Hanlie gesels met Rudi Claase
2011-11-26 15:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Bel my, Corlea. Kry my by KFC of waar ookal, jou Liefling wag vir jou oproep. Ek’s nogsteeds hier. Ék het nooit weggehardloop nie. Moenie net verdwyn nie, moenie daar eenkant sit soos Jackie Onassis met ‘n sonbril en bolla op jou kop nie!
“Kom sê vir my: ‘dude, dít pla my’. Dan praat ons, soos ons tweetjies van die begin af moes gepraat het…”
Dink jou in, daar in Menlyn se KFC: Ons Lieflinge snoesig aan’t herenig bo-oor krummelboudjies en borsies. En voor jy kan sê vingerleklekker, verkoop nóg ‘n kwartmiljoen CD’s…
So. Hier sit hy nou. Die Prince Charming van Ligte Afrikaanse Musiek in sy feng shui-kasteel iewers in Mooikloof, Pretoria, iewers tussen seuntjie-stout en opgewonde.
Hy’t ‘n geheim om met die wêreld te deel. Die troebadoer wil sy troebel hart uitstort. Vir die eerste keer. Eksklusief.
“Dis vir my só belangrik om te praat vandag, vir die eerste keer gaan ek rêrig sê wat gesê moet word.”
Sy oë raak mistig.
“As Corlea nóú hier instap, oe, hier sal ‘n gehuil wees, dit belowe ek jou! Sy’s my maatjie, my beste-beste maatjie.”
Nou hoekom bel hy nie vir háár nie?
“Ek het al probeer…”
Toe klap sy hom met ‘n prokureursbrief.
Onder daai yl Gable-snorretjie trek sy sensitiewe mond skoon eina, ‘n liefling verwerp.
“Dis so moeilik. Jy sit met massiewe dolke in jou rug, maar aan die ander kant sal sy my liefling bly tot die dag dat ek doodgaan, ongeag van wat ek sê of doen, want in my hart weet ek dis ‘n feit.”
The first cut is the deepest, maar daai laaste dolk was die séérste? Die Dag van die Balju? Toe haar ma en pa hom hier in sy éie oprit kom staan en uitlag het?
Dáároor praat Rudi nie. Te seer, sê hy.
Hy kyk by die venster uit, sy oë far far away.
Vir hom hang daar ‘n “massiewe wolk van wanbegrip” bo Corlea se “skielik wegruk.” Daar was tussen hulle nie sóveel fout nie, wys hy duim teen wysvinger.
Dis sweerlik haar ouers, die Bothas, wat haar teen hom kom vergiftig het. “Dit moet wees, want die Corlea met wie ek al dertien jaar ‘n pad stap, sal dit nooit aan my doen nie. Ouer-indoktrinasie, ek sê jou. Corlea is nie meer Corlea nie.”
En als oor daai nare Mammon-dude. Geld.
Hy skuif hom dieper in tussen die ontwerperskussings, tussen fluisteringe van wetherlys & weylandts.
Dit het ‘n “issue” geraak toe Corlea-hulle begin reken het haar sny van die Lieflinge-geldkoek is té skraps, dink hy. “Maar onthou wie’t die konsep gehad, wie skryf die songs, ag skat, ek het tot vir die kind gesê wat om aan te trek!”
Maar het hy en Corlea nie een aand saam op die mat, met pizza en rooiwyn, die Lieflinge-konsep uitgedink nie – rokke, romanse en die res?
“Alles was my idee. Daarvoor vat ek 110 duisend persent krediet. Corlea het gehelp liedjies kies, dis al. En as hulle iets anders sê, jok hulle.”
Hulle sing dalk 50-50 op die verhoog, maar aan die sake-kant lyk dinge anders. “Ek’s ‘n platebaas, bo alles. Corlea was bloot my kunstenaar, ek’s haar label. As die platebaas saam met jou sing, maak dit jou nie meer as net ‘n kunstenaar van Jewel Music BK nie.”
Tot die dag dat sy weg is, het Corlea elke sent gekry wat haar toegekom het, sê Rudi. “Ek sal jou die boeke wys.”
Nou hoekom moes sy tien maande smeek – én ‘n hofbevel kry – om die “boeke” te sien?
“Dit gaan oor die beginsel. Sy’t nie insae in Jewel Music nodig nie. Dis so goed jy werk by Pick ’n Pay en soek die maatskappystate as jy jou payslip kry.”
Hulle’t al meer as R1-miljoen aan regskoste opgedok. Nou dagvaar hulle vir Corlea vir R8-miljoen, weens ‘n verlies aan verkope. “Sy’t nooit haar kontrak (wat einde 2011 verstryk) met ons gekanselleer nie. Toe gaan maak sy ‘n CD by EMI… dis bedrog.”
So vlieg die modder. En die dolke.
Maar ai, daar bly vir hom so ‘n “incompleteness” sonder Corlea, sug Rudi.
Elke kéér as hy verby die drie dubbelplatinumplate in sy studio loop en hy sien hulle tweetjies daarop, hoor hy vir ‘n oomblik, Drooo-ooome… “En ek dink: wat doen die universe, hoekom wil sy haarself en vir my so seermaak?
“Of Corlea dit wil face of nie, sy kan op soveel covers smaail, daai gesiggie opsit, soveel nuwe rokkies dra soos sy wil… sy weet nés ek weet: ons het mekaar nodig.”
Ons óók, smag hul duisende aanhangers. Lees Rudi-hulle nie die webblaaie nie? Toe dit laasnaweek bekend word Rudi en Liefling Nommer 2 (Zita Pretorius) ‘skaal ernstig af’, toe kreet ‘n golf fêns regoor die land: Kom weer bymekaar Rudi & Corlea, los jul nonsens! Sebliéf!
“Sjoe my skat, hulle gaan aan, né!” bruis Rudi.
Mense het hom al Maartmaand gebel en R500 000 aangebied dat Lieflinge vir oulaas, al is dit net ‘n uur lank, optree.
Sug. “Dis so massive waste dat ons nie bymekaar is nie.”
Van twee weghol-suksesjare tot niks.
En baby dit maak seer?
“Yes!”
Die Lieflinge-geldstroom slaat dalk nou ‘n él nino, maar hier in Royal Chalice-straat, langs Naas Botha-hulle, is die leefstyl nog pure SLK-klas. Langs daai platkar (nommerplaat Jewel01) wag twee quadbikes onder die afdak, torso-beelde lei jou die paadjie op, oor die koi-dam se bruggie voordeur toe. En dan wag binne…
Dis Rudi se eggenoot wat sake tussen die Lieflinge kom versuur het, kla die mense.
Hulle frons in stereo.
“Stephen het my uit die gutters kom haal! My oë oopgemaak. My gewys ek’s eintlik ‘n miljoenêr. Gesê: ‘Oubaas, moenie slaap nie, die mense trap op jou, kyk na jou geld.’”
Maar ja, Corlea wás effens jaloers… “nee, nie jaloers nie, um,” soek hy die regte woord, “eerder bietjie bedreig deur Stephen.
“Onthou, as mens beste maatjies is en een raak involved met iemand anders, word dit bietjie van ‘n probleem. Ek sou ook so gevoel het as sy by iemand betrokke geraak het. Dis maar ‘n maatjie-maatjieding… moeilik.”
Drie vroue in ‘n kombuis wérk nie, soos ‘n aanhanger kla?
Hy giggel. “Verstáán jy!”
As hy en Corlea saam is, is hulle in hul eie wêreldjie. “Niemand kan daar penetreer nie, ons is rêrig twee maltrappe wat lag vir die simpelste belaglikhede, twee kunsmense. En skielik kom hierdie mens wat ook aandag van my vat.”
En was Stephen jaloers as Rudi vir Corlea vasdruk in ‘n smeulende liefdesballade?
Nêwwer. “Hy weet presies wat sy vir my was.”
Aan drama is daar by Rudi ook nêwwer ‘n tekort. Toe die volk uitvind sy hart behoort nie aan Corlea nie, hy’s eintlik verloof aan ‘n outjie, het hy hom – bloubedruk – vir dae lank saam met Beethoven in sy kamer gaan toesluit.
“Onthou gou-gou, ons bly in ’n baie eng land. Ek het dit nie weggesteek nie, net stilgehou, gaan kyk op al my TV-onderhoude, ek dra ‘n verloofring. Hulle het net nooit gevra nie.”
Rudi en Stephen se soektog na ‘n vars Liefling was omtrent ‘n petalje. Hulle’t het by die 800 aansoeke gekry. “Van daai meisies kan nie eens hallo sê op noot nie, hoor.”
Daar’s pakkies by hul hek afgegee, hulle’s in winkelsentrums voorgekeer. “Tannies het tot aangebied om gewig op te tel om soos Corlea te wees, hulle’t gedink dis deel van die triek,” lag Stephen.
Toe word Zita Pretorius die Nuwe Liefling. Jip, knik Rudi. “Maar Rudi & Zita is nie Rudi & Corlea nie, almal weet dit nou.”
Intussen vaar Corlea glad nie sleg op háár eie nie?
Sy wenkbrou lig ‘n aks.
“Nié? Verkoop daai CD? Dit wil my voorkom dis nie eintlik massive nie,” waag hy versigtig. “En dan maak dit nie saak of jy met Patrizio of Steve of Brandon October sing nie. Dit beteken niks, skat.”
Rudi het in Vereeniging grootgeword. “Ek’t so blonde kuifie gehad. Al waarin ek belang gestel het, was musiek. Sit die radio aan, maak die deur toe en ek sal net daar bly.”
Op skool het ander seuntjies he-man-mannetjies gehad, hy het Puccini gehad. Hy giggel. “Ek verstaan nie open the gates nie, maar ek verstaan tolletjiebrei!”
Gaywees was vir hom altyd “te volksvreemd”, tot hy aan homself beken het: “Oukei boetie, jy kan nou vir jouself sit en jok tot Woensdag, maar dit gaan niks verander nie.”
Sy macho-pa kon die fyne Rudi – “slapkuifie en al” – glad nie verstaan nie. Maar toe kom daar ‘n ommekeer. “In 2002 het my pa hom met ‘n .303 deur die gesig geskiet. Daar’s stories van selfmoord, maar ek weet nie. Ek het als gesien en begin hardloop, skreeuend en kaalvoet in my pajamas, vyf kilometer ver.”
Sy pa is vandag onaansienlik geskend, sê hy sag, maar iéts goeds het hieruit gekom: hulle twee “connect” nou.
Dié trauma het Rudi ‘n oordosis pille laat drink, vertel hy. “My oom het ook selfmoord gepleeg. Soos ek, was hy bipolêr. Maar dit was my laaste selfmoord-episode, dit gaan deesdae baie beter met my,” sê hy en knipoog vir Stephen. “Ons tweetjies boer lekker saam, al bel ‘n tabloid élke Vrydag met stories dat ons huweliksprobleme het!”
Later poseer Rudi vir ‘n foto by die mooi houttrap, hand skuins, oë dromerig, so troukaartjie-gevoel.
Hoor ek hom neurie, daar by trap? Sal jy my nog net een maal sê dat ek als is wat jy wil hê-ê-ê. Dis ek en jy nou… ek onthou.
Onthou jy Corlea?
Ek wag, Corlea. Ek wag by die foo---oon…