Hanlie Retief

Hoop vir 'n arm kind

2013-01-20 01:43

 Hoop. So rooiblink, so skerp soos ’n graadeentjie se splinternuwe HB-potlood.

Jy voel dit op die skoolterrein van Christel House in Ottery op die Kaapse Vlakte as die skoolhoof, Ronald Fortune, rondstap met ’n tou kleintjies agterna.

Meneer, meneer, roep hulle. Een glip sy handjie in syne.

Hoop. Want elke leerling hier is die armste van die armes.

Uit plakkershutte, sinkkaias, houthokke.

Trouens, dis ’n skoolvereiste: As jy in ’n huis bly, is jy te ryk vir Christel House.

En tog: Christel House se 2012-matriekklas het ’n slaag­syfer van 97% – 21% bo die nasionale gemiddelde.

So gaan dit jaar ná jaar, raak-raak aan 100%.

 Vir wiskunde, daai nasionale toffie, het Christel House ’n 84%-slaagsyfer, ’n volle 30% hoër as die nasionale syfer.

In atletiek wen hulle streekkompetisies.

Een leerling was selfs vir skerm na die Jeug- Olimpiese Spele.

Hier word ’n onwaarskynlike toekoms geskep vir meer as 700 kinders in ’n wêreld waar net hopeloosheid en daggaplante floreer.

Dié private skool wys: Onderwys in Suid-Afrika kán slaag.

“Dis dag 2 van die skooljaar en ons is voluit aan die gang,” groet Ronald Fortune.

Meer as dit: Hulle’t in die twee laaste, gewoonlik “dooie”, skoolweke ná die 2012-eindeksamen reeds met die 2013-kurrikulum begin.

En vanoggend vieruur het sy onnies al hul eerste e-posse uit die hoof se kantoor gekry.

Skoolhou vir arm kinders, beklemtoon hy, is nie business as usual nie. Sy wye glimlag wys hy wéét.

“Jy kan vir ’n arm kind skoolhou tot jy blou is, en jy sal heel waarskynlik nie veel regkry nie.

“Arm kinders moet anders hanteer word. Vra enige onderwyser: Wat’s jou grootste probleem? Onbetrokke ouers.” Dis arm kinders se lot – daardie fênsie woord: hulle is milieu-gestremd. Dis wat mens moet leer verstaan, sê Fortune.

Die siklus van armoede. Neem byvoorbeeld vir Martha, 16 en swanger.

Haar ma, Florrie, het haar verwag toe sy 19 was, en Martha se ouma (52) het vir Florrie gehad op 17.

So, wat wag op Martha se babadogtertjie? Diesêlle.

Dis mense vasgevang in ’n kultuur van armoede wat dieper gaan as net ’n gebrek aan geld: Dit word ’n lewenstyl, hulle aanváár die hopeloosheid van hul armoede.

En hulle dra dit oor aan hul kinders. Verduidelik Fortune.

“Ons kan min vir Martha doen, bitter min vir Florrie, en niks vir die ouma nie. Maar die babatjie, dis ’n ander storie.

“Navorsing wys ’n kind se morele waardes en sy uitsien na die wêreld is reeds vasgelê op die ouderdom nege of tien. Ons werk teen daai dinge wat die ma aan die kind oorgedra het.

“Ons leer ’n kind: Moenie net aanvaar wat die lewe jou gee nie, staan op vir jouself. Ons bring drome in hul lewe, gee struktuur aan hul drome wat ’n ma nie meer doen nie.

“Hier’s leerders wat die eerste keer in die skoolbus oor die berg kom en die see sien, dan sê hulle hulle’s nou oorsee. Hulle weet nie van die wêreld daarbuite nie.”

Ho-lis-ties, beklemtoon For­tune, dis hoe mens onderwys in Suid-Afrika moet bedink.

Sy huidige matriekklas is die eerste Christel House-groep wat daar is van gr. 1 af, wat kon baat vind by twee volle etes ’n dag, aan tafel, met ’n mes en vurk.

“Vir baie kinders is dit al kos wat hulle kry.”

Daar’s ’n kliniek met twee verpleegsters, drie maatskaplike werkers, busvervoer.

Skool is tot smiddae halfvyf, sport is verpligtend.

“Interessant, in sport het ons kinders byna ’n killer instinct. Die vrywillige afrigters sê almal hulle sien by óns kinders ’n wil om te wen,” vertel hy trots.

Die wil wat hul ouers lankal verloor het.

’n Dekade gelede toe Christel House sy deure oopgemaak het, was daar weinig ouer-belangstelling.

“Hulle’t die plek so ’n kyk gegee: Wat’s dit dié. Dis tekenend van dié gemeenskap. Ons onderwysers moes ouers van huis tot huis oorreed. Nou kry ons honderde aansoeke.”

Sekere gemeenskappe se kinders is byna onredbaar. Pook-se-Bos, Bokmakierie.

“Jy kom amper nie vooruit met dié kinders nie. Van hulle slaap saans om ’n vuur. Hulle kom siek skool toe, daar’s luise, wit kolle op die kop. Bendes, dwelms, dagga in omtrent elke jaart. Kinders weet jy trap hom net om, wag tot hy droog word en dan rook jy hom.”

Dis ’n getuigskrif vir dié onderwysmetodiek dat Fortune-hulle drie Bokmakierie-kinders deur matriek kon kry – in daardie stadium boonop die enigste hoërskoolleerlinge in dié gemeenskap.

“Laas jaar het vyf van ons leerders, geklassifiseer as kognitief-gestrem, hul matriek geslaag. Fetale alkoholsindroom (FAS) is ’n groot probleem. Dis kinders met stil breine.”

Veral een so ’n kind het laas jaar Fortune se hart aangeraak.

Bonga. Hy bly in die Joe Slovo-plakkerskamp.

“Hy’s kognitief-gestrem. Klein gebou, klein oortjies, nou ogies, al die FAS-tekens. Eenkeer kry ek hom waar hy sit en huil. Ek sit hom in my kar en vat hom McDonald’s toe.

“En daar, toe stort hy alles wat in sy hart is, uit. Die omstandighede in die huis. Hoe bang hy is om matriek te druip. Alles.”

’n Big Mac, motivering en Bonga hét sy matriek gekry.

Dis vir al die Bongas dat dié oorgekwalifiseerde, nederige skoolhoof steeds aanhou. In die kantoor is ’n kas vol lêers met foto’s van elke leerling se blyplek.

Al is dit hoe klein, moet die ouers ’n leerplekkie vir hul kind voorsien.

“Só weet ons watter kinders nie ’n gaatjie het vir leer nie, en in eksamentye neem van ons onderwysers stil-stil dié kinders aan huis.”

Dis onderwys unplugged, dié.

Soos om te weet een mooi saalpraatjie oor seks gaan nie die mode van swanger op 16 omkeer nie.

“Dis ’n volgehoue poging.”

Voos gelees al in dié skool is Eric Jensen se Teaching with Poverty in Mind. Fortune gaan wys teen sy kantoormuur: pynlik netjiese kleurkaarte vir elke kind, elke vak, óók gedrag, óók karakter. Kinders word heeltyd gemonitor en in kleurkodes geplaas – van goud tot rooi (gevaarligte). Op dié manier word probleme betyds raakgesien en hanteer.

“Dis so maklik om ’n kind te verloor.”

En, voeg hy by, dis nie maklik om karakter te verander nie. Hy kom self uit ’n arm gemeenskap, gebore in Bonteheuwel, kaalvoet skool toe gestap.

“Ek is die tweede matrikulant in ’n uitgebreide familie en die heel eerste een wat ná skool gaan studeer het. Ek weet van armoede. Ek weet waardeur hierdie kinders gaan. Dis hoekom ek wil help. En ek sien die verskil,” sê hy en sy stem léwe.

Hier kan niemand onaangeraak bly nie. Soos vanoggend weer, toe staan een van sy uitblinker-matrieks voor sy deur en sê: Mister Fortune, daar’s niks kos in die huis nie... Hy wou nog altyd ’n onderwyser gewees het.

’n Wiskunde-onnie.

Die twee meestersgrade en skoolhoofdinge het maar agterna gekom.

Voorheen was hy hoof van ’n groot openbare skool.

Hy’t Christel House net een kyk gegee en gesê: Dis waar ek wil wees. Sonder die rompslomp van die staatsdiens, sonder Sadou.

Nie een van sy kollegas is vakbondlede nie; “dis hul reg, maar daar’s nie nodigheid nie”. Net maar: liefde vir die onderwys.

“Ek wil op ’n groot berg staan en afskree vir die onderwysdepartement: ‘Kinders moet in die skool wees, onderwysers moet klas gee.’ Ons mors soveel tyd.”

Hy bly net tien minute weg van sy skool.

Sy eie twee kinders gaan skool in Wynberg.

“Ek sou hulle graag hier wou laat skoolgaan, die skool bied soveel meer, maar ons is nie arm genoeg nie,” grinnik hy.

En begin lag.

Vertel van die gebruiklike oproepe van onderwysers na ouers: Jou kind sukkel met ’n vak, sal jy plan maak vir ekstra klasse?

“Hier by ons maak die skóól die plan.”

Die verval in die onderwys in Suid-Afrika bekommer hom.

“As jy terugkyk in die geskiedenis wás daar verpleegsters by skole, liggaamsopvoedingklasse, sport was belangrik.

Nou sien jy dikwels in arm gebiede hoe die skoolgeboue afgekordon word, met die sportvelde braak en vervalle daarbuite. So, die liggaamlike ontwikkeling van kinders bly agterweë.

“Skool word nou beperk tot nét onderrig. Maar wat van baláns? As ouers dit nie gee nie, hoe gaan die kind dit kry?”

Hy glo, soos Jensen, dat die plig dan by die skool lê. Hier, sê hy, gaan dit nie net om matriek te slaag nie.

Dit gaan om ’n lewe te kry. Die skool het ’n werkstudie-program vir kinders tot vyf jaar ná matriek.

’n Personeellid help heeltyds om studente in universiteite te plaas en te monitor.

“As hulle teruggly, neem ons hulle terug in die skool, gee hulle ’n werkie, help om hulle weer op pad te kry.

“Ons het groot sukses, 96% van ons oud-matrikulante werk of studeer.”

Jy sien hom in die kantoor met sy viltpenne, fronsend oor die rooi kommerkolle op sy kleurkaarte.

Jy sien hom in die klaskamers, op die skoolterrein soos ’n begeesterde Robin Wil­liams in Dead Poets Society.

“Is dit nie maar wat ’n onderwyser behoort te doen nie? Ons is nie alles nie, nie ’n sielkundige nie, nie ’n ma nie, maar ons kyk na hulle asof hulle ons eie kinders is.”

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
10 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 17-24°C Sunny. Mild. Pta: 11-26°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 10-21°C Sunny. Mild. Bfn: 8-25°C Mostly sunny. Mild.
Dbn: 17-28°C More sun than clouds. Warm. PE: 15-22°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!