Hanlie gesels met Pieter Cilliers
2011-03-05 18:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ses jaar gelede het Pieter Cilliers ’n Hamlet-oomblik gehad.
Die geweldige reaksie op sy baanbrekerboek, ’n Kas is vir klere (1997), het tot persoonlike blootstelling en ’n intense debat oor gays in die Afrikaanse kerke gelei wat dié oudpredikant en veelbekroonde vervaardiger van kyk-NET se Kwela nie voorsien het nie.
Pieter het kruisvaarder geword vir die aanvaarding van gays in ons kerke. Oortuig van die saak, minder oortuig van sy rol. En dit lei hom toe tot die ewige keuse van “to be, or not to be”, van aksie of onttrekking, van swaard of klooster.
Toe kies hy die klooster.
“Ek moes myself weer vind en iewers weer balans kry. Ek het gedink ek hét nou my deel gedoen, nou kan ek terugstaan. Dit was ’n doelbewuste besluit om heeltemal uit die debat en media-kollig te tree.”
Maar ses jaar is ’n lang tyd.
Dit het aan hom begin knaag: Is mens vry om jou aan ’n gesprek te onttrek wat jy aan die gang gesit het? Kan jy eerlik bly leef in die “not to be”?
Sy volgende Hamlet-oomblik is deur veral twee dinge ingelui. Die eerste was ’n aanhaling in ’n brief wat die sielkundige Jean du Plessis aan Pieter geskryf het. Dit kom uit die Talmoed: “Daar word nie van jou verwag om die taak te voltooi nie, maar terselfdertyd mag jy jou ook nie daarvan onttrek nie.”
Die ander ding was die briewe.
Met elke herdruk van sy boek het hulle ingestroom – hartverskeurende briewe van gewone mense wat worstel met hul seksualiteit, briewe vol hartseer en eensaamheid en bitterheid.
’n Ma wie se kind hy destyds in Bothaville gedoop het: “Min het ek daardie oggend van 7 November 1976 geweet, toe ek daar voor jou staan, dat dit ’n gay predikant is wat besig is om ’n gay seuntjie te doop.”
Die gay onderwyser: “Op 33 het ek my vriend, kinders in die klas en op die sportveld, my werk, my stem, my menswees en God verloor.”
Naderhand kon hy dié stemme nie langer ignoreer nie. Die briewe was ’n weerspieëling van jare se worsteling – binne homself, binne die kerk, binne die wyer samelewing – wat uitgesê moes word. Om stil te bly sou versaking wees.
En so het Soeker ontstaan, Pieter se nuwe boek wat vandeesmaand by Protea Boekhuis verskyn. In dieselfde band verskyn ’n heruitgawe van Kas.
Ons gesels in Mila, ’n restaurantjie in die Eikestad. Die Kaap is na aan dié Gautenger se hart, en sy huis teen die berg by Onrusrivier, met sy hout en glas en klippaadjie, is ’n wegkomplek.
In die slotparagraaf van ’n Kas is vir klere, skryf Pieter: Ek het uiteindelik geweet wie ek was – ’n vier-en-veertigjarige wit, gay, Christen, Afrikaner. Niks meer nie, niks minder nie.
Veertien jaar later, op hierdie vroeë Saterdagoggend met die die geure van ontbyt en koffie wat om ons terg, kyk hy my vas in die oë en sê:
“As ek dit vandag moet verwoord, as ek regtig eerlik moet wees, sal ek dit só stel:
“Ek weet uiteindelik wie ek is – ’n nege-en-vyftigjarige wit, gay, Afrikaner. ’n Soeker. Niks meer nie, niks minder nie.”
Soeker.
“Dit begin met seksualiteit binne die kerk, maar dan word dit ’n worsteling met wyer vrae, geloofsvrae, vrae oor spiritualiteit. Dit het my laat dink: Kan ek in openbare gesprekke sê ek wonder oor my geloof, ek wonder oor ’n bewuste bestaan ná die dood, ek wonder oor God, ek wonder oor báie dinge?
“Word dit nie ’n weerlig-afleier van dit waaroor dit gaan nie: die onvoorwaardelike aanvaarding van gays in die kerk? Sal die boodskapper nie gezap word omdat die boodskap ’n effense ander tweak gekry het nie?”
Hy was bang dat mense sou begin sê: Pieter Cilliers glo in elk geval nie meer nie, so hoekom sal ons ons enigsins steur aan sy gay-Christen-betoog?
Toe onttrek hy hom aan die debat, want hy wou nie oneerlik leef nie.
Maar die briewe wou nie weggaan nie.
In hulle het Pieter die mense se pyn ongefiltreer ervaar, die rou eerlikheid wat op daardie oomblik vasgevang is. Soos: As die kerk my verwerp, verwerp God my ook?
’n Sewentigjarige man het vir Pieter gesê hy gaan nou uit die kas klim. Toe Pieter hom vra maar hoekom nóú, dit dien geen praktiese doel meer nie, dit gaan sy familie net omkrap, antwoord hy: Ek wil nie oneerlik doodgaan nie.
Daar was ook briewe van ouers en grootouers van gays, van heteroseksuele wat met Pieter se worsteling met die kerk kon identifiseer. Daar was briewe van kerkleiers en teregwysers. Briewe wat seermaak, kwaad maak, bly maak.
“Die ondertoon was deurgaans soekend. Soeke na aanvaarding, na ’n plek om te behoort, na openheid, eerlikheid, ’n inklusiewe God, sinvolle verhoudings, antwoorde op andersheid.”
Soekers.
Ook wyer tendense het uitgekom, soos die wêreldwye swaai na fundamentalisme en homofobie.
“In 38 van die 52 Afrikalande word homoseksuele krimineel vervolg. In die kuberruim word gays op wrede wyses ge-out, met traumatiese gevolge soos die paar selfmoorde laas jaar in Amerika. Die viktimisering van gay tieners is deesdae selfs erger in skole, met Facebook, MXit en Twitter wat hul kwesbaarheid verhoog. Ons leef in ’n era van kuberboelies.”
Die briewe wys ook die desperaatheid van mans wat met vroue trou omdat die kerk dit as oplossing vir hul “probleem” beskou.
“Ek het twee briewe van gay predikante wat dié trou-pad geloop het. In die proses word die selfhaat net verder gevoed. Wat die kerk nie verreken nie, is die lyding van die vrou en gesin.”
Met die fliek Brokeback Mountain het ’n tydskrif Pieter destyds gevra om iets te skryf oor homoseksuele wat trou. “Ek het begin, maar kón nie. Dit sou my emosioneel na ’n plek geneem het waar ek net nie sou kon uitkom nie. Ek kon dit nou uiteindelik in my boek doen.”
Mark le Roux, finalejaar-teologiestudent op Tukkies, se verhaal is byna ’n eggo van Pieter s’n: plattelandse grootwordjare, geroepenheid om predikant te word in die Hervormde Kerk. Gay.
“Al wat hy wil doen, is om ’n predikant in die kerk te wees, maar sonder om oneerlik te wees oor sy seksualiteit. Hy wil graag trou met ’n man, ’n kind aanneem. Ek dink Mark is die volgende persoon wat die hele gesprek verder gaan vat.”
Die boek skilder ’n veel wyer wêreld as dié van homoseksuele, van gemarginaliseerdes. Dis ’n boek vir mense wat soek, wat vrae vra, vir wie die sekerhede min geword het.
Hy plaas ook die roerende groetbrief van dr. Willem de Klerk net voor sy afsterwe, waarin De Klerk soveel van homself blootlê: “By terugblik sou ek nie anders wou gelewe het nie. Tog: Ek sou meer wou geniet het van die son en die spel en die leeglê en die gewoon gesellige menswees…”
Dis vir Pieter een van die mooiste briewe in die boek. “Dit dwing ’n mens tot stilstand en laat jou voorraad opneem van jou eie lewe. Ons het saam by praatjies opgetree, en daaruit het ’n besondere verhouding tussen ons ontwikkel. Hy was radikaal inklusief in sy denke, mensch in die ware sin van die woord.”
Op 16 Maart gaan Pieter sy boek op uitnodiging amptelik in Tukkies se Senaatsaal bekend stel. Daar, op sy ou kampus, dink hy, gaan die sirkel nou voltooi word.
In sy studentejare was hy intens bewus van sy andersheid, bang dat ander mense sy geheim sou agterkom. Al was hy op elke moontlike komitee, was sy selfbeeld en selfvertroue aan flarde. “Vol selfhaat… Ek het selfs ’n psigiater gaan sien en elektriese skokbehandeling gehad. Alles wat in daardie jare vir my gesê is, het my laat verstaan dat ek nié oukei is nie.”
Hy het grootgeword in ’n middelklashuis in Rustenburg, deel van ’n liefdevolle gesin, met ’n pa wat gereeld saam met hom gaan visvang het. Op hoërskool was hy keer op keer gekys…
’n Doodgewone skoolseun – “jy kon ek gewees het” – maar verskrik oor sy gevoelens vir Andries, die blonde atleet.
Dis nie iets wat hy gesoek het nie, dit het net gebeur.
Dit het jare geneem vir Pieter om by selfaanvaarding uit te kom. Met die skryf van ’n Kas is vir klere het hy gedink alles is afgehandel, hy’s daardeur. “Maar dit werk nie so nie. As jy vir die wêreld sê hier is ek, ontvlam ou littekens, dan is al daai gevoelens van ‘ek is boos en sleg’ weer terug.”
Anders as met die eerste boek, is Pieter dié keer voorbereid op die reaksie.
Drie sprekers gaan die verhoog in die Senaatsaal met hom deel, proff. Andries van Aarde (“Soekend in kerk en samelewing”) en Yolanda Dreyer (“Marginalisasie en vrouwees”), asook dr. Allan Boesak (“Marginalisasie en swart bewussyn”). In die Afrikaanse kerke was daar tradisioneel drie pilare van uitsluiting: Vroue. Swart mense. Gays.
Die eerste twee het nou al getuimel. Maar gays, sê Pieter, klop nog, tevergeefs.
Sy donker oë wat vir hom destyds so verskrik en hartseer in ’n skooljaarboek gelyk het, is nou stil, kalm hier voor my.
Hy het grappenderwys vir sy ma gesê as die boek verskyn, kan hy maar doodgaan.
“My roeping was miskien toe nie om predikant te wees nie, maar om my verhaal te vertel, om te wys dat daar niks aaklig, lelik, demonies of wat ook al aan gays is nie.
“Ons is gewone mense met gewone verhale.”
Niks meer nie, en niks minder nie.
* Pieter Cilliers tree op Dinsdag 8 Maart om 15:00 by die Woordfees (Boeketent) in Stellenbosch op.
DINGE & GUNSTELINGE
Kos: Skulpvis.
Drinkgoed: Sauvignon blanc.
Tydverdryf: Lees.
Die laaste boek wat jy gelees het? Kurdo Baksi se biografie getiteld Stieg Larsson, My Friend.
Wat lê op die oomblik op jou bedkassie? Tony Blair se outobiografie, A Journey.
Watter flieks sal jou nog lank bybly?Brokeback Mountain omdat dit so met my gal gewerk het; Little Miss Sunshine omdat dit my so hard en aanhoudend laat lag het.
Suid-Afrikaanse skilder: Sal nie omgee om Irma Stern, William Kentridge of Marlene Dumas teen die muur te hê nie. Dit is nie net mooi op die oog nie, dis ook uitstekende beleggings.
TV-programme: Grootliks nie-fiksie. Die gebeure in Noord-Afrika is tans kompulsiewe kykstof op CNN. Geniet ook goeie werklikheidsreekse soos Top Chef en veral Britse geselsprogramme.
Rolmodel? Desmond Tutu.
Waaraan jy ’n broertjie dood het: Onverdraagsaamheid.
Wat laat jou altyd glimlag? Die funnies in Kwela se jaarlikse amateur-videokompetisie.
Waar skop jy graag jou skoene uit?
By my huis in Onrus.
- Rapport