Hanlie gesels met Rassie Erasmus
2012-01-14 13:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Rassie sit op die breë stoep van sy huis in Eversdal, Bellville. Hy vryf sy ou hond, Hägar, se kop en kyk uit oor die blou swembadwater op die onderste terras. Hy sê dit nie, maar jy sien dit in hierdie oud-flank se oë, jy hoor dit in sy stem: Vier jaar by WP-rugby was meer as genoeg.
Sy skok-bedanking die afgelope week as direkteur van afrigting by dié chronies beleërde unie het meer vrae as antwoorde in rugbygeledere gelaat.
“Ons Kapenaars is passievol, maar ons is genadeloos. Vra vir Gert Smal, Kobus van der Merwe, Matt Proudfoot, Robbie Fleck. Niemand hou dit lank hier uit nie. Dis die unie wat die vinnigste deur afrigters gaan.”
Hy skud sy kop.
“Selfs Nick Mallett, wat eintlik nooit hier wou weggaan nie, kon dit nie uithou nie. En hy’s nie eens een van die sogenaamde inkommers (nie-Kapenaars) nie.”
Die allergrootste taak in die Kaap, sê Rassie, is om die rugby-politiek te hanteer. “Jy vat dit, jy vat dit, maar vier jaar later word jy een oggend wakker en sê: ‘Dis rêrig tough en ek het genoeg gehad.’
“Ek sê nie die politiek moet waai nie, maar dis nou die volgende ou se beurt om dit te hanteer. Ek wys ook nie vinger na die Kaapse opset nie. Dis hoe dit is.”
Hoekom ís die WP so ’n kookpot?
“Weet jy, almal het goeie bedoelings. Die feit is die WP het 86 klubs teenoor die Vrystaat se vyf. Daai 86 klubs beheer die storie; elkeen het sy eie klub-agenda.”
En die rugstekery vir poste?
Hy huiwer. “Laat ek liewer nie in dáárdie politiek ingaan nie. Dis maar een van die moeilik hanteerbare dinge in die WP. Dis hoekom ek voel iemand in my pos moet nou eerder bestuurs- as rugbykennis hê.”
Hy haal sy skouers op. Liggies. Net liggies.
Sê: “Al die rugbystrukture is nou in posisie. Dis nie ’n swak vleuel wat ons ’n beker gaan kos nie, dis eerder ’n administratiewe ou met ’n agenda.”
Vir “daai politieke goed” is Rassie nie meer lus nie. Om dit sag te stel.
“Ek hóú nie daarvan nie. Ek’s nie goed daarmee nie. Ek’s goed om ’n lynstaan of ontledingstelsel uit te werk.”
Die tydsberekening van sy bedanking – twee weke voor die aankondiging van die nuwe Bok-afrigter – kon nie meer strategies gewees het nie, word gesê. Nes in sy dae as kookwater-flank laat Rassie die speelveld vir hom wawyd oop.
Maar weet hy dalk iets wat ons nie weet nie? Druk Saru al sakekaartjies met sy naam op?
Hy grinnik, daar in die stoepstoel. Streep-T-hemp, oë warmbruin, krulhare in toom, honde om sy voete. “Eendag, sou ek goed genoeg wees, sal ek bitter graag die Bokke wil afrig. Maar ’n Bok-coach moenie te jonk wees nie. Vra vir Mallett en Harry Viljoen: Jy vat jou loopbaan moeilik verder. Rondom 50 het jy die ervaring om die mense en veral die politiek rondom die spel te hanteer. Hier (by die WP) het ek my lesse terdeë geleer.”
Die kersie op die koek, sê rugby-ouens, sal wees as Rassie ’n soortgelyke pos by Saru kry as sy een by WP.
Dit sou “fantasties” wees, erken hy, maar hy sal in die tou moet staan vir so ’n gesogte Saru-pos en hy wil allermins sy dienste in die media adverteer, keer hy versigtig.
“Daar was nog geen kontak tussen my en Saru nie.”
Hy sê dit nie, maar sy lyftaal is pure energie. Dis mos sy kos: om te help bou aan nuwe strukture, ’n nuwe span. Toe die Cheetah-base ná sy twee Curriebeker-wenners in 2007 vir hom gesê het Super-15 is te groot aas vir so ’n klein unie, het Rassie immers sy planne en drome opgepak en Kaap toe gevat.
Sy bydrae en ontledings by die afgelope Wêreldbeker as die Bokke se tegniese raadgewer is wyd raakgesien.
“Ek gaan jok as ek sê dit was nie vir my ’n ongelooflike ervaring om weer saam met daai topspelers te werk nie. Ek het baie geleer.
“Ek sien die ouens sê Peter (de Villiers) het ons nie baie toegelaat nie, maar dis onwaar. As ons ses maande vroeër betrokke geraak het, sou ons soveel meer kon doen.
Met die laaste wedstryd was ons op ons kruin. Ek het gister weer na die stats gekyk. Ons het soveel verbeter ná daai swak eerste (Drienasies-) game teen Australië. Die ‘kwaai’ plan wat ons by Rustenburg uitgewerk het, was toe wragtie ’n sukses. Ek’s weg van daai Wêreldbeker-toernooi met groot tevredenheid, al was dit hartseer.”
Nog altyd ’n man met ’n plan. Altyd die Rassie-faktor.
Hy lag. “Ek lááik sulke goed.”
Die voorlopers tans in die wedloop om Bok-afrigter, Gert Smal en Heyneke Meyer, is al twee ouens saam met wie hy oorlog toe sal gaan, sê Rassie.
“Ek het saam met Gert onder Jake White gewerk; ek ken sy hardwerk-etiek, sy streng dissipline. Heyneke kan ’n span byeenbring en motiveer. Allister Coetzee behoort ook groot in die run te wees; hy was immers 2011 se top-afrigter.”
Die glimlag raak onnutsig. “En is Peter nie dalk nog in die wedloop nie?”
Dan bel Frikkie Erasmus, sy “beste pêl”, met die laaste reëlings voordat hulle die volgende dag Frankryk toe vlieg om Rassie se sagtewareprogram aan ’n paar klubs te gaan bemark.
“Ek gaan ook met ouens daar praat oor werkgeleenthede.”
En néé, lag hy, hy’t nie al 20 aanbiedinge soos Jake White destyds nie.
“Daar’s ’n paar opsies, maar geen aanbod nie.”
Hy’s opgewonde oor sy afrigtingsprogram. “Dis ’n interaktiewe hulpmiddel waar die spelers hul selfone aan ’n projektor koppel en volgens hul nommers deelneem, byna soos ’n rekenaarspeletjie. Ons het dit met groot sukses by die Wêreldbeker-toernooi gebruik.”
Rassie hoop Suid-Afrika begin nou die wêreldleiding neem in afrigtingmetodes en ontledingstelsels. “Ons moenie net Australië en Nieu-Seeland volg nie. Die Bulls het hul manier van doen, die Sharks hulle s’n; almal hou hul kaarte styf teen hul bors. Dis tyd dat ons begin deel, dat die wêreld kan sê: Dís hoe die Suid-Afrikaners dit doen.”
En as iemand dit kan doen, is dit Rassie met sy rugbybrein, sê ’n sportskrywer. “Hy dink buite die boks; hy volg nie ander afrigters nie. Hy verras altyd.”
Verrassende Rassie.
Soos daai disko-ligte destyds op die Vrystaat-stadion se dak... Mense vra hom nou nog op straat daaroor, lag hy.
Hy word beskou as ’n bietjie van ’n enigmatiese randfiguur wat wegskram van openbare druk. Hom sal jy nooit ná ’n wedstryd in die kleedkamer kry nie. (“Dis die coach se plek; ’n ou gaan swaai nie net lyf rond oor jy soort van die baas is nie.”) Hy’s al selfs tydens ’n groot wedstryd in ’n ander losie as die WP-unie s’n opgemerk.
Mense dink hy het weggehardloop deur die WP-afrigterspos aan Allister Coetzee af te staan, sê Rassie. “Dat ek die openbare druk nie meer kon vat nie.
“Maar as hoofafrigter het ek tot 70% van my werksure daaraan bestee om met die media te praat en die politiek reg te hou. Jy kom nie by afrigting uit nie.
“Allister was die regte ou om die beste uit die span te haal. En dis al waaroor dit gaan. Ons is steeds súlke pelle,” wys hy met gekruisde vingers.
Rugby was nog altyd ’n anker in sy lewe. “Behalwe vir my godsdiens en my gesin, ja. Die tweeling is nou in gr.?2 en klein Jani agt maande. Sy’s so ’n soliede enetjie; ek hoop gewigstoot raak professioneel!”
In sy Despatch-laerskooldae is hy soggens vróég skool toe vir ’n bietjie balskop voordat die klok lui.
“Rugby, rugby...” Sy pa, ’n top-amptenaar by binnelandse sake, is dood toe Rassie 18 was. “Hy’t ’n mindere rol in my lewe gespeel, maar my ma was altyd vir my daar.”
Haar man is ’n regte huisdier, vertel Rassie se verpleegsuster-vrou, Nikki. “As Rassie van ’n toer af terugkom, wil ek net uit en hy wil net bly. Dan lê hy op die bank en die kinders vryf sy voete. Dis maklik om hom happy te hou.”
Hy’s ’n “hengse private ou”, beaam Rassie. “Hier’s altyd maatjies van my kinders, my vrou se pêlle en die honde. Ek’s lief vir kuier, vir gholf saam met my pêlle, maar jy gaan my moeilik by ’n straatbraai kry. Mense dink dalk dis nors of windgat, maar dis rêrig nie so nie.”
Gister was hy en Nikki 14 jaar getroud. Sy onthou hom as so ’n skamerige army-outjie wat dink rugby is ’n propperse werk...
Hy onthou haar as “nie een vir aansit en grand hou nie. Ons twee pas; daar’s g’n truuks nie.”
Moeilike tye was daar ook. Van oorleef op haar verpleegsalaris in daai klein Bloemfontein-woonstel oorkant ’n besige bushalte. “En later, hier in die Kaap... As die span verloor, gaan jy nie Sondag kerk of Blouberg toe nie, want die omies gaan jou gas gee.”
Om openbare besit te wees. Om bemarking te doen. Om ’n handelsmerk te bou. Dis presies wat Rassie nié wil doen nie. Hy vermy die media, verkies om “onder die radar” te bly.
“Ek kry my kicks as dinge op die veld werk, nie deur ’n klop op die rug nie. En dis dit.”
By die uitstap vra ek hom watter rugbymense is sy mentors.
Die antwoord kom vinnig.
“Ek het by die Wêreldbeker-toernooi baie respek vir Fourie du Preez gekry. As hy praat, kan jy maar luister.
“Schalk Burger lyk so happy go lucky, maar hy dink ongelooflik na oor die game.
“Wat afrigters betref, beslis Nick Mallett. Ek het ook baie by André Markgraaf geleer.”
Daar’s baie wat dit ook van Rassie Erasmus sê.
Meesterstrateeg. Enigmatiese, verrassende Rassie.
