jy gou agter. Een waardeur Nederland soos ’n goue draad loop. En veral Utrecht, waar hulle in 1976 as “armlastige” varsgetroudes hul doktorale studies gaan doen het.
“Dit was hemels. As ek aan daardie dae dink, kom een woord by my op: uitgelatenheid. Utrecht is mý stad, my hart se punt, met die Dom wat soos ’n groot soutpot sy klokkespel-note oor die stad uitstrooi.”
En die twee het getóér. Hulle het hulle “in ’n beswyming in gestudeer” en dan met hul modderbruin kewertjie en vaal tentjie die pad gevat deur Europa.
Daarna was hulle nog baie keer terug in Utrecht, in die legendariese Suid-Afrikaanse studentehuis by Mauritsstraat 76. “Op met die steil trap tot die ‘bovenste etage’,” onthou sy. “Met ons tweede besoek, toe met twéé kinders, tuimel die driejarige Christa die eerste aand holderstebolder by die trap af en land op haar neus!
“So, ons is taamlike réisigers,” knikker haar kop vrolik.
Dis in 1994, by ’n kafeetafeltjie in Utrecht, waar die Woordfees-saadjie deur Greetje van den Bergh, destyds sekretaris van die Nederlandse Taalunie, geplant is. “Sy’t opgemerk hoe heerlik ’n fees met Afrikaanse en Nederlandse kunstenaars sou wees.”
Dorothea, toe nog van die ou skool dat net die téks tel, nie outeurs nie, het by die Nederlanders gaan leer dat lesers belangstel in skrywers, die mens agter die woord.
Die eerste Woordfees, getiteld Nag van Passie, het groot media-aandag getrek oor “dié klomp mal akademici en skrywers wat deur die nag wou fees. Daai nág! Joan Hambidge het so halfdrie gepraat, Etienne van Heerden eenuur... Alles het soos klokslag geloop. Teen sewe-uur daai oggend, toe Louise Viljoen vir my ’n bos blomme gee, toe staan ek daar op die verhoog met die groot besef: Ons het dit gemaak. Ek kan nie vir jou die gevoel beskrýf nie.”
Wie sou kon dink, sê sy steeds verwonderd, dat ’n fees waarvan skrywers die hart vorm, ooit sou kon werk...
Daardie passie-nag was haar aha!-oomblik, die een wat alle oomblikke oorheers. “Waar jy voel jy kom tuis in wat jy eintlik moet doen.”
Maar agter die opwinding was dit ’n swaar tyd vir Dorothea. Sy’t haar verswakte ma in haar laaste jaar tuis versorg, tot met haar dood kort voor die eerste Woordfees. Afskeid, maar ook geboorte, knik sy.
“Dis vir my tog wonderlik. Sy het dikwels vir my gesê: Jy sal geseën word hiervoor. En ek kan nie anders nie as om te sê: Ek ís geseën met die fees.”
Haar oudste, praktiese suster het altyd gesê Tiepie (die Ga het mettertyd weggeval) het ’n stréép.
Dis juis dié kreatiewe streep wat sorg dat die fees vir die 13de (“gelukkige!”) keer nuut voel, nooit oemf verloor nie. Maar dis eintlik Dorothea se akademiese agtergrond wat die fees anker – haar studies in mediakunde, die doktoraal in oorredingstrategieë en retorika.
“Die mediakunde, al die ou beginsels van retorika, was vir my baie belangrik in die ontstaan en groei van die Woordfees. Die retorika onderlê immers steeds ons Westerse filosofiese denkraam.”
Akademies, literêr, maar ook ’n fees vir almal, beklemtoon sy altyd. Sy weet wat “almal” wil hê, want sy’s “regtig net” ’n doodnormale mens.
“(Die joernalis) Leopold Scholtz se vrou sê ek’s die normaalste mens wat sy ken. Dis seker baie naby aan gewoonste en saaiste!”
Daar’s vir haar niks lekkerder as om feesdae geselsend tussen almal rond te loop nie. “Ek kry skoon ’n ander persona dan.” Die dromertjie, wat haarself op hoërskool doelbewus moes inoefen om vreemde mense te groet, het ekstrovert geword.
Maar seepglad gaan dinge ook nie altyd nie. “Wium sê elke jaar tref ’n krisis die fees, jy weet net nooit van watter kant af dit kom nie.”
’n Paar feeste gelede het Eskom met duister toegeslaan, daar was die jaar van die veldbrande, met as wat op die restauranttafeltjies neersif, die op-die-nippertjie-onttrekking van R1 miljoen se donateursgeld, die Dan Roodt-debakel in 2005, toe deelnemers onttrek het weens sy deelname.
In die beginjare het Dorothea dit skertsend herdoop na die Ego-fees.– “Daar was soveel ego’s om tevrede te stel: skrywers en kunstenaars s’n, universiteitsamptenare, donateurs. Maar dit behoort gelukkig tot die verlede.”
Teenstand was daar ook. “Tradisioneel hoort ’n fees nie binne ’n universiteitsopset nie. Maar hy pas verskriklik goed daar, en wêreldwyd word baie feeste gekoppel aan universiteite. Maar dit bly ’n irritasiefaktor en daar’s soms nogal sterk akademiese weerstand.”
Gelukkig het Dorothea êrens die “waansin” van die Franse Hugenote in haar. Van vasbyt.
“Jy moet eenvoudig ‘er door heen’. Dwarsdeur. Daaraan glo ek baie sterk.” Haar Woordfees-span sê nie verniet haar uitstaande kenmerk is haar bulhond-mentaliteit nie.
Elke einde van die jaar in die see by Witsand gaan raak Dorothea ontslae van die jaar. Dan spoel sy haar “swoeginge en wroeginge” af in die soutwater. Die see is vir haar, Karookind, terapeuties. Water. Van haar vroegste herinneringe is hoe hulle op die stoep onder die sinkdak staan en mielies eet terwyl ’n donderbui neersak.
Op die ou end kom alles vir haar terug na woorde. Taal. Dis wat hierdie fees ’n ánderster een maak. “Die spel met taal, dís wat hom sy glinstering gee. Hy moet heeltyd van dimensie verander, nooit saai wees nie, nooit eenselwig nie. En die manier hoe jy dit bereik, is deur die taal.”
Afrikaans is nie dood nie, is die boodskap wat Dorothea van Zyl al by 12 feeste gekry het. Afrikaans is groen. Guitig. Afrikaans is lewend.
Reëndruppels op Karoogrond.
* Die US Woordfees duur van 2 tot 11 Maart. Besprekings by Computicket. Kyk by www.woordfees. co.za vir die program.