Hanlie Retief

Hanlie gesels met Marié Heese

2011-11-19 17:19

Wys jou net: moer-strip hét sy voordele.

    “Ek skryf en praat al jare oor die taalkwessie op Maties, altyd besadigd, mét argumente en navorsingsgegewens, maar niemand het ooit notisie geneem nie.”

    Maar toe dr. Marié Heese in hul aftreehuis in Stilbaai prof. Pierre de Vos (grondwetkenner van die UK) se dwarsklappe aan Maties se ‘stompsinnige taalbulle’ op die internet lees, raak hierdie ouma die bliksem in en gaan pen ‘n bazooka van ‘n kommentaar neer in laasweek se Rapport (‘Ouma Heese ‘strip’ haar moer’).

    En so warempelwaar: nog nooit in haar lang loopbaan as akademikus het sy soveel positiewe reaksie gekry nie. En die kritiek? Sy skouerophaal dit weg met: “Wel, ‘n kat skreeu as sy stert vasgetrap word.”

    Nou wát het die ouma so ontstig?

    Sy’s immers beter bekend vir haar humor as haar humeur, dié (oud) US-raadslid met ‘n nugter, wye blik op die taalstryd – die bifokale blik, om DJ Opperman nader te sleep. Dié ‘classy lady’ vir wie Jannie Mouton in ‘n US-raadsvergadering opgestaan en uitgestap het ná sy verneder is in ‘n woord-tirade deur mede-raadslid Francois Groepe.

    Wat hét haar van Pierre de Vos ontstig?

    “Ek het eenvoudig my humeur verloor. Ek bedoel, Peertjie het net beledigings, nie argumente nie. Sy blog is ‘n stuk Afrikaner-bashing, en dis nie eens goed geskryf nie!
“Mense soos De Vos maak ‘n karikatuur van ons, etiketteer ons as hierdie oumense wat bly vasklou aan apartheid. Hulle sê ons maak of ons begaan is oor taal en onderrig, maar eintlik wil ons Maties wit hou. 

“Dis waarop dit neerkom: dat ons wit rassiste is.”

Sy sit daar in haar Stilbaai-leunstoel, mooi, geamuseerde gryskopvrou met die skerp verstand agter die skerp blou oë. Later, met die terugry Kaap toe, beaam die Engelse fotograaf: jeez, she looks like an ouma, until she opens her mouth...

Vra maar vir Pierre de Vos.

    “Ja, ek het nou regtigwaar gedaal tot die slegsêvlak. Daar’s nie argumente nie, dis uitskel, dis wat dit is. Soos: hoe sal Pierre de Vos voel om ‘n bynaam te kry waarvan hy nie gaan ontslae raak nie? As ek ‘n taalkoei is… is hy nou Peertjie.”

    Sy noem De Vos ‘n ‘akademiese liggewig’. ‘n Liederlike belediging, weet sy.

    “Maar hy ís. Natuurlik sê ek dit nié oor sy eie vakgebied nie. Daarin, veronderstel ek, is hy ‘n man van substansie. Maar die punt is, hy weet kennelik niks van taalnavorsing en die hele groot wêreld van linguistiek en opvoedkunde nie. Wêreldwyd, tot in Finland en Swede, is daar al dekades se navorsing gedoen oor taalsituasies.”

    Soos Gerrit Brand (op litnet) vra: het Pierre de Vos al iets gelees van Neville Alexander? Só vra Marié Heese: het De Vos al iets gelees van Jim Cummins en Tove Skutnabb-Kangas, wat ‘n gebrek aan moedertaalonderrig ‘n misdaad teen die mensdom noem? Iets van Christo van der Rheede, dalk?

    “Nee kyk, onse Peertjie is ‘n ignoramus!”

    Haar wange het begin gloei toe sy aan die einde van die De Vos-blog lees: as sy die taal wil red, hoekom skryf sy nie ‘n mooi gedig of e-pos ‘in your beautiful Afrikaans’ nie?

    “Dis so neerbuigend. Ek het nuus vir hom. Ek het al goed geskryf in ‘beautiful’ Afrikaans en in ‘beautiful’ Engels en ek kry my werkwoorde reg.”

     Dié kind van Audrey Blignault se literêre bydrae in Afrikaans én Engels is bevestig in haar klassieke Die Uurwerk Kantel, in historiese romans soos Double Crown wat ‘n Statebondsprys gewen het, in reisverhale, akademiese werke, kortverhale – soveel meer as net kinderstories oor die Pikkewouters van Amper-Stamperland.

    Sy gaan haal ‘n vraggie navorsingsartikels en verslae waarin die sogenaamde “taalbulle” met hul saak geworstel het. Agterin, stewige bronnelyste. “Ons praat met gravitas,” sê sy en glimlag. “Ons navorsing is gedoen.”

    Sy wéét van taal.

    Sy weet ook van die enorme mag – veral as taal van die ekonomie – van Engels, en die versugting van nie-Engelssprekers om Engels baas te raak, om daardeur bemagtig te word.

    Op universiteit is eenvoudige taalkennis nie genoeg nie, verduidelik sy Cummins se navorsing, van Bics as basiese taalbedrewenheid en Calp as beheersing van ‘n taal op abstrakte, akademiese vlak.

    “Mense maak steeds die fout om te dink as ‘n student op gespreksvlak taalvaardig is, is hy ook abstrak taalvaardig. Dis hoekom studente so liederlik faal. In hul moedertaal sou hulle abstrakte begrippe op universiteit beter kon hanteer, wat dan ‘n trapklip kan word om ook ‘n tweede taal abstrak te leer hanteer.

“Vir my gaan dit alleenlik om die beste belang van ons studente. Jy kan sê ja, maar die studente wil Engels hê, en hul ouers wil Engels hê, maar ek weet dat as hul huistaal Afrikaans is, dan is ‘wil Engels hê’ as eerstejaar op universiteit nie ‘n goeie opsie nie. Daar’s wêreldwye navorsing wat dit bewys, daar’s nie meer daaroor te strye nie.”

    US-rektor prof. Russel Bothman praat altyd van die plaasboer se seun en die plaaswerker se dogter wat dieselfde kanse behoort te hê, vertel sy.

    “Maar hulle gaan nié. Wie se Engels is beter? Wie se Engels is áltyd beter? Ek sal jou sê: die rykes, man, en die swart kinders met black diamond-ouers. Hulle sit in privaatskole met hul pragtige Engels. En wie word benadeel? Dié wat nog altyd benadeel is. Dieselfde arme, ontmagtigdes van die verlede, die Afrikaanses uit die platteland.”

    Die antwoord? Tolkdienste. “Theuns Eloff-hulle by Noordwes-universiteit het dit deeglik nagevors en geëvalueer. Ons reken dis die beste opsie. Waar’s die US-navorsing wat wys dat die T-opsie (dubbelmedium-onderrig) werk?”

    Sy skud haar kop. “Dis nou behalwe vir dalk ‘n paar onderhoude waar iemand sê ‘nee, ek voel orraait oor die T-opsie.’

    “Die probleem is, daar’s ‘n gebrek aan wil by die US-bestuur. Ek is spýt dat ek dit sê want ek dink wel daar word baie goeie dinge op Stellenbosch gedoen vir Afrikaans, soos die Woordfees, die hernieude werk aan die WAT, Woorde open Wêrelde, die eerstejaarsakademie wat studente help om akademies te vorder.

“Dis dus vir my ‘n hartseersaak om te moet sê wat onderrigmedium betref, is hulle nie Afrikaans ter wille nie.”

En die ouma hap nie in die lug nie. Sy’t feite.

“Jy kan dit numeries nagaan. Die Afrikaans-komponent het oor die afgelope jare drasties afgeneem. Dis nie ‘n wanpersepsie nie. Dis nie op verkeerde inligting gebaseer nie. Dis ‘n féit.”

Die US-bestuur, én die dosente, se willoosheid vir Afrikaans is deel van ‘n groter politieke realiteit, sê sy. “Ek dink daar is en was by die regering male fide teenoor Afrikaners.”

Marié Heese kén mag, sy ken die spel van mag en ontmagtiging, vertel ‘n vriend. Haar nuwe boek, The Colour of Power, gaan oor keiserin Theodora uit die Bisantynse ryk – eens ‘n ontmagtigde, en later déél van die mag. “Die band tussen haar boek en haar toewyding aan moedertaalonderrig is die kwessie van mag of bemagtiging,” sê hy.

    Sy dra self die littekens van die magspel in die Matie-taaldebat. Sy het later uit moedeloosheid uit die US-raad bedank. Die nou-al-berugte raadskonferensie by Arabella-gholflandgoed, “waar besluite oor taal sommer tjop-tjop en ongekonstitueerd deurgedruk is”, was die laaste strooi. Ná haar protesbrief daaroor in Die Burger, wou mede-US-raadslid Francois Groepe haar onder sensuur plaas.

“Ek hét in die volgende vergadering om verskoning gevra dat ek iets wat in die Raad hoort, publiek gemaak het – al dink ek steeds dat ek die Raad se gedragskode, die beswil van studente, gedien het.” Groepe, wat uit Londen per telekon deelgeneem het, het haar aanhou slegsê, vertel sy, met voorsitter Paul Cluver wat dit gelate laat aangaan het totdat Jannie Mouton opstaan en uitstap. “En toe hy uitstap, staan ek op, Lina Spies én Hermann Giliomee en stap daar uit, sonder dat ons eens vir mekaar gekyk het.”

    En dan, verder padlangs, raak Marié nóg ‘n bron van moerigheid aan: die “absolute verkeerde siening” van die destydse bantoe-onderwys. “En ek vergoeilik nié apartheid nie, allermins!

    “My lewe lank, as ek gewerk het, was dit skoolhou en tersiëre onderrig. Ek het baie selde wit studente gehad. Ek kén bantoe-onderwys. En ek praat nou van féite.”

Eintlik, sê sy, was dit om van niets iets te maak: om skielik ‘n geweldige hoeveelheid mense te moes onderrig. “Kyk hoeveel skole was daar voor Jan Smuts, en hoeveel teen die einde van die Afrikaner se heerskappy: ‘n volledige gedifferensieerde onderwysstelsel, laer- en hoërskole, tegniese kolleges en universiteite.

“Daar’s nie dieselfde hoeveelheid geld uitgegee per kind nie, dis waar. En party onderwysers hét klasgegee met onvoldoende opleiding, dalk net standerd agt, en twee jaar se mentorskap by ‘n onderwyser.

 “Maar die geskiedenis van opvoedkundige stelsels wêreldwyd wýs dis die pad wat geloop word wanneer groot getalle mense skielik moet begin onderwys kry. Jy begin met minder as ideale omstandighede.

“Nie ideaal nie, nie great nie, maar dit was daar en dit het gewerk. Teenoor wat nóú aan die gang is!

“Mamphela Ramphela het gesê sy haat dit om dit te erken, maar die bantoe-onderwys wat hulle gehad het, het hulle beter gedien as die onderwys nou.”

Marié sê mense herinner altyd aan Verwoerd se “absolute horribale toespraak” dat swart- en bruin kinders nie hoef nie te leer nie, want hulle is bestem om houthakkers en waterdraers te word.

“Dit was nié die onderwysbeleid nie.

“Mense sê hulle het nie wiskunde-onderrig gekry nie, dis balls man, hulle het dieselfde eksamens as almal geskryf!

“Ek het in my lewe nooit soggens wakkergeword en gesê ek gaan nou vir Indiërs klasgee, dus kan ek nou maar afskeep en minderwaardige onderrig gee nie. Twak man! Ek het altyd my bes gelewer. En ek is nie die uitsondering nie.

“En wat het ons nóú?”

Haar man Chris kom die vertrek binne, vrolik, “ek kom nou hierdie paartie opbreek vir koffie!” Hy was destyds hoof van onderwysopleiding, oud-skoolhoof, pedagoog. Haar sielsgenoot.

Met die uitstap praat ons oor prof. Chris Brink wat glo met sy uittrede as rektor gesê het hy het die US-skip omgedraai.

“Waarheen? Op die Engelse glybaan?”

    Sy knipoog.

    “Ek het ‘n spesmaas die skip kan dalk net teruggedraai word. Ek dink daar’s ‘n gety-kentering. Dis nie meer net die oues wat pro-Afrikaans  is nie. Al meer jongmense sê: hier’s ons, ons wil hier wees, en ons wil Afrikaans praat terwyl ons die land vorentoe vat.”

* Lees ook prof. Pierre de Vos se repliek in Weekliks.

Ouma strip haar moer

(Soos dit verskyn het op Hennie van Deventer se blog)

Praat van ’n ouma wat haar “moer gestrip” het en in die verbeelding duik prentjies op van tantes met ’n gevaarlike voorkoms wat slaangoed soos knuppels, koekrollers, sambrele met skerp punte en besemstokke woes swaai terwyl ’n stroom onplesierighede deurentyd deur dun lippe gesis word.

Vele variante van moerige oumas kom in my ervaring (sowel as waarnemer as, helaas, slagoffer) voor. Die wapen van botte stilte gekoppel met ’n verpletterende kyk van afkeuring is, sonder om gesinsgeheime uit te lap, vir my nie vreemd nie.

Sondag in Rapport is ’n ander vorm van ’n ouma se gebrek aan ingenomendheid weerspieël.

Marié Heese gryp die wapen van die rapier-pen en klim oor sy uitsprake wat haar nie aanstaan nie met druppende sarkasme en skaars verborge minagting in onder die jeugdige professor “Peertjie de Vos” van Ikeys, wat sy mond vol het ook oor Afrikaans op Stellenbosch.

“Hoekom moet ek stilbly as ek betig en beledig word deur ’n akademiese liggewig wat nie eens sy werkwoorde kan regkry as hy beterweterig in Engels probeer skryf nie? (‘Taalbulle’ argues… sic),” stoom sy.

Hoekom inderdaad, ouma Marié! Nee wat, sê die kêreltjie, “tells him his fortune”!

Kwaai oumas kan soms verrassend/ontnugterend kreatief hul wrewel uitleef. Uit Australië, dink ek, kom die storie van die ouma wat ’n skietding uitgedolwe het en die orgaan van ’n kleinkind se vryer vol lood gepomp het (lood in sy potlood!). Uit die Wes-Rand is ’n slag gerapporteer van ’n ouma wat langs ’n rugbywedstryd tussen kannetjies so gefrustreerd geraak het dat sy toe die fluitjie uit die verpotte skeidsregter se hand pluk en skril in sy oor blaas. Die drommel, “arm man se Bryce Lawrence”, as’t ware, is inderhaas met ’n gebarste oortrom na ’n oor-, neus- en keelarts gejaag en die wedstryd is as onvoltooid in die rekordboeke aangeteken.

’n Inspirerende storie oor ’n ouma vol woema het my oudkollega by Beeld, Piet Muller, ’n keer in sy rubriek Flitslig in ’n generasie gelede se Rapport vertel. Ek het hom gegaps vir my destydse boekie met koerantstories, Flaters en kraters.

Piet het vertel: Die ouma was nooit baie ingenome met die kêrel nie. Sy’t gedink hy is ’n tang en dat haar kleindogter veel beter verdien. Toe die dogter op ’n dag huil-huil by die huis aankom (oor ’n ietwat roeke­lose grensverskuiwing in sy inwyding van haar in avontuurlike seks of iets, dink ek) was ouma op die daad die bliksem in.

Sy het op haar Harley-Davidson gespring en brullend na sy huis gejaag. Die vryer het op sy beurt al van ver af die dreigende Harley hoor aankom en, wyslik, onder die bed gaan wegkruip.

Sy huismense wou nog mooipraat, maar die ouma het die voordeur oopgeskop, die kerendes uit die pad geveeg en die verskrikte ventjie met die jeukende toerusting onder sy bed opgespoor. Toe pluk sy hom aan sy hak­skene uit, dop hom net daar om en gee hom die pak van sy lewe.

Alles natuurlik met gepaste kommentaar in gevatte Afrikaans, deurspek met die soort woorde wat omgekrapte gemeentelede gebruik as dominee nie in die nabyheid is nie. Hy sou nie sommer weer te voor op die wa raak voordat Ouma onder die kluite is nie!

Dan het ek ’n vae rekolleksie van ’n ouma wat, onder die wanindruk dat haar motortjie in ’n stedelike parkade gekaap word, die wettige eienaars van ’n soortgelyke model oorval, vervaard uit hul ryding geboender en skarrelend te voet op die vlug laat slaan het. Ek is die laaste ou wat die vergeldingskapasiteit van ’n veronregte ouma sal onderskat, maar dit wil-wil darem vir hierdie ou net-net na ’n te vergesogte storie klink!

Hennie van Deventer is ’n oudredakteur en ’n voormalige uitvoerende hoof: koerante van Naspers.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
10 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Nuutste Hanlie Retief-kommentaar

frikkie.botes sê... Die ANC is n terroriste org met al hulle lede wat gewetenloos is en geen respek vir ander het nie, dit is in hulle oer ou gene geplant. hulle is soos oerdiere, net die bome verlaat en klere begin dra. Ons mense aan die anderkant is 6000 jaar gelede geskep deur YHWH, en YHWH se gebod aan ons is ons moet die met hulle meng nie.Punt Lees die storie...

Weather
Lottery
Cpt: 10-21°C Sunny. Mild. Pta: 7-18°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 4-15°C Mostly sunny. Quite Cool. Bloem: 1-18°C Sunny. Cool.
Dbn: 12-24°C Sunny. Mild. PE: 13-22°C Morning clouds. Mild.
7 day forecasts...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

AUDI

A4 2.0 TDi Dsl 103kW MY05
2005
R 165,995.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

7'' gobii LCD e-leser met kleur

Nou slegs R899

Sluit in e-boek geskenkbewys ter waarde van R160, swart omslag en USB muur laaier. Aanbod eindig 27 Mei 2012. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
There are new stories on the homepage. Click here to see them.