Hanlie gesels met Vernon Philander
2011-12-03 14:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
TUSSEN al die krieketbekers en toekennings in Bonny Philander se voorkamer in 7de Laan Ravensmead, is ‘n klein fototjie.
Skaars twee jaar oud, staan Vernon daar met ‘n tamatiekisplankie, reg om te kolf. Voete geplant langs mekaar, lyfie vorentoe, woeste frons.
‘n Kannetjie met houding, sien jy.
Vier-en-twintig jaar later, hier voor my in skelgeel tekkies in sy ma se leunstoel, agterkop teen die hekellappie, is dié naatbouler lááánkal nie meer ‘n kannetjie nie.
Sy bynaam? Die Pro. Sy houding? Wel, vra daai klomp oorblufte Aussie-kolwers hoe’t daai Houding hulle een vir een uitgeboul.
Ai, dié Vernon, sê Bonny Philander trots terwyl sy vir ons yskoue lemoensap aandra. “Hy kon nie vir ‘n bétere toetsdebuut gevra het nie. 7de Laan is trots op ons klong. Die kinders ‘Vernon’, ‘Vernon’ hom heeldag!” lag sy.
Vernon is as speler van die afgelope toetsreeks teen Australië aangewys ná hy 14 paaltjies platgetrek het in sy eerste twee toetse. Nie sleg nie vir ‘n ou oor wie almal gewonder het wat maak hy in die Protea-span…
“Ek was nog altyd iemand wat mense dubbel en tríppel verkeerd bewys,” sê hy.
Seker die lekkerste oomblikke in die hele toetsreeks was die kere toe hy Ricky Ponting uitgehaal het.
Hy en Ponting het mekaar bietjie getune in die opwarmingswedstryd, sê hy met so ‘n gelaaide glimlaggie.
“En toe ek hom uitkry, toe’s die outjie bietjie upset. Hy gooi toe maar sy toys en ek sê vir hom orraait, ons sal maar sien in die toetse. En toe boul ek hom wéér uit op Nuweland. Daai gevoel van ek-hét-jou, probeer maar weer annerdag.” Hy lyk so ingenome soos ‘n kat voor ‘n bak snoekkoppe.
Maar oukei, hy wás effens senuagtig vir die Aussies, erken Vernon. “Jy raak half opgevang in die oomblik. Maar ek’t nou al geleer om vir ‘n oomblik tussen balle af te skakel. Ek zone uit, lees gou ‘n advertensiebord, deel ‘n paar handtekeninge uit, breek my konsentrasie, daai óórfokus. En as ek weer moet boul, dan’s ek reg.”
Vernon het tans die beste boulgemiddelde (19.72) van alle boulers in eersterangse wêreldkrieket, met oor die 200 slagoffers.
Hy glimlag weer. “255 om presies te wees.”
Vir Sri Lanka wat nou hier hom toer, het hy klaar ‘n doepa uitgewerk. “Ek wág vir die groot ouens soos Dilshan.”
Vernon vou sy arms. Hy lyk so superkoel en nonchalant soos die James Bond-foto wat die Cobra-bestuurspan eenkeer as ‘n foefie op dinee-tafels gehad het. Daniel Craig se gesig is vervang met… Philander. Vernon Philander.
Strikdas wat loshang, rokende pistool in die hand, die gesig wat niks verklap nie.
The Pro. ‘n Man van min woorde.
Van 2008 af het iets met hierdie naatbouler gebeur wat hom op die wenpad geplaas het.
“Elke speler het maar sy eie roetine. Vir my is die sleutel dat ek die naat van die bal elke keer slaan as ek hom boul. Voor my aanloop, weet ek presies wat ek wil doen.
“Vroeër het ek op die merkie gestaan en besluit hoe ek wil boul, maar dan dink ek aan ander goed terwyl ek inhardloop. Nou’s daar niks anders in my kop nie.”
Drie jaar terug was sy lewe soos ‘n moeilike kolfblad. Met Mickey Arthur, sê hy, het hy nooit geweet waar hy staan nie.
“By Gary (Kirsten) weet elke speler presies waar hy inpas. Hy’s ‘n baie direkte ou, verstaan. Hy’t die game op die hoogste vlak gespeel, so hy verstaan die uitdagings.”
Om alles te kroon pos die Cobras-afrigter Shukri Conrad hom toe óók in 2008. Sonder rede, het dit vir Vernon gevoel. Behalwe dalk dat hy bietjie te groot vir sy skoene geraak het…
Hulle was pas terug van Indië, waar hulle vasgeval het in die Kampioene-trofee. “Dis maar net ‘n coach wat jammer gevoel het vir homself, toe dink hy hy moet een outjie drop.
“Mentally vat ‘n ou nogal ‘n knock. As jy pas uit die nasionale span gelaat is, dan’t jy jou provinsiale afrigter nodig om weer jou selfvertroue op te bou. Shukri het nie omgegee nie.”
Dan moet jy maar jou trots sluk en weer oor begin, sê hy met nog ‘n Bond-skouerophaal.
Dalk hét die vinnige roem destyds so bietjie na sy kop gegaan, knik hy. Grootmeneer naatbouler. Positief getoets vir die Herschelle Gibbs-virus…
Daai “rowwe patch” was net die doepa om hom weer aarde toe te bring.
Ja, sê ‘n fotograaf, mens sién dit deesdae aan Vernon. Ná hy die speler-van-die-reeks-toekenning ontvang het, het hy van die verhoog gestap en die laaities se hande gaan skud, gaan handtekeninge uitdeel. “Hy’t hom nie opstêrs gehou nie.”
In die toetsreeks het Kirsten baie vir Vernon se selfvertroue beteken. Sy raad aan hom: hou die eenvoudige dinge eenvoudig; wat tegniek betref, is internasionale krieket nie anders nie, maar dit tap jou kop.
Vyf dae van onverbiddelike konsentrasie…
“In ‘n vierdagwedstryd kan jy nog so bietjie rond-tos hier en daar, dis plaaslik, maar in internasionale krieket moet jy vyf dae lank uithaal en wys.”
Vernon speel al krieket van daai fototjie-dae af. Hul straat was gereeld in moordende kompetisies teen die ander Ravensmead-lane. 7de Laan teen 8ste Laan, 6de Laan, só het hulle mekaar opgekeil naweke in die parkie.
Elke middag was dit balgooi in die strate. Jy begin met ‘n tennisbal, vertel hy, en later draai jy die ding dan toe met sellotape om hom bietjie harder te maak. “Daai balletjie kan séérmaak, hoor!”
Sy heel eerste kolf was ‘n Duncan Fearnley, so ou enetjie, maar ‘n móói enetjie, lag hy. “‘n Omie hier in die pad af het hom vir my gegee. Hy’t vir my kom sê: ‘ek sien julle speel elke dag, so speel mannetjies, spéél.’”
Iewers in Ravensmead speel ‘n nuwe geslag mannetjies met daai einste Duncan Fearnley.
Dis eers op Hoërskool Ravensmead wat Vernon begin agterkom het “hier’s ‘n deurtjie aan’t oopgaan vir my”.
Vir die bendes het hy op laerskool al nee gesê. “Hierso het ons maar sulke plastic-gangsters, outjies wat hulle sterk hou. Die bendebedrywighede begin eers vier, vyf strate daaikant toe”, beduie hy.
“Ek het ‘n paar vriende wat nou in daai lyn is, maar ek hou my daaruit. Seker maar oor ek krieket so geniet. Dis wat ek elke dag wil doen,” sê hy en die woorde streep so reguit soos ‘n naatbal.
Bonny, wat drie seunskinders as enkelouer grootgekry het, is ‘n diensbestuurder by die Kaapse lughawe. Vernon se jonger broer speel krieket vir die Tygerberg-klub. Haar pa was vir Vernon soos ‘n eie pa, sê sy. Oupa kyk maar liewer vir hom op TV, “want as Vernon weet hy kom Nuweland toe, wil hy sy heel beste gee, en dan doen hy die slegste.”
Bonny sal 10 November 2011, Vernon se toetsdebuut, nooit vergeet nie. “Ek het in gietende reën op Nuweland in trane gestaan en kyk hoe Vernon die veld opstap. Na al die jare se harde werk, al ons opofferings…” Die trane kom sommer weer.
Sy wys vir my ‘n foto van Vernon se meisie, Tracey Davids. Hy gaan al vyf, ses jaar uit met die mooi slimkop wat nou besig is met haar raadseksamens om ‘n geoktrooieerde rekenmeester te word.
Mmm, eendag gaan die tweetjies swém in die geld, terg ons.
Maar Vernie keer stroef: “Geld is darem nou nie die doel in die lewe nie. Jy moet maar net die lewe geniet, en as daar daagliks brood op die tafel is, is dit genoeg.”
As Vernon ‘n halwe kans kry, is hy iewers op ‘n wildplaas. “Maak nie saak waar nie, énige plek tussen wild.”
Die Britse The Telegraph sê daar’s iets van Ian Botham te siene in Vernon, iets in sy klassieke sywaartse aksie en die soepel gewrig waarmee die bal met mening uitgeswaai word. ‘It’s clear he has got something.’
Sterk woorde.
Maar hieraan steur die The Pro hom min. Hy hou nie daarvan om met ander spelers vergelyk te word nie. “Elke ou het sy eie styl.”
Ons staan buite. Gesels. Neem foto’s. Vaal sypaadjiesand warrel rond. Iewers uit ‘n huis borrel R & B-klanke. Bo ons koppe, jy kan hulle amper met ‘n krieketbal raakslaan, skeur die boeings elke paar minute verby.
Vernon staan arm om sy ma. Vertel hoe hy eintlik al die afgelope twee jaar kookwater-krieket speel, maar niemand het hom juis raakgesien nie. “Dis oor Mickey in beheer was,” hoor jy hom onderlangs brom.
Dan stap hy straat toe, en dis asof daardie fototjie in die sitkamer weer lewendig word. Dis dieselfde 7de Laan voor Bonny Philander se huis, maar 24 somers later: Vernon voor twee melkkratte vir paaltjies, hande om ‘n peperduur kolf, woes aan die frons…
Bo-oor die draadhek staan Bonny en ‘n paar bure en toekyk. Kyk, daar’s óns 7de Laan se Oppiekoffie, wys sy na die spaza-winkeltjie. Onderaan die straat is die Oumagrootjie-slaghuis, die bakkery, die haarkapper.
Ons kyk almal vir Vernon. Hy’t vir hom ‘n toekoms oopgeboul, verder, ánderkant hierdie laan.
“Maar sy roots,” sê ma Bonny sag, “nee, dié sal hy nooit vergeet nie.”